Optimisme op die lande: Nege jong boere, een titel
Francois Rossouw, was op 26 November aangewys as die nasionale Toyota SA/ Agri SA Jongboer van die Jaar 2025!
Oorspronklike artikel (gepubliseer 3 November 2025) volg onderstaande:
Die optimisme en gehalte van energieke, innoverende jongboere in Suid-Afrika is ’n gerusstelling dat ons land se kosmandjie in bekwame hande is.
Die beoordeling van Toyota SA/Agri SA se provinsiale Jongboer van die Jaar 2025-kandidate gaan geen maklike taak wees nie. Die nasionale span besoek al nege provinsiale wenners voordat die algehele wenner op 26 November in Gauteng aangekondig en gevier word.
Van ’n papegaaiteler tot ’n presisie-suiwelprodusent en van bewaringslandbou tot herlewingslandbou – die 2025-finaliste verteenwoordig die volle omvang van Suid-Afrikaanse landbou.
Marko Grobler (Limpopo) baan die weg met die wettige teel en uitvoer van African Grey-papegaaie, terwyl Gerrit Maritz (Gauteng) uitblink met braaihoenders. In die vrugtebedryf staan Francois Rossouw (Wes-Kaap) met tafeldruiwe en André Kritzinger (Oos-Kaap) met sagte- en steenvrugte asook stoetbeeste uit. Op sy beurt kombineer Tienie Prinsloo (Vrystaat) suksesvol pekanneute met Beefmaster-beeste. Die veebedryf word sterk verteenwoordig deur Hendy-Hein Mathews (Mpumalanga), Stephan Becker (Noord-Kaap) en William Harvey (Noordwes), terwyl Dale Hutton (KwaZulu-Natal) ’n data-gedrewe suiwelboer is.
Hierdie nege jong leiers staan aan die voorpunt van veerkragtigheid en samewerking. Hulle gee terselfdertyd nuwe momentum aan volhoubare groei en kennisdeling in die sektor.
FRANCOIS ROSSOUW, tafeldruifprodusent van die Wes-Kaap
Francois Rossouw boer saam met sy familie op Mooigezicht Estates in die Hexriviervallei, waar hulle op 400 ha verskeie tafeldruifkultivars verbou. Hy bestuur ongeveer die helfte van die plaas se produksie, insluitend chemiese programme, water- en personeelbestuur, asook strategiese beplanning. Met ’n honneursgraad in landbou-ekonomie van die Universiteit Stellenbosch kombineer hy teorie en praktyk om volhoubare, winsgewende boerdery te bevorder.
“Ek het as produksiebestuurder begin. Aanvanklik was dit uitdagend, maar ek het baie geleer deur voltyds betrokke te wees. Dit het my goedgedoen om onder te begin en prakties te verstaan wat elke produksieverantwoordelikheid behels,” vertel Francois.
Hy benut gevorderde tegnologie vir water-, kunsmis- en spuitbestuur. Francois glo presisieboerdery en die bestuur van mense gaan hand aan hand, daarom beklemtoon hy dit as ’n kernfaktor in druiweproduksie. Sy vrou, Jean-Mari, dra by tot die maatskaplike ontwikkeling van plaaswerkers. Die plaas se verskeidenheid kultivars help om risiko te versprei en marktoegang te verleng. Francois se doel is om deur innovasie en kennisdeling ’n vooruitstrewende, volhoubare tafeldruifbedryf te help bou wat internasionaal mededingend bly.

Francois en Jean-Mari Rossouw. (Foto: grondtotmond)
TIENIE PRINSLOO, pekanneut- en veeprodusent van die Vrystaat
In ’n wêreld wat vinnige resultate jaag, plant Tienie Prinsloo, van Loomar Boerdery naby Hoopstad, pekanneute – bome wat eers ná jare begin dra; en hy beplan sy Beefmaster-stoet se genetika – vee wat ook eers jare later beoordeel kan word. So bou hy geduldig aan ’n nalatenskap vir toekomstige geslagte.
Tienie se liefde vir boerdery kan wel dadelik gesien word. Terwyl die pekanneutboorde vir ’n inkomste sorg, verskaf sy Beefmaster-stoet hom die meeste plesier. Hy het ook onlangs suikerbone en verskeie groentesoorte by die boerdery gevoeg. Sy oortuiging dat ’n produsent nuuskierig en oopkop moet wees oor verandering en uitdagings, dryf hierdie diversifisering.
Hy glo sterk in spanwerk en morele ondersteuning om die boerderygemeenskap in die Vrystaat te versterk. “Jy moenie net vir jouself boer nie, jy moet vir groter as dit boer. Ons is hier vir mekaar, ons is rentmeesters vir ’n kort tydjie. Ek wil hê my kinders moet daardie waardes besef, dat hulle ’n verantwoordelikheid het teenoor die geslagte voor hulle, en dié wat ná hulle gaan kom.”

Tienie en Annelien Prinsloo met hul kinders. (Foto: Verskaf)
SKAKEL: Waar Beefmasters bulk en pekanneute groei, droom ’n jongboer nog groter – GWK ECE
ANDRÉ KRITZINGER, vee- en vrugteprodusent van die Oos-Kaap
André Kritzinger van Tulpieskraal Boerdery in die Langkloof is die agtste geslag Kritzinger op dié familieplaas en bestuur ’n gediversifiseerde boerdery. Sy oorlede pa het die plaas vanaf ’n groente- en kleinveeboerdery omskep na ’n vrugteboerdery. Hoewel die vrugteboorde steeds die hoofvertakking op Tulpieskraal is, bestuur André ook twee stoeterye – Boran en Wagyu.
André het ’n passie vir volhoubare groei. Hy vervang elke jaar ’n gedeelte van die plaas en haal boorde uit wat nie meer goeie produksiesyfers lewer nie. Hy vervang dit met nuwe kultivars wat in die area aard en beter opbrengste lewer. Al hierdie nuwe boorde word ook met nuwe tegnologie in gedagte aangeplant.
“Ek wil graag nog groei en beter stelsels in plek hê sodat ons nóg doeltreffender kan boer. Ek stel baie belang in meganisasie. Ek wil soveel moontlik van die grond benut om winsgewend én volhoubaar te kan boer.”

André en Inge Kritzinger. (Foto: Verskaf)
SKAKEL: Appelboer oes roem as Oos-Kaap se beste jongboer – GWK ECE
GERRIT MARITZ, pluimveeprodusent van Gauteng
Die pluimveebedryf se vaandel word gedra deur Gerrit Maritz van Gauteng, wat uitblink met sy Brandvlei Chickens naby Tarlton. Hy bestuur saam met sy vrou, Mignon, ’n indrukwekkende braaihoenderboerdery wat 600 000 hoenders per 45-dae-siklus produseer – sowat 4,8 miljoen per jaar. Die 100 ha-boerdery, wat vier jaar gelede begin is, toon buitengewone groei ondanks vroeër uitdagings soos beurtkrag en voëlgriep. Maritz, met 14 jaar ondervinding in die bedryf, glo in presisieboerdery en het moderne energie- en hittebestuurstelsels soos kragopwekkers, sonkrag en ketels geïmplementeer om optimale groei te verseker.
Sy leuse weerspieël sy werksetiek en dryfkrag: “Elke dag later is geld in die water.”

Gerrit en Mignon Maritz. (Foto: Facebook/Agri Gauteng)
DALE HUTTON, suiwelprodusent van KwaZulu-Natal
Die Creighton-suiwelboer Dale Hutton bestuur ’n Kiwi-Cross-kudde en gebruik ’n satellietgebaseerde weidingsbestuurstelsel wat die druk op grasse, weidingspatrone en watergebruik in reële tyd naspoor. “Ons gebruik ’n maatskappy in Tasmanië genaamd Pasture.io, wat sowat drie keer per week ’n satelliet oor ons plaas stuur. Dit gee ons ’n duidelike prentjie van die algemene gesondheid van ons gras, wat uiters belangrik op ’n suiwelplaas is,” sê hy oor sy innoverende, databestuursbenadering tot volhoubare suiwelproduksie.
Sy plaas maak gebruik van sonenergie, digitale grondvogproewe, en ’n geslote watersiklusstelsel wat afvalwater van die suiwel hergebruik vir mielie- en kikoejoe. Gelei deur die filosofie “jy kan nie bestuur wat jy nie kan meet nie,” beklemtoon Hutton presisie, beplanning en optimalisering.
Saam met sy vrou, Roxy, bestuur hy ook die Fat Cow Creamery, ’n spesialis-roomysonderneming, asook die lewering van melk aan die Creighton Valley Cheese Company.
Ten spyte van die uitdagings in die Suid-Afrikaanse landbou, sê Hutton hy bly toegewyd aan die bedryf. “Ek het al 18 lande besoek en nog nooit ’n plek gevind waar ek eerder sou wou werk en woon as Suid-Afrika nie,” voeg hy by. Hy bly verbind tot die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou deur innovasie, leierskap en gemeenskapswaardes te kombineer om ’n volhoubare nalatenskap te bou.

Dale en Roxy Hutton met hul kinders. (Foto: Facebook/Roxy Hutton)
MARKO GROBLER, papegaaiteler en -uitvoerder van Limpopo
Marko Grobler fokus op volhoubare bewaring deur die wettige teel en uitvoer van African Grey-papegaaie. Wat as ’n kinderlike liefde vir diere begin het, het gegroei tot Lowveld Parrot Breeders (LPB) – ’n internasionaal erkende boerdery wat volhoubare bewaring deur wettige handel bevorder. “Ek wil hê mense moet verstaan: elke papegaai wat ek wettig in aanhouding teel en uitvoer, is een minder wat uit die natuur gehaal hoef te word,” sê hy. “Dis volhoubare bewaring deur wettige handel.”
As CITES (Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flora) Staande Komiteelid werk hy saam met owerhede om die bedryf eties te bestuur. Sy sukses lê in tegnologiese innovasie – van genetika-bestuur en naspoorbaarheid tot moderne inkubasiestelsels. Buiten papegaaiboerdery verbou hy ook suikerbone en saadmielies. Grobler se filosofie is eenvoudig: navorsing, beplanning en geloof lei tot groei. Hy sien sy werk as ’n roeping – om ’n ikoniese spesie te bewaar, jong produsente te inspireer en te wys dat volhoubare boerdery en bewaring hand aan hand kan loop.

Marko Grobler (Foto: Verskaf)
Skakel: Toekenning ’n veertjie in Limpopo-jongboer se hoed – GWK ECE
HENDY-HEIN MATHEWS, kudde- en mede-melkerybestuurder van Mpumalanga
Al is hy deel van die vyfde geslag van ’n familie wat boer, het Hendy-Hein Mathews aanvanklik beplan om ’n ander rigting in te slaan.
“My vroeë herinneringe aan boerdery was nie baie rooskleurig nie. Wat ek van boerdery geweet en geleer het, was altyd gekoppel aan swaarkry en finansiële druk. Dit was altyd ’n gespook en ek het ’n negatiewe gevoel daarmee geassosieer. Ek het altyd gesê ek sal nooit boer nie. Tog het ek deurgaans my eie Afrikaner-kudde opgebou as stokperdjie en nooit gedink dit sou my loopbaan word nie. Mettertyd het ek besef dat landbou in my bloed is, en dat dit is wat ek wil doen.”
Ná ’n BSc- en honneursgraad in geografie en omgewingsbestuur het hy praktiese ervaring in veeboerdery opgedoen en uiteindelik by Jan Vos op die Janvos-landgoed naby Bethal aangesluit, waar hy al elf jaar werk. Hy bestuur ’n Boran-kudde, Holstein-melkery en vleismerino-skape. Die Holsteins floreer op die TMR-volvoerprogram, terwyl die Borans hul gehardheid en doeltreffende vleisomskakeling bewys.
Vir Hendy is volhoubaarheid, innovasie en menslike betrokkenheid kernbeginsels – hy glo dat sukses afhang van verantwoordelike werkers en ’n holistiese bestuursbenadering. Sy passie vir vee, veral beeste, dryf hom om voortdurend te verbeter en volhoubare, winsgewende boerdery te bevorder.

Hendy-Hein en sy vrou Carike Mathews. (Foto: grondtotmond)
WILLIAM HARVEY, beesprodusent van Noordwes
William Harvey is ’n beesprodusent van die Tlakgameng-distrik, naby Vryburg, waar hy boer met Bovelder-beeste, asook braaihoenders.
By Harvey Cattle Ranches fokus hy op volhoubare en doeltreffende produksie en streef daarna om genetika te verbeter en weidingstelsels te optimaliseer. Die boerdery lewer speenkalwers, slagbeeste en teeldiere vir die kommersiële mark. William beskryf boerdery as ’n lewenswyse en erfenis wat hy van sy pa, oupa en oom geërf het.
Saam met sy vrou, Reinette, het hy ook ’n organiese braaikuikenprojek begin om diversifikasie te bevorder.
Hy gee erkenning aan die Tlakgameng-gemeenskap vir hul ondersteuning en vir die waardes wat hulle hom geleer het. “Hierdie gemeenskap het my nie net geleer boer en tennis speel nie, maar ook hoe belangrik dit is om mekaar te ondersteun. Hulle sukses is my sukses,” het hy gesê. “Die sleutel lê daarin om mekaar te ondersteun, sterk verhoudings in die bedryf te bou, en deel te wees van studiegroepe en boereverenigings. Só groei ons almal saam.”

William en sy vrou Reinette Harvey met hul kinders. (Foto: Facebook/Reinette Harvey)
STEPHAN BECKER, veeprodusent van die Noord-Kaap
Vir Stephan Becker, van die plaas Smalhoek in die Kalahari, 110 km noordoos van Upington, gaan boerdery oor meer as wins – dit is rentmeesterskap en geloofsdiens. Sy droom is om met integriteit, verantwoordelikheid en liefde ’n lewende, gesonde Kalahari vir toekomstige geslagte na te laat.
As tweedegeslagprodusent het hy die plaas oorgeneem en herlewingslandbou geïmplementeer – ’n stelsel wat fokus op biodiversiteit, gesonde weidings en volhoubare produksie. Deur presiese weidingsopnames, rotasiebestuur en diere as natuurlike herstelagente, het hy die veld se dra-kapasiteit aansienlik verbeter. Stephan glo dat diere, grond en mens in vennootskap moet werk, en beskerm kleinwild en ekosisteme op die plaas.
Sy Dorperskape en beeste (Brahman-Branguskruising) is nie net vir produksie nie, sê hy, maar is die dryfkrag agter sy hele weidingsisteem. “Ek dink die beste besluit wat ek kon neem, is om weg te beweeg van konvensionele boerdery af na meer van ’n herlewingsbenadering toe – dit was die keerpunt wat alles verander het. Ek is nie teen konvensioneel nie – daar is plek daarvoor, maar herlewingslandbou het vir my ’n plafon gebreek – ek kan nou met meer diere op dieselfde grond boer.”

Stephan en Estelle Becker. (Foto: Verskaf)
SKAKEL: Noord-Kaapse Jongboer strééf, lééf integriteit op sy stukkie aarde – GWK ECE
Jong boere besef die belangrikheid van kennis- en vaardigheidsoordrag binne georganiseerde landbou, veral na die volgende geslag. Daarom is dit van groot waarde dat ons as jong produsente aan kompetisies soos dié kan deelneem – om mekaar te motiveer, te ondersteun en om idees oor moderne, innoverende benaderings te deel. Só bevorder ons volhoubare en winsgewende produksiepraktyke, en dra ons by tot ’n groeiende, mededingende en vooruitstrewende landbousektor wat wêreldwyd die pas kan aangee.









