Vars voorkoms en familiewaardes vir pekanbesigheid
Op 1 Oktober was die pekanbedryf se oë op Magogong, Hartswater, waar GWK Pecans die eerste been van sy reeks inligtingsessies aangebied het. Dié aand was wel meer as net ‘n terugblik op die afgelope seisoen, dit was die bekendstelling van ‘n nuwe hoofstuk vir die besigheid.
In 2024 het Suid-Afrika se totale pekanneutproduksie 37 157 metrieke ton behaal. Hiervan is 33 708 metrieke ton in-dop uitgevoer – meer as 90% van die oes, volgens die Produce Report. Hierdie produksievolume dui op ‘n dramatiese styging vanaf slegs 9 861 metrieke ton in 2014 – ‘n bykans viervoudige toename oor tien jaar, wat die bedryf se sterk opwaartse groeitrajek beklemtoon. In 2025 is ‘n rekord van 49 700 metrieke ton (in-dop) aangeteken teen die 38ste week van die seisoen.
‘n Maatskappy wat pekanprodusente plaaslik en internasionaal wil verteenwoordig, het geen ander keuse nie as om in pas te bly met hierdie groei en veranderinge. Soos die pekanbesigheid uitbrei na wêreldmarkte, is ‘n handelsmerk nodig wat plaaslik én internasionaal aanklink vind, terwyl dit steeds getrou bly aan sy Suid-Afrikaanse wortels: om ons mense – personeel, produsente, kliënte en vennote – na die hart van die besigheid te bring.
Ontwikkeling in tegnologie en veranderende omstandighede verskuif die fokus na die hier-en-nou behoeftes van rolspelers in die mark, maar die sukses in die bedryf lê uiteindelik opgesluit in die mense wat dit moontlik maak. Dít is die mening van die bestuur en aandeelhouers van GWK se pekanbesigheid, en ook deel van die motivering om dié besigheid se naam en voorkoms te verander.
Die besluit om die pekanneutmaatskappy se handelsmerk te hervestig het gevolg op ‘n voorstel wat die maatskappy se aandeelhouers tydens die Algemene Jaarvergadering (AJV) in 2024 ingedien het. Kort daarna is die proses van stapel gestuur en verskeie belangegroepe is betrek om hul insette en voorstelle te kry, insluitend personeel, aandeelhouers, kliënte en direksielede van die pekanneutmaatskappy. Fokusgroepbesprekings met produsente, gesprekke met verskaffers en vergaderings met internasionale kopers is ook gehou om ‘n deeglike begrip van die landskap te kry.
Die besluit het uiteindelik op ‘n paar basiese beginsels neergekom: om duidelikheid en verstaanbaarheid te verseker, om vertroue en verhoudinge te bou en te versterk, en die kern daarvan: ‘n handelsmerk wat op gedeelde gesinswaardes gebou is.
GWK Pecans se naam het daarom verander na The Pecan People – ‘n weerspieëling van waarvoor die besigheid staan en waarheen dit op pad is. Die nuwe kenteken se ontwerp bestaan uit die baie herkenbare vorm van ‘n pekanneut, die kern waarin die waarde van die neut opgesluit lê, en die Mandarynse woord vir “mense” (人).

Tydens sy toespraak het Neil de Klerk, GWK Streeksdirekteur, die dieper betekenis van die handelsmerk verduidelik. Volgens hom moet die pekanneutbesigheid op ‘n internasionale vlak kan meeding, en die naam en identiteit moet wêreldwyd ‘n tuiste vind – van China tot die VSA.
“PG Strauss, die besturende direkteur van die VKB Groep, het ‘n interessante opmerking gemaak oor hierdie besigheid. Hy het vir die span gesê as jy in hierdie bedryf wil wees, moet jy ernstig daaroor wees. Dit moenie iets wees wat jy net in ‘n spesifieke geografiese area bestuur nie. As jy in hierdie besigheid wil wees, bou ‘n internasionale besigheid met ‘n internasionale voetspoor wat regtig die besighede van ons kliënte kan ondersteun.
“Teen die agtergrond daarvan, is hierdie ‘n ongelooflike belangrike besigheid vir die VKB Groep. Dit is vir ons een van die top-prioriteite om in hierdie bedryf te wees en die regte oplossings in plek te sit. Die nuwe naam van ons besigheid moet in verskillende tale kan praat, maklik wees om uit te spreek, maklik om te onthou en met produsente se harte praat, asook ons familiewaardes omvat.
In a nutshell, family is built on values – the core beliefs and guiding principles that show us which way to grow.
Establishing and living by our values is water to the roots, keeping our family tree upright.
The fully grown tree is a symbol of years of nurturing. It carries the markings of our history and the promise of continuity. It keeps growing.
And within its protective shell sits our people’s pledge to you: quality, consistency, and trust.
We are The Pecan People.
‘n Betekenisvolle oomblik
Die reaksie op die nuwe handelsmerk was oorweldigend positief, met produsente wat die eenvoud van die naam, die simboliek van die identiteit en die fokus op mense waardeer.
Die program van hierdie inligtingsessie in Hartswater het ‘n stewige kombinasie van strategie en praktiese insigte gebied.
- ‘n Terugblik op die 2025-seisoen deur Wessel Cloete en Donovan Donaldson
- Tegniese insette deur Eugene le Roux
- ‘n SAPPA-opdatering deur Hardus du Toit
- Internasionale mark- en wisselkoersstrategie deur André Cilliers
- Vooruitsigte vir 2026 en die nuwe seisoen se strategiese planne
‘n Bedryf vol geleenthede én uitdagings
Wessel Cloete, besturende direkteur: The Pecan People, het ‘n omvattende oorsig gegee oor die 2025-seisoen asook wat produsente in die komende jare kan verwag. Hoewel die internasionale pekanmark steeds groei – van ‘n verwagte USD 950 miljoen in 2025 na USD 1,24 miljard teen 2030 – is daar uitdagings soos politieke en ekonomiese onsekerhede, soos invoerheffings, die wisselkoers en handelsoorloë tussen die VSA, China en Mexiko; klimaatsveranderinge; logistieke kwessies, veral vogverlies; en die soektog na nuwe markte.

Wessel Cloete, besturende direkteur van The Pecan People
Tog is die langtermynvooruitsig positief: Suid-Afrika se produksie groei jaarliks; China se moontlike zero-tarief vir 53 Afrikalande; ander neutvariëteite; ondersteuning deur die VKB Groep; The Pecan People se strategie fokus op premium kwaliteit, verbeterde diens en verhoudings, volhoubare markaandele, opgraderings van fasiliteite, ‘n nuwe verpakkingslyn in Hartswater, gevorderde graderingsfasiliteite, versterkte internasionale markontwikkeling en samewerking met SAPPA.
“Die nuwe handelsmerk sal binnekort in fases bekendgestel word oor verskeie platforms heen, insluitend verpakking en kommunikasie. The Pecan People is nie net ‘n handelsmerk nie – dit is ‘n gedeelde identiteit wat elke belanghebbende in ons waardeketting insluit.
“Ons sien daarna uit om saam onder hierdie nuwe vaandel te groei – gewortel in waardes en gefokus op ‘n toekoms vol moontlikhede,” het Cloete gesê.
Die boodskap van die nuwe handelsmerk, The Pecan People, is hierna op ‘n toer bekend gestel. Dit het op 1 Oktober 2025 in Magogong begin; was op 14 Oktober in Douglas; is op 16 Oktober tydens die maatskappy se 2025 AJV aan aandeelhouers voorgehou; is vandaar na Cradock op 28 Oktober; en het einde November in Upington afgesluit.
Die Magogong-inligtingsaand het reeds duidelik gewys dat die produsentegemeenskap hierdie reis ondersteun. Die aand is afgesluit met ‘n braai en gesellige kuier, asook ‘n duidelike gevoel dat produsente deel is van iets groter as net ‘n handelsmerkbekendstelling.













