Stories wat ‘n ‘koöperasie’ gebou het
Op 12 Februarie 1947 is Douglas Koöperasie gestig, aanvanklik net ‘n handelstak wat uit ‘n sinkskuur bestaan het. In 1953 word die lusernmeule aangekoop met die hulp van ‘n R20 000-lening. Die ongeluk tref toe ses motorvoertuie en vyf lusernskure afbrand op 14 Februarie 1963. In 1972 word die wynkelder gekoop, in 1984 word die silo geopen, in 1994 smelt Douglas Koöperasie en Prieska Vleiskoöperasie saam.
Storie ná storie ná storie word ons maatskappy se ryke geskiedenis gebou tot waar die besigheid vandag is: deel van ‘n Groep met ‘n nasionale voetspoor en sowat 7 000 werknemers.

Ons is dankbaar vir die mense wat seker gemaak het dat hierdie stories vertel word, dat ons agtergrond in woorde gemessel word om die fondament te vorm waarop GWK vandag stewig as deel van die groter VKB Groep staan. Ons is bly dat daar storievertellers was wat boekgehou het van die goeie én slegte tye wat ons gevorm het om nederig te bly in die maatskappy se sukses. Die Kommuniek-span sal voortgaan hiermee om seker te maak dat landboustories gehoor word.
Ons deel ‘n paar uittreksels uit die argiewe.
Wynpryse in 1996

Só het die wynpryse in 1996 gelyk.

Die Douglas Wynkelder, later Landzicht, word gebou (ongedateer).
Kommuniek-redakteursbrief: Coen Scheepers, 2001

Vyf….vier……drie….., twee……… Jaaaaaa!!! Dit is die groot sprong wat Kommuniek nou gespring het. Ja, inderdaad, so het die maandblad dan nou verander na ‘n waardige nuusblad. So is almal hier (en ek glo met my hele hart) saam met my opgewonde oor die nuwe baadjie en, moet ek dan nou rond-borstig sê, ‘n blink nuwe baadjie wat Kommuniek aangetrek het.
Die idee het maar begin op ‘n wankelrige, onsekere oomblik tussen papiere, rekenaar skerm en muis en skommelende gedagtes. Die skerm het lank spierwit geflikker, en die muis het “so stil soos ‘n regte muis” gesit. En toe… die groot oomblik! Die groot sprong. Ek hoop nie dat die oë toeknyp en vlinders in die maag alles verniet was nie en dat julle daarvan gaan hou, want Dr Kobus Neethling het op ‘n keer gesê: “Die enigste persoon wat hou van ‘n verandering, is ‘n baba met ‘n nat doek”.
Kommuniek is nie meer ‘n baba nie!!
Dankie dan ook aan Sonet wat Kommuniek vir ons gehelp speen het. Ons wens jou alle sukses toe in die toekoms.
Lekker lees!
Coen
*Lees ook Coen se 2026-boodskap hier.
Wat beïnvloed die brandstofprys? (2001)
Uittreksel uit artikel: Het u geweet? ‘n Oop venster terwyl jy bestuur veroorsaak ‘n trek, wat veroorsaak dat meer brandstof gebruik word. Tot soveel as 20% meer! ‘n Brandstof rekening van R100.00 per week, met ‘n besparing van 20% sit R20.00 per week terug in jou sak, of R80.00 per maand.

2003: SA moet help met Bek-en-Klou in Zim
Die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) het opnuut sy ernstige kommer uitgespreek oor die onbeheerde uitbreek van Bek-en-Klouseer in Zimbabwe. Die siening dat die siekte buite beheer is, word bevestig deur sy eweknie in daardie land, die Zimbabwe Cattle Producers’ Association.
Suid-Afrika se Minister van Landbou, me. Thoko Didiza, en ‘n afvaardiging, wat verteenwoordigers van Agri SA ingesluit het, het Zimbabwe onlangs besoek om onder meer voorstelle te bespreek vir hulp aan die land om die siekte te beveg.
Mnr. Gerhard Schutte, hoofbestuurder van die RPO, sê inligting tot hul beskikking dui op ‘n onmiddellike behoefte van 2,3 miljoen dosisse entstof. Die totale koste om diere oor die volgende twee jaar teen die siekte in te ent, sal ongeveer R185 miljoen beloop. Hy sê die RPO meen as die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, wat deur die vleisforum gevra is om hulp te verleen, nie sy weg oopsien om die probleme in Zimbabwe op te los nie, moet die Suid-Afrikaanse Regering hulp verleen. “As dit nie gedoen word nie, hou dit ‘n permanente risiko van die siekte vir Suid-Afrika in.”
Die SA Vleisbedryfmaatskappy (SAMIC) sê in die lig van die enorme koste om die uitbreking van die siekte in KwaZulu-Natal in 2001 onder beheer te bring, steun hy die stap. “Vleisuitvoer begin nou eers suksesvolle resultate oplewer. Nog ‘n uitbreking gaan Suid-Afrika weer ‘n jaar of twee terugsit,” sê mnr. Manie Booysen, hoof uitvoerende beampte van SAMIC.
Mnr. Schutte sê die RPO het ook met kommer kennis geneem van gerugte dat die Europese Unie (EU) die invoer van vleis uit Suid-Afrika wil beëindig weens die voorkoms van die siekte in Zimbabwe. As Namibië en Botswana se uitvoer na die EU ook beëindig sou word, beteken dit dat daardie lande se vleis hoofsaaklik in Suid-Afrika bemark sal word. “Dit sal ‘n drastiese verlaging in plaaslike produsentepryse meebring weens die verhoogde aanbod,” het hy gesê.
Die RPO het ‘n dringende vergadering aangevra met die veterinêre werkgroep van Agri SA se bedryfskamer en verteenwoordiges van die Departement van Landbou om die jongste uitbreking van Bek-en-Klouseer in Zimbabwe te bespreek.
Sake wat bespreek sal word is die oprigting en instandhouding van grensheinings, dat die weermag gevra word om sekere grensheinings te patrolleer en dat onwettige immigrante wat die landsgrense oorsteek, strenger beheer word. Die organisasie vra ook dat maatreëls opgeskerp sal word om die smokkel van wild, vee, vleis, huide, velle en ander dierlike produkte te verhoed.
Grondhervorming in 2004
Verdere grondbelasting is nie die antwoord vir grondhervorming
Graan SA het hul sterk uitgespreek teenoor die uitlatings van die adjunk-generaal van die Departement van Grondsake dat daar moontlik verdere belasting op grond geplaas kan word om só geld vir die regering se grondhervormingsproses te bekom.
“Die moontlikheid van ekstra belasting op grond om die proses van grondhervorming in die landbou te befonds, druis direk in teen die mees basiese ekonomiese beginsels wat die winsgewende en volhoubare graanproduksie bepaal,” het mnr. Bully Botma, voorsitter van Graan SA, in ‘n verklaring gesê.
Hy het voorgestel dat die totale belastingbasis van die ekonomie aangewend word om die grondhervormingsproses te versnel deur voldoende fondse uit die Staatskas vir dié doel beskikbaar te stel.
“Grond is soos kapitaal, arbeid en bestuur een van die mees basiese produksiefaktore wat in die landbou aangewend word om voedsel te produseer en ekonomiese groei te bevorder.
Daarom sal enige bykomende belasting op die produksiekant van die landbou vernietigende gevolge hê vir die landbou, landelike ontwikkeling en die ekonomie in die land as geheel.
Dit sal die vermoë van die landbou in die algemeen en die graanbedryf in besonder ernstig benadeel om nuwe toetreders te vestig en ekonomies te bemagtig.”
Volgens Botma is dit nou tyd dat die totale landbou ekonomies bemagtig word eerder as om verder te belas, om sodoende die bestaande produksiekapasiteit op grond van ekonomiese beginsels te beskerm en uit te bou, ten einde die uitdaging van suksesvolle grondhervorming prakties haalbaar te maak.
“Swart ekonomiese bemagtiging in die landbou sal ook net op basis van dié beginsels suksesvol wees.
Daarsonder sal hierdie doelwitte nie bereik word nie en eerder die teenoorgestelde resultate tot gevolg hê.”

‘n Kommuniek-advertensie vir GWK Handelsbedrywe in 2006
Besproeiing in 2007 (geskryf deur Orffer Müller)
Vervang spilpunte vroegtydig en voorkom verliese

Een van die verantwoordelikhede van ‘n eienaar of bestuurder van ‘n besigheid is om risiko te bestuur. Dieselfde geld ook in die landboubedryf. Hoe kan ‘n boer risikobestuur in landbou beheer? Die volgende is ‘n paar gedagtes:
- Die beskerming van bates teen abnormale gebeure, byvoorbeeld korttermynversekering op onder meer geboue, toerusting asook oesversekering.
- Beskerming van inkomstes byvoorbeeld om Safex te gebruik om minimum inkomstes te waarborg.
- Aanstel en opleiding van ‘n arbeidsmag om ‘n bestendige werksituasie te skep veral in krisistye.
- Diversifisering van inkomstebronne.
- Tydige vervanging van kapitaalbates byvoorbeeld van trekkers en spilpunte.
- Die vraag is hoekom boere redelik gemaklik hul trekkers en stropers vervang maar traag is om spilpunte te vervang.Met die verwagte hoë graanpryse, is dit juis nou die tyd om spilpunte te vervang – veral ook in die lig dat baie spilpunte nou al 20 jaar en ouer is. Gesien rakende risiko is dit nie so duur om ’n spilpunt betyds te vervang as wat dit in ‘n kritieke stadium van oes is nie. Vir die berekening van die voorbeeld, aanvaar ons die volgende gegewens:
- Alle pryse sluit BTW uit en ons aanvaar die inkomstebelastingkoers van 29%.
- Gebruik ‘n 40ha spilpunt met ses torings, maar neem die oorhang plus die senter as ‘n ekstra toring vir berekeningdoeleindes.
- Aanvaar as die spilpunt val is dit in ‘n kritieke stadium van die oes en die oesverlies is sowat 15%.
- By koring word 6,5 ton opbrengs geneem teen ‘n boerprys van R1 400.
- By mielies word 12 ton opbrengs geneem teen ‘n boerprys van R1 300.
- Aanvaar dat by die spilpunt wat vervang moet word, die spuitpakket in elk geval vervang moet word.
- Met ‘n ou spilpunt verg dit gedurig klein onderhoudswerk en dit kan sóveel tyd in beslag neem dat daar tydens ‘n hittegolf nie genoeg water neergesit word nie wat oeskostes tot gevolg het.Die oesverliese kan groter wees. Dit word bepaal deur hoe vinnig die spilpunt herstel kan word. Die volgende moet in ag geneem word:
- Is parte beskikbaar?
- Is ‘n kontrakteur beskikbaar?
- Die stadium van die oes en klimaatsfaktore.
Die vraag wat elke boer homself moet afvra is: dobbel ek nie met my toekoms om nie my spilpunte wat 20 jaar en ouer is te vervang nie?
Indien daar ‘n program is om spilpunte te vervang, kan behoorlike beplanning gedoen word en pryse kan beding word.

‘n Advertensie vir GWK Aartappels
Die Noord-Kaap Veldramprojek in 2009

Op die 24ste Noord-Kaap Veldramveiling wat in Griekwastad gehou is, het 215 ramme van verskillende kleinveerasse ‘n omset van R894 700 teen ‘n gemiddelde prys van R4 161 behaal.
Die hoogste prys van R27 000 is vir ‘n Van Rooy-ram met ‘n seleksie-indeks van 117 betaal. Die verkoper was Louis Botma van Griekwastad en die koper Kobus Botma van Griekwastad.
Die hoogste prys van R18 000 is betaal vir ‘n Savanna-bokram met ‘n seleksie-indeks van 112. Die trotse nuwe eienaar is John Dell van Grahamstad en die eienaar was Joe Scholtz van Ghaap Savannas by Griekwastad.
Johannes Human van Prieska het R12 500 uitgehaal vir ‘n Wit Dorperram met ‘n seleksie-indeks van 135. Die kopers was Bernard Loots en Jan du Preez van Douglas.
Die hoogste prys betaal vir ‘n Boerbokram met ‘n seleksie-indeks van 112 was R10 000. Die verkopers was Jaco, Egbert en Louis van Rensburg van Prieska.
Die koper was Christo Marais van Niekerkshoop. Michael Loubser van Marydale het die hoogste prys van R10 000 betaal vir ‘n Dorperram, met ‘n seleksie-indeks van 117 vir ‘n ram van Mickey Philips van Tarkastad.
Volgens die afslaers, GWK, het kopers weereens gewys dat hulle vir geneties meerwaardige diere bereid is om meer te betaal.
*Die doel van die veldramprojek is om potensiële teelramme onder normale veldtoestande so akkuraat moontlik te evalueer en dit aan produsente aan te bied met soveel inligting as moontlik tot ons beskikking. Dit gaan steeds voort, en in 2025 het die veilingsresultate só daar uitgesien:










