Waar Beefmasters bulk en pekanneute groei, droom ’n jongboer nog groter
“Ek is baie, baie bevoorreg om te kan boer, om so na aan ons Skepper in die natuur te werk en die skepping te kan beleef. Jy sien die Here se hand elke dag raak, en dit is die grootste voorreg van ’n boer.”
Tienie Prinsloo (36), van Loomar Boerdery naby Hoopstad, is tydens Vrystaat Landbou se kongres in Augustus in Bloemfontein as die provinsie se Jongboer van die Jaar vir 2025 aangewys. Hy boer al 15 jaar in die Hoopstad-distrik saam met sy pa – sy toonbeeld van veerkragtigheid.
Toespraak weerspieël ingesteldheid van wenner
Prinsloo het in sy toespraak ná sy benoeming sy familie, sy vrou, sy span en die samewerking tussen boere as redes vir sy sukses genoem. “Die sukses is nie net myne nie, daar is ’n groot span rondom my. Daar is soveel ander ouens wat ook suksesvol is.
“Ek staan dalk voor julle, maar ek verteenwoordig julle,” het hy gesê. “Dis ’n groot verantwoordelikheid wat ek nou het teenoor die Vrystaat se mense – lekker mense, plat-op-die-aarde mense.”
‘Dis seker hoekom ek dit so baie geniet’
Terwyl die pekanneutboorde vir ’n inkomste sorg, verskaf sy Beefmaster-stoet hom die meeste plesier. “Kalfseisoen is ’n ongelooflike opwindende tyd. Dit is die lekkerste belewenis om nuwe genetika te sien.
“Met ons embrioprogramme beplan jy omtrent ’n jaar lank daaraan. En as die kalf gebore word, is dit soms ’n jaar of twee se beplanning wat lewe kry. Dan gaan daardie diere eers twee of drie jaar later veiling toe. So, dis dikwels ’n vier jaar lange projek. Mense dink jy maak ’n bul en jy verkoop hom, maar dit behels verskriklik baie beplanning.
“Dis juis wanneer jy by genetika betrokke is, dat jy dink aan jou nalatenskap. Jy wil hê die dag wanneer jy hierdie aarde verlaat, moet selfs die beeste van die wêreld beter wees. Dis baie moeilik om dit reg te kry, dit gebeur nie net sommer nie. Dis ’n uitdaging en dis seker hoekom ek dit so baie geniet.”

Tienie bring tyd met sy kinders deur in die lande. (Foto verskaf/Annelien Prinsloo)
Hoekom suikerbone?
Prinsloo het onlangs ook suikerbone en verskeie groentesoorte by die boerdery gevoeg. Sy oortuiging dat ’n boer nuuskierig en oopkop moet wees oor verandering en uitdagings, dryf hierdie diversifisering. Hy sê jy moet kyk wat die beste finansiële impak op jou boerdery gaan hê. “En dis hoekom ek suikerbone probeer, want die somme lyk of dit gaan klop. En partykeer klop dit nie, dan probeer jy maar weer want daar is soveel veranderlikes wanneer jy iets plant.”
As dit kom by gesaaides, hou hy baie meer van plant as stroop. “Die fisieke plantdeel is vir my die lekkerste, want dis wanneer alles reg moet loop en dit bepaal eintlik die sukses van jou stroopseisoen.”

Tienie wys van die goeie eienskappe van sy Beefmaster-beeste aan sy seun uit. (Foto verskaf/Annelien Prinsloo)
Geduld met pekanneute
Pekanneutbome neem wel ’n dekade om reg te dra. Prinsloo se benadering tot hierdie langtermynbelegging is as ’n mens daarop fokus dat jou kinders definitief baie daarby gaan baat, dan druk jy maar deur daardie moeilike tye, wat eintlik vinnig verbyvlieg.
“Ek sê altyd vir ouens wat die eerste keer pekanneute wil plant, dat almal van ons iewers moedeloos raak. Dan moet jy maar net bietjie by my kom kuier in oestyd, of by ’n boer wat groot bome het – jy skep vinnig weer moed.”

Hande vol geduld. (Foto verskaf/Annelien Prinsloo)
‘Ons het net mekaar’
“Boere het lankal besef ons het net mekaar,” het Prinsloo ook in sy toespraak gesê. Dit is nie net leë woorde nie, maar die basiese beginsel wat die boerderygemeenskap in Hoopstad kenmerk.
Daar is ’n simbiotiese verhouding tussen die jonger en ouer geslag wat die gemeenskap help om vorentoe te beweeg. “In Hoopstad is ons almal entoesiasties en ons ondersteun mekaar,” sê hy. “Jy is so dankbaar as iemand sy hand opsteek om ’n verskil te maak, dat jy hom net wil ondersteun. Die ouer geslagte geniet dit om te sien hoe ons jonges dit doen en hulle motiveer en help ons waar hulle kan. Hul boeke en harte is oop om ons te help,” vertel hy.

Boere van die Hoopstad-distrik braai onder Tienie se pekanneutbome. (Foto: Facebook/Hoopstad Landbougenootskap)
Ons ‘groen toer’
“Net so gaan dit by ons boerevereniging ook. Ons boere het ’n ‘groen toer’ in Maartmaand. Ons is so 100 ouens, en elkeen mag ’n gas bring. Ons nooi soms ook ander boereverenigings om dit saam met ons te doen.
“Ons ry van die oggend 08:00 af rond na almal se suksesstories van die jaar. Daardie ou deel ál sy inligting want hy wil hê jy moet dit ook kan doen. En hy is nie ’n verkoopsman nie, hy is net ’n boer.
“Hy vertel jou hier het hy dit gespuit en daar het hy dat bewerk, of hoe hy diesel bespaar. Op daardie manier bou ons saam aan ons boerderygemeenskap.
“Aan die einde van die toer, braai ons hier by ons op die plaas onder die pekanneutbome.
“Ek wil amper sê dis aansteeklik, en dis wat hier op Hoopstad gebeur. Al dink ander ons is in kompetisie, is ons eintlik in dieselfde span. Dis ’n baie gesonde plek om te wees, om die ou langs jou sukses toe te wens. En hoe meer ons dit gaan doen en daarna gaan streef, hoe beter gaan dit raak.”

Hoopstad-boere ‘gooi mielies’ onder Tienie Prinsloo se pekanneutbome. (Foto: Facebook/Hoopstad Landbougenootskap)
’n Groot hart in ’n klein gemeenskap
Dit is hierdie samewerking wat Prinsloo glo die boerderygemeenskap in die Vrystaat sterk hou. Sy toewyding aan die Hoopstad-gemeenskap is opvallend. Hy is nie net aktief betrokke as voorsitter van die boerevereniging nie, maar ook as afrigter van ’n jong rugbyspan, en as geestelike leier is hy betrokke by jong katkisante.
Hy is meer as ’n boer – hy is iemand wat ander motiveer, mense help om van hul gawes bewus te word en hul potensiaal te help ontwikkel. Sy sukses is ’n direkte weerspieëling van die goed wat hy in ander raaksien.
Nie altyd oestyd en kalfseisoen nie
Mense besef egter nie noodwendig wat dit verg om in Suid-Afrika ’n boer te wees nie, sê hy. Dis nie altyd oestyd en kalfseisoen nie. “Boere moet waardeer word en het motivering nodig. Mense weet nie altyd wat hulle deurmaak nie en hoe moeilik dit is om weg te gaan as jou gesin op die plaas agterbly nie.”
Dit is maar een van talle uitdagings. “Mense moet besef dat dit nie net maanskyn en rose is nie, maar dat dit regtig in ons harte is om die land ’n beter plek te wil maak, om mense werk te gee, om ’n verskil te maak – ons harte is oop vir die land.”
Tienie en Annelien se sukses agter die wen
’n Boer se lewe is daarom dikwels ’n liefdestaak, en vir Tienie en sy vrou, Annelien, is hul sukses danksy hul vennootskap. Annelien is die hart van die boerdery se finansiële kant. Tienie is die eerste om erkenning aan haar te gee: “Ek het die beste boekhouer in die land. Wat beter is as dit, ek het die beste vrou in die land – en dis een persoon. Sy is my grootste ondersteuner en om dit te kroon, ook die ma van my kinders.”
Hy het ’n duidelike visie vir die toekoms en wil sy bestaande grond optimaal benut. “Distrikte verskil, maar ek glo baie sterk daaraan dat, as ’n ou kan, jy elke plaas wat jy het tot die maksimum probeer druk. Dat jy amper eerder vertikaal probeer uitbrei as horisontaal. So ek probeer elke liewe stukkie op my plaas benut en dit is wat ek met die pekanneute doen.”
Wat jy spreek, gebeur…
Sodoende kan hy volhoubaar groei en hoop hy om genoeg ruimte te skep vir meer as een gesin op dieselfde plaas, indien sy kinders ook eendag betrokke wil raak.
Hoewel hy nie sy kinders wil dwing om boerdery as loopbaan te kies nie, is dit vir hom nou ’n groot voorreg om hulle op die plaas te hê. Hy sê sonder twyfel dat as sy seun wil, hy eendag selfs ’n beter boer as hyself gaan wees. Hy beskou dit as een van sy lewensdoelwitte om só ’n keuse moontlik te maak. En wat jy spreek, gebeur …
Wat waardes betref, hoop hy om ’n positiewe, hardwerkende gesindheid by sy kinders in te boesem. “Jy moenie net vir jouself boer nie, jy moet vir groter as dit boer. Ons is hier vir mekaar, ons is rentmeesters vir ’n kort tydjie. Ek wil hê my kinders moet daardie waardes besef, dat hulle ’n verantwoordelikheid het teenoor die geslagte voor hulle, en dié wat ná hulle gaan kom.”
’n Leier vir die toekoms
Sy toekenning as Vrystaat se Jongboer van die Jaar is nie net ’n persoonlike prestasie en erkenning van sy vaardighede nie, maar ’n getuienis van die impak wat hy reeds op sy boerdery en gemeenskap maak, ook van sy passie vir die landboubedryf, sy visie vir die toekoms, en sy betrokkenheid in die gemeenskap van Hoopstad en die breër Vrystaat.
En die mooi hiervan is: Dit is net die begin. Tienie Prinsloo is nie net besig om sy boerdery uit te brei nie, maar met sy volhoubare sukses ’n nalatenskap in sy omgewing te help vestig wat toekomstige geslagte sal dra.








