Herlewingslandbou: Oorleef jy of floreer jy?
“Dit is ‘n bewese statistiek dat 70% van enige krisis binne ’n mens se beheer is,” sê PG Strauss, die VKB Groep se besturende direkteur.
Strauss het besoekers by Landbouweekblad se Herlewingslandboukonferensie op 3 en 4 Maart in Reitz verwelkom met ’n boodskap oor krisisbestuur. Hy het verwys na die voormalige Eerste Minister van die Verenigde Koninkryk (VK), Margaret Thatcher, se benadering tot ’n krisis.
“Die Falkland-oorlog in 1982 was vir die VK totaal onverwags en dit was stadig en moeilik om inligting te bekom. Die eerste menslike reaksie op só ‘n krisis is om in angstigheid te reageer. Thatcher het begin deur te verstaan wat sy weet en wat nié, en waaroor sy beheer het en waaroor nié. In landbou kom ons voor krisisse te staan, soos die huidige bek-en-klouseer krisis. Ons moet eerstens die risiko aanspreek, dan kan ons kompeterendheid en gevolglik volhoubaarheid vestig om uiteindelik vooruitgang te verseker.”

PG Strauss het gaste by Landbouweekblad se Herlewingslandboukonferensie verwelkom
Strauss se boodskap het die toon van die konferensie – om te navigeer deur die uitdagings en geleenthede wat landbou bied sodat ons kan floreer eerder as net oorleef – vasgelê.
“Almal het mekaar nodig”
Hy het verder gesê dat die maatskappy se betrokkenheid by dié konferensie gewortel is in die wete dat almal in landbou mekaar nodig het. Hierdie bande strek oor grense, met Maximillan Berger, raadgewer vir landbousake van die Duitse ambassade in Suid-Afrika, wat die konferensie vir die tweede keer bygewoon het en Duitsland se steun aan volhoubare boerderypraktyke onderstreep. Die konferensie is deel van Duitsland se klimaatgespreksessies en Berger sê dat die aantal besoekers wat gereis het om die dae by te woon, die erns van die kwessie beklemtoon.
“Die wisselvallige reënvalpatrone is een bewys van klimaatverandering en dit is belangrik dat ons ons grond beskerm,” sê Berger. “Suid-Afrikaanse boere het ‘n leiersrol in die wêreld hiervoor ingeneem. Selfs in die Europese Unie, waar landbou grootliks gesubsidieer word, word dit as minder belangrik geag – ‘n ‘gemaklike’ posisie word daaroor ingeneem. Suid-Afrikaanse landbouers, wat op wêreldmarkte meeding maar meer uitdagings trotseer, sien dit as noodsaaklik.”
Hy sê wat hom die meeste beïndruk, is die moed van Suid-Afrikaanse boere om groot bedrae geld te spandeer op die herskommeling van hulle produksiestelsels om langtermynvoordeligheid te bewerkstellig.
Herlewingslandbou beproef
Die Riemland-studiegroep, ‘n groep jongboere van Reitz en omliggende areas, is 18 jaar gelede gebore uit ‘n behoefte na landbou-inligting. Verteenwoordigers van die studiegroep het op die konferensie aan ‘n paneelbespreking deelgeneem om hul eie ondervinding met herlewingslandbou te deel.
Biodiversiteit in landbou was onder bespreking. Navorsing dui daarop dat biodiversiteit belangrik is vir verbeterde grondgesondheid, die bevordering van gewasveerkragtigheid, ondersteuning aan bestuiwers soos bye en skoenlappers, verminderde afhanklikheid van plaagdoders en ekonomiese stabiliteit. ‘n Studie deur die voedsel- en landbou-organisasie (FAO) van die Verenigde Nasies het byvoorbeeld getoon dat boerdery met geïntegreerde biodiversiteitpraktyke beter veerkragtigheid teen ekstreme weerstoestande gebied het.

Quinton Coetzee (natuurkenner) en Danie Slabbert van die Riemland-studiegroep tydens ‘n paneelbespreking
Danie Slabbert, voorsitter van die Riemland-studiegroep, het op die kongres bekend gemaak hulle onlangs ‘n nuwe peulgewas in die area ontdek het ná jare waarin hulle herlewingspraktyke toegepas het.
“Ons sê ‘nuwe’ peulgewas – dit is beslis nie ‘n nuut-geskepte gewas nie, maar dit is ‘n herontdekte plant wat dalk in dormansie gelê het vir 50, 60 of selfs 100 jaar,” sê Slabbert. “Ons is baie opgewonde om te sien dat plante terugkom wat uit die aard van die saak altyd hier was, maar verdwyn het as gevolg van byvoorbeeld weidingstelsels. As voordelige plante terugkeer, sê die natuur vir jou jy is besig met die regte goed.”
Slabbert sê dat daar in die Reitz-omgewing, wat natuurlike grasveld is, min peulbome in die veld is om stikstof uit die atmosfeer te trek en in die grond terug te plaas. Hierdie meerjarige, inheemse peulgewasse verrig daardie funksie.
“Toe ons begin het met ultra-hoë druk op die grasvelde, het ons baie op die gras gekonsentreer. In ‘n stadium het ek navorsing begin doen om uit te vind watter tipe peulbome ons in die grasvelde kan plant om daardie voordele te kry, minwetend dat ons rééds stikstofbindende plante in hierdie veld gehad het.”

Die peulgewas wat in die Reitz-omgewing herontdek is ná herlewingslandboupraktyke toegepas is en voordele vir grondgesondheid inhou
Slabbert sê volhoubaarheid is die enkel grootste voordeel en doelwit van herlewingslandbou. “Ons moet hierdie denkwyse aanneem om te verseker dat generasies ná ons op die grond kan boer. Grond is landbou se heel belangrikste hulpbron en as daar maniere gevind kan word om daardie hulpbron op te pas en te herstel, is dit wat gedoen moet word.”
Hy sê verder dat hulle wel weerstand teen praktyke ervaar wanneer hulle die studiegroep se bevindinge met mense deel, “maar die positiewe terugvoer en belangstelling is oorweldigend meer. In enige bedryf is verandering vir ons as mense een van die moeilikste goed om te aanvaar. Ons het mekaar nodig en ons verkies dat daar weerstand is: dit is hoe ons onsself toets en meet.”
Waarom almal mekaar nodig het
Een spesifieke kwessie wat by die konferensie onder die kollig geplaas is, is produsente se afhanklikheid van finansiering, spesifiek om herlewingslandbou te beoefen, en besluitneming hiervoor wat vir instellings moeilik gemaak word weens gebrek aan navorsingsinligting.
“As ’n mens nie verandering verstaan nie, is dit jou vyand. Dit is nodig om verandering jou vriend te maak en daarmee saam te beweeg,” het Strauss op die kongres gesê tydens ’n paneelbespreking met die tema Die groot finansiële kloof: Boere vs Bankiers.
Saam met Strauss op die paneel was Chris Burgess (redakteur van Landbouweekblad en gesprekleier), Michael Lilje (Orizon), Izak Dreyer (boer), Mary Maluleke (Asset Research) en Desry Lesele (Nedbank).
Volgens Strauss is die VKB Groep al ‘n geruime tyd betrokke by herlewingslandbou. “Ons het die verandering in die bedryf gesien. In die Oos-Vrystaat byvoorbeeld, wat koringwêreld was, het klimaatveranderinge daartoe gelei dat ander gewasse aangeplant word om daarby aan te pas. As ‘n besigheid moes ons ook by hierdie veranderinge aanpas.”
Strauss sê dat landboufinansiering in Suid-Afrika se groot uitdaging die bron van finansiering is, en om geduldige beleggers te identifiseer. “Wat wel binne finansieringsinstellings se vermoë is, is om betrokke te wees by konferensies soos hierdie – om inligting en antwoorde beskikbaar te maak – en om nie op te hou om die omgewing te leer verstaan nie.”
Die paneel was dit eens dat verandering nodig is in terme van finansiering vir herlewingslandbou, maar het bevestig dat verandering stadig gebeur. “Ons is opgewonde oor die verskil wat hierdie praktyke vir landbou en voedselproduksie maak. Dinge moet wel op die régte manier gedoen word met die régte inligting tot ons beskikking,” sê Strauss, “anders is dit net eenvoudig nie volhoubaar nie.”

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, en PG Strauss
Benewens die behoefte aan samewerking om gesonde balansstate te verseker, was samehorigheid ‘n tema wat – moontlik onbepland – deurlopend sy kop op die konferensie uitgesteek het.
Bull van Rensburg, melkboer van Humansdorp, het gaste toegespreek oor sy reis as die eerste boer in die Oos-Kaap op wie se plaas bek-en-klouseer bespeur is. Sy boodskap aan produsente was een van hoop en nederigheid. Hy het verduidelik hoe die geweldige finansiële impak slegs een deel was van een van die moeilikste tye in sy lewe – ’n tyd waarin ’n skuldgevoel, onsekerheid en verlies gedreig het om hom te oorweldig.
“As boere glo ons ons mag nie huil nie. Ons mag nie emosioneel of ‘swak’ wees nie. Maar ek kan vandag getuig dat dit nodig is. Ek was bang om die eerste boere-unievergadering by te woon ná die nuus dat bek-en-klouseer op my plaas is. Ek het nie geweet hoe ek my medeboere in die oë gaan kyk nie. Die beste ding wat ek gedoen het, was om op te staan en die vergadering by te woon. Die ondersteuning en respek wat ek daardeur gekry het, hulp wat toe en later aangebied is – selfs van mense en besighede wat my nie ken nie – was ‘n emosionele saak wat my laat besef het ons staan nooit alleen nie.”
Hoewel die bek-en-klouseer-krisis op almal se tong was, is daar oor die loop van die twee konferensiedae ‘n uiteenlopende reeks onderwerpe bespreek, onder meer:
- Natuurlike bondgenote: insekdiversiteit, ekostelseldienste en biologiese beheer
- Benutting van die ekologie vir veerkragtigheid en volhoubare produksie
- Onkruid- en siekterisikobestuur
Die kongres is in geheel verfilm en video’s van die sprekers is beskikbaar op landbou.com.

Belangstelling in boerdery is iets wat van jongs af gekweek word








