Appelboer oes roem as Oos-Kaap se beste jongboer
Appels of pere, perskes of pruime? As jy vir André Kritzinger van Tulpieskraal Boerdery vra, kies hy appels – Royal Gala, om presies te wees. En hy balanseer al hierdie vrugteboorde só briljant met hul stoeterye, dat hy op 6 Augustus tydens Agri Oos-Kaap se kongres as dié provinsie se Jongboer van die Jaar 2025 aangewys is.

André Kritzinger is op Agri Oos-Kaap se kongres in Jeffreysbaai as dié provinsie se Jongboer van die Jaar 2025 aangewys. Sy vrou, Inge, deel in sy blydskap. (Foto: Lise Potgieter/Agri Oos-Kaap)
André is die agtste geslag Kritzinger wat op dié familieplaas naby Joubertina boer. As lid van die Langkloof Landbougenootskap, boer hy met sagtevrugte (appels en pere), steenvrugte (perskes en pruime) en bestuur ook twee stoeterye – Boran en Wagyu.
Boerdery in balans
Hierdie vertakkings word fyn gebalanseer deur gesofistikeerde bestuurstelsels en ʼn sterk span. “Ons fokus val beslis op die sagtevrugte – dit verg die meeste van ons tyd,” sê André. “Maar ek praat daagliks met almal, en met goeie sisteme in plek kan die ander vertakkings ook vlot verloop.”

Tulpieskraal Boerdery in die Langkloof is een van Tru-Cape Fruit Marketing se gewaardeerde appel- en peer-verskaffers. (Foto: Facebook/André Kritzinger)
Die Boran-beeste is bekend vir hul gehardheid en goeie moedereienskappe – iets wat André hoog aanslaan. “Hulle pas aan in enige omstandighede en kyk na hulself.” Sy nuutste toevoeging, die Wagyu-ras, is ʼn strategiese stap. “Dis ʼn baie goeie produk, en ek glo mense sal altyd bereid wees om ʼn premie te betaal vir gehalte. Ons hoop om nog baie te groei met dié beesras.”
Erfenis
Hierdie moderne en gediversifiseerde boerdery is egter diep gewortel in die geskiedenis van die boerdery, wat al in 1805 ontstaan het.
Toe sy pa, wyle Bokkie Kritzinger, in 1990 op die plaas begin het, was die vrugtevertakking baie klein. Dit was grootliks ʼn groente- en kleinveeboerdery. Hy het dit na ʼn vrugteboerdery omgeskakel. Hoewel die vrugteboorde steeds die hoofvertakking op Tulpieskraal is, het Bokkie ook die Boranstoetery begin. Appels het egter geleidelik die hoofrol begin vertolk.
In 2006 het André se pa die lewenskwaliteit van die 30 permanente landbouwerkers op Tulpieskraal verbeter deur hulle te ondersteun om 25 hektaar van die plaas te koop. Die Tulpieskraal Werkers Trust is só gestig.
Tulpieskraal dra ook ʼn unieke storie.
“Wanneer die kinders saans huiswaarts gekeer het, was hul bene blou gevlek van die speel tussen die tulpe. Hierdie tulpe was nie eintlik dierevriendelik nie, maar oor die jare het die vee aangepas.”
Hoewel die tulpe nie meer daar is nie, leef die storie voort – en omring deur bloeiende vrugtebome en vol lewenslus, dra André die familie-erfenis met trots. Hy sit nie net sy plaas se ryk geskiedenis voort nie, maar hy bring ook vars energie en visie na die Oos-Kaapse landbougemeenskap.
Vooruitgang en vennootskappe
As oud-leerling van Hoër Landbouskool Marlow en oud-student van Potchefstroom, waar hy ook vir die universiteit se rugbyspan gespeel het, het André sy passie vir landbou en sport reeds op ʼn jong ouderdom begin uitleef. Hy het selfs die geleentheid gehad om vir die Luiperds se amateurspan uit te draf as binnesenter.

Tulpieskraal Boerdery in die Langkloof is een van Tru-Cape Fruit Marketing se gewaardeerde appel- en peer-verskaffers. (Foto: Facebook/André Kritzinger)
In Desember 2023 trou André met Inge, oorspronklik van Haarlem in die Wes-Kaap. Sy het argitektuur aan Kovsies gestudeer en is nou aktief betrokke op Tulpieskraal, ook op die netbalbane op Joubertina.
“Sy was baie bly saam met my oor die toekenning – ons het dit die aand lekker gevier,” vertel André.
Weg van die landerye en rugbyveld het André ook ʼn ander passie: skietkompetisies. “Ek is ʼn aktiewe lid van SA Jaggeweer en neem gereeld deel aan hul kompetisies – dis ʼn baie goeie organisasie wat regtig lekker byeenkomste bied.”
ʼn Lied vir die plaaslewe en toekomsvisie
As jy hom vra watter liedjie Tulpieskraal se storie sou vertel, antwoord André: “Didn’t Do” deur Spencer Crandall. Die boodskap hierin loop soos ʼn goue draad deur sy benadering tot die lewe én boerdery: om voluit te leef, voluit te boer, en elke kans met albei hande aan te gryp.

Werkers van Tulpieskraal Boerdery in die Langkloof pluk die vrugte van hul arbeid. (Foto verskaf/André Kritzinger)
Wanneer André oor die toekoms praat, is dit duidelik dat sy drome geanker is in praktyk, maar ook gelei word deur visie. “Ek wil graag nog groei en beter stelsels in plek hê sodat ons nóg doeltreffender kan boer. Ek stel baie belang in meganisasie en probeer my nuwe boorde so aanplant dat ons gereed is vir die toekoms. Ek wil soveel moontlik van die grond benut om winsgewend én volhoubaar te boer.”
Van Royal Gala-appels tot Wagyu-beeste, met dié Oos-Kaapse Jongboer van 2025 se wortels geanker in die verlede en sy oë op die toekoms, is Tulpieskraal in André Kritzinger se bekwame hande – en die Langkloof kan met trots sê: Hier groei ʼn ware kampioen.








