Van pienk papiertjie tot digitale era
Ek kan dit nog soos gister onthou. Dit was in die laat negentigerjare toe Corwyn Botha, destydse Hoofbestuurder, ’n pienk gedrukte papiertjie met die opskrif Communique ongeërg op my lessenaar neersit met die woorde: “Kyk of jy iets hiermee kan doen.”
Die papiertjie het maar min bevat – ’n paar stukkies inligting uit die gange van GWK, ’n paar verjaarsdae en hier en daar ’n bietjie skindernuus. Maar vir my was dit genoeg. Ek was nog altyd reg vir ’n uitdaging. Ek is ook so grootgemaak: as jy met ’n projek begin, maak jy hom klaar. Enduit.
En so is Kommuniek gebore. Want ons is mos Afrikaans – ’n volk met trots. Geen Franse naam vir ons nie.
Die grootste uitdaging? Daar was geen begroting nie. En so het dit gebly gedurende my tyd as redakteur. Maar die doel was duidelik: om die lede van GWK en die breër gemeenskap nuuswaardig en betekenisvol in te lig oor die bedrywighede van GWK.
Dit was geen geringe taak nie. Ek moes almal akkommodeer – van boer tot kleuter. Daar moes plek wees vir die jonger geslag, iets vir die skoner geslag, en natuurlik relevante landbou- en gemeenskapsnuus. En uiteindelik het hy sy verskyning gemaak; ’n gedrukte volkleur glanstydskrif waarop ons trots kon wees.
Die hele proses was ’n volwaardige eenmansvertoning. Uitleg, artikels skryf, foto’s neem, redigering, advertensie-werwing – alles het op een paar skouers gerus. Met stampe en stote, en skouer aan die wiel, is die wa deur die drif gesleep.
Toe ek in 2001 oorgegee het – genade, dit is nou al 25 jaar! – het ek nooit gedink ek sou nog my “eersgebore kind” sien grootword nie. ’n Mooi volwaardige publikasie wat tred gehou het met die veranderende wêreld. Maar soos alles in die lewe verander, het Kommuniek ook ’n nuwe era betree.
Digitaal
Verandering is selde gemaklik. Maar soms is dit nodig. En wanneer dit positief is, is dit weer klopdisselboom.
Vandag het Kommuniek ontwikkel van papier tot binne in die lugruim – in die palm van jou hand op jou selfoon, op jou rekenaar, binne almal se bereik. Enige plek wêreldwyd! Wat begin het as ’n pienk papiertjie op ’n lessenaar, leef nou in ’n digitale wêreld.
Geluk aan die ervare span wat tans aan die stuur van sake staan. Dankie dat julle my “kind” grootgemaak het en verder geneem het as wat ek ooit kon droom.
Groetnis
Coen Scheepers

Coen Scheepers








