Noord-Kaapse Jongboer strééf, lééf integriteit op sy stukkie aarde
“Jy gaan nie in ʼn eerstewêreldse land bly nie. Jy gaan nie in ʼn eerstewêreldse land boer nie. Maar die betekenisvolle lewe wat jy hieruit kry, gaan jy ook nie in ʼn eerstewêreldse land kry nie.”
In die Kalahari, 110 km noordoos van Upington, lê die plaas Smalhoek – ʼn plek waar herlewingslandbou nie net ʼn metode is nie, maar ʼn lewensfilosofie. Hier boer Stephan Becker (34), pas gekroon as die Noord-Kaap se Jongboer van die Jaar 2025, saam met sy vrou Estelle en hul drie kinders – Jonelle, Marcus en Miené.
As tweedegeslagboer in hierdie droë wêreld met gemiddeld 230 mm reën per jaar, is sy reis van konvensionele boerdery na holistiese, natuurgedrewe weidingsbestuur ʼn merkwaardige voorbeeld van hoe jong boere vandag begin dink oor verantwoordelikheid, volhoubaarheid en betekenis.

Die Kalahari is weer vol lewe. (Foto verskaf/Stephan Becker)
“Hierdie erkenning beteken vir my dat elf jaar se lees en studeer, ses jaar se harde werk op die plaas aan hierdie herlewingstelsel, asook ʼn meestersgraad in skaap-fenotipe, begin vrugte afwerp,” sê hy. “Niks hiervan sou egter moontlik gewees het sonder die Here wat my so geseën het met verstand om dit te kan verstaan, die dissipline om dit te kan uitoefen, en die voorreg om dit te kan doen nie.
“Dis wonderlik om te sien hoe die natuur self begin herstel het – hoe grasgroei verbeter, inseklewe ontplof en kleinwild terugkeer,” het hy gesê.
Nuwe benadering tot ou grond
Toe Becker ses jaar gelede oorgeneem het by sy pa, Koos Becker, het hy dadelik ʼn herlewingslandboubenadering begin implementeer, geïnspireer deur die werk van dr. Louis du Pisani. Sy fokus? Om Moeder Natuur so min as moontlik te ontwrig en eerder in vennootskap met haar te boer. Becker se pa, nou die boerderybestuurder, “is die pionier wat die wêreld hier kom mak maak het en meeste van die plaas se infrastruktuur gevestig het”.
Met presiese weidingsopnames, insluitend spesie-, afstand- én biomassa-opnames, weet Becker presies hoeveel gras sy grond lewer – en dus hoeveel diere hy verantwoordelik kan onderhou. Hy het sy GVE/ha-waardes van 18 tot 13 hektaar verbeter binne ses jaar. Die grootvee-eenheid per hektaar (GVE/ha) is ʼn maatstaf wat in veeboerdery gebruik word om weidingspotensiaal op ʼn spesifieke oppervlakte grond te beskryf, hoeveel hektaar jy tegnies nodig het om een grootvee te kan onderhou. So, Becker kan op dieselfde area grond meer diere aanhou omdat sy biomassa en grasdigtheid toegeneem het.
Sy rotasiebestuur is noukeurig uitgewerk: troppe ooie word elke twee weke in seskampstelsels geskuif, terwyl beeste oor die hele plaas roteer.
“Ons het begin by ʼn agtkampstelsel, waar daar vier agtkampstelsels was met ʼn trop Dorperskape voor en ʼn trop beeste (Brahman-Branguskruising) agter. Hulle is elke twee weke geskuif. Die nadeel daarvan was dat ʼn kamp ʼn maand lank bewei is. Toe gaan ek van vier agtkampstelsels na vyf seskampstelsels toe, wat hoofsaaklik gedryf word deur die ooie. Die trop beeste roteer oor die hele plaas, en elke trop ooie het ʼn seskampstelsel wat hulle bewei. Hulle word elke twee weke geskuif.”

Hy kan ʼn tuiste skep vir al die diertjies en goggatjies wat nou die Kalahari hul tuiste noem, sê hy. (Foto verskaf/Stephan Becker)
Biodiversiteit as bate
Diere is nie net vir produksie nie, sê hy, maar die dryfkrag agter die hele weidingstelsel. “Diere is die enigste manier hoe ons groot stukke grond kan bestuur en koolstof terug in die grond plaas – dis hulle wat die natuurlike siklusse aan die gang hou.”
Stephan se boerderyfilosofie strek veel verder as net produksie. Hy is passievol oor biodiversiteit en bewaring. Kleinwild soos duikers, steenbokke en tarentale word nie gejag nie, en hy gebruik slegs vanghokke vir roofdiere, wanneer nodig. “Ons het die rol van die groot roofdiere oorgeneem – so ons moet verantwoordelik optree,” sê hy. “Dis vir my sinvol om te sien hoe die veld herstel. Ek voel soos ʼn rentmeester van hierdie stukkie aarde wat aan my toevertrou is.”
Geluk volg eers daarna
Vir Stephan is ʼn sinvolle lewe ʼn byproduk van verantwoordelikheid, en geluk volg eers daarna. “Ek dink die beste besluit wat ek kon neem, is om weg te beweeg van konvensionele boerdery af na meer van ʼn herlewingsbenadering toe – dit was die keerpunt wat alles verander het. Ek is nie teen konvensioneel nie – daar is plek daarvoor. Ek gebruik ook ʼn voerkraal wanneer dit nodig is.
“Maar herlewingslandbou het vir my ʼn plafon gebreek – ek kan nou met meer diere op dieselfde grond boer.”

Elke grashalmpie op Smalhoek is ʼn bewys van die natuur se terugkeer. (Foto verskaf/Stephan Becker)
“Ek is baie passievol oor biodiversiteit, so ek kan ʼn tuiste skep vir al die diertjies en goggatjies wat nou die Kalahari hul tuiste noem. Ek kan ook ʼn nuwe tuiste skep vir plantegroei wat deur droogte of oorbeweiding eenkant toe geskuif is. Ek sien duidelik hoe dit terugkeer.
“Dan gee hierdie herlewingslandbou baie sin aan my lewe. Ek is van nature ʼn mens wat hou van ʼn filosofie van bewaring. En deur hierdie landboustelsel maak ek nie net die geld en kan ek nie net produktief wees in my omgewing nie, maar ek ploeg terug in die natuur in.”
Hoe kan die Kalahari lyk oor 100 jaar?
Sy langtermynvisie strek verder as net wins. Hy droom van ʼn Kalahari waar die natuur oor 100 jaar selfs meer lewendig is as nou, en waar sy kinders die spel van volhoubare boerdery met dieselfde toewyding sal voortsit. “Ek boer nie net vir vandag nie – ek boer vir die toekoms.”
Becker sien sy werkers as ʼn sentrale rat in sy sisteem. Met net drie permanente werkers, waaronder sy regterhand Donovan, bou hy sterk verhoudings en bemagtig hy hulle om die beginsels van weidingsbestuur te verstaan. “Ek leer hulle oor rotasie, veldkennis, en laat hulle opleiding bywoon – dit is ook húl toekoms.”

Estelle en Stephan Becker. Dis nie meer nét vir ons nie, ons kan dit nou deel – die herlewingslandbou en wie hy is, vertel sy trots. (Foto verskaf/Estelle Becker)
Sy vrou Estelle is oorspronklik van die Vrystaat, waar sy Kriminologie en Sielkunde gestudeer het. Volgens haarself is sy nie aktief betrokke by die boerdery nie. “Maar as hekke oopmaak, krippe skoonmaak en lammers uitry van die trop na die huis in my guns tel, dan is ek definitief betrokke!”
Sy is wel op die bestuur van die plaaslike landbouvereniging en betrokke by liefdadigheidswerk deur die kerk. Die Beckers help ook gereeld met Solly’s Beacon of Hope Foundation, ʼn sopkombuis wat kos voorsien aan straatkinders in hul gemeenskap. “Elke kind verdien liefde – al is dit van ʼn vreemdeling met ʼn warm bord sop,” sê sy.

Solly van der Berg, van die Solly’s Beacon of Hope Foundation, en Estelle Becker. “Solly is baie passievol daaroor dat kinders moet skool toe gaan. Hy is ʼn wonderlike man wat ongelooflike werk in sy gemeenskap doen. Die Here is só in sy hart, dit stráál uit. Dis ʼn klein sopkombuis wat hy uit sy huis uit bestuur. Hy het ʼn groot tent voor in sy erf en sy vrou en dogter kook elke week sop – vir Dinsdae en Donderdae. Dis absoluut iets wat hy uit sy eie doen,” vertel sy. (Foto verskaf/Stephan Becker)
“Verskriklik, verskriklik trots,” is hoe Estelle oor haar man se toekenning voel. “Om te kan sien dat al sy harde werk uiteindelik iemand se oog gevang het. Dis nie meer nét vir ons nie, ons kan dit nou deel – die herlewingslandbou en wie hy is. Dit gaan nie vir hom oor geld maak nie, hy wil iets [vir die volgende geslagte] nalaat.
“Ons oudste dogtertjie hou absoluut niks van die dorp nie. En sy vra kort-kort vir my ‘sal ek kan boer?’. Dan sê ek vir haar sy mág boer, sy mag doen nét wat sy wil. “Dit wat jy eendag besluit om te doen, dit doen jy.” Sy het eendag gespot en gevra of sy by die Spar sakkies kan pak. Toe sê ek vir haar, “dan word jy die béste sakkiepakker by Spar, maar jy doen wat jy wil”.
ʼn Visie sonder einde
As die Noord-Kaap se Jongboer van die Jaar is Becker nie net ʼn voorbeeld van tegniese kundigheid nie, maar ook van diep waardes, filosofiese denke, toewyding aan die natuur, en ʼn roepstem om met sin te leef. In die Kalahari skryf hy nie net ʼn suksesverhaal nie – hy skryf aan ʼn nalatenskap.
“As ek dan oor ʼn droom moet praat – ek het ʼn visie wat geen einde het nie. Simon Sinek skryf oor die ‘infinite game’ – ʼn spel wat nie gewen kan word nie, maar wat gespeel móét word. Ek speel hierdie spel nie om te wen nie, maar sodat ek eendag die stokkie kan oorgee aan my seun, my dogter, of wie ook al ná my kom. Dan wil ek vir hulle kan sê: ‘Ek het hierdie spel gespeel so goed as wat ek kon – dis nou jou beurt.”







