Toekenning ’n veertjie in Limpopo-jongboer se hoed
Toekenning ’n veertjie in Limpopo-jongboer se hoed
“Leef met wat jy het. Help mense waar jy kan. Moenie vergeet hoe jy grootgeword het nie. Stel God eerste in jou lewe. En onthou: pak elke dag met altwee hande aan. Só kan ’n mens net vooruit boer.”
Wanneer ’n mens aan papegaaie dink, sien jy Blu voor jou, daardie helderblou Macaw van die animasieprent Rio – vlerke spoggerig uitgestrek, dansend op samba-ritmes in die strate van Brasilië.
Die storie het die wêreld met sy kleurvolle voëls en tropiese woude betower, maar ook die bedreiging van papegaaie in hul natuurlike habitat en die gevaar van onwettige handel in die kollig geplaas.
In die bosveldwêreld van Limpopo, duisende kilometers van die strandfeeste van Rio af, leef en werk ’n jongboer wat daagliks die moeilike balans navigeer tussen bewaring en mense se behoefte aan ’n verbintenis met die natuur. Sy naam is Marko Grobler en hy is onlangs aangewys as Agri Limpopo se Jongboer van die Jaar 2025. Sy boerdery fokus op iets baie uniek … ietsie grys met ’n titseltjie rooi – African Grey-papegaaie.

‘Ek hou baie van groenteboerdery, van suikerbone en van saadmielies, alhoewel ek ’n ongelooflike allergiese ou is vir grassade en stuifmeel, is dit ook een van my passies.’ (Foto: Facebook/Marko Grobler)
Hierdie 30-jarige boer van Hoedspruit is nie net ’n landwye finalis in hierdie kompetisie nie, hy is ’n pionier in een van die wêreld se mees gereguleerde bedrywe: die wettige teel en uitvoer van dié papegaaie. Hy weet wat dit beteken om ’n spesie te bewaar terwyl hy steeds vooruit boer.
Van papegaaie, ganse op veilings na bewaring
Wat begin het as ’n kinderlike liefde vir diere op ’n kleinhoewe buite Pretoria, het oor die jare ontwikkel in ’n internasionaal erkende boerdery wat ’n bewaringsoorwinning in eie reg is.
“Ek het as kind al papegaaie en ganse gekoop op veilings,” vertel hy. “Ek het ook op klein skaal met skape geboer, maar altyd die droom gehad om iets besonders vir die diereryk te doen.” Die papegaaie het hom bygebly. “Dit was veral die African Greys wat my hart gesteel het. Dis die intelligensie wat jou fassineer,” sê hy.
Ná skool het hy vir ’n Hoedspruit-boer begin werk wat besighede in Pretoria gehad het. ’n Paar kort kursusse later trek hy Hoedspruit toe om vir dié mentor, Jaco Leicester, te gaan boer.

Een van Lowveld Parrot Breeders se personeellede met ’n African Grey-papegaai, wat met die hand grootgemaak word. (Foto: Facebook/Marko Grobler)
Wat Grobler se benadering besonders maak, is sy oortuiging dat hoe méér papegaaie in aanhouding geteel word, hoe minder druk word daar op die wilde bevolkings geplaas.
“Ek wil hê mense moet verstaan: elke papegaai wat ek wettig in aanhouding teel en uitvoer, is een minder wat uit die natuur gehaal hoef te word,” sê hy. “Dis volhoubare bewaring deur wettige handel.”
Breër betrokkenheid by bewaring
Grobler se betrokkenheid by bewaring strek verder as sy lyndrade. Hy probeer aktief help om nasionale handel in bedreigde spesies te bekamp. “Ons help veral om bewustheid te skep in plaaslike gemeenskappe.”
In 2017 is die African Grey as deel van CITES – ’n wêreldwye verdrag wat die handel in wilde diere en plante oor landsgrense heen reguleer – se Bylae 1 gelys, wat beteken dat internasionale handel streng gereguleer moet word. Dit het ’n uitdagende administratiewe en logistieke raamwerk geskep – een wat hy en sy span doelbewus aangepak het.

Marko Grobler het vanjaar deelgeneem aan besluitneming rondom die toekoms van die bedryf as CITES Staande Komiteelid. Hy beskou dit as ’n voorreg, maar ook ’n groot verantwoordelikheid. (Foto: Facebook/Marko Grobler)
“Ons werk baie nou saam met owerhede en organisasies soos die Papegaaitelersvereniging van Suid-Afrika (PVSA),” sê hy. “As CITES Staande Komiteelid het ek vanjaar plaaslik en in Geneva, Switserland, vergaderings bygewoon, waar ek betrokke was by besluitneming rondom die toekoms van die bedryf. Dit was ’n voorreg, maar ook ’n groot verantwoordelikheid.
“Ek is ook betrokke by ’n oorsese CITES Youth-groep wat ons fasiliteit kom besoek het. Hulle was nogal redelik beïndruk. Ek dink nie hulle het verwag dat dit so goed en netjies gaan lyk nie.”
Tegnologie en innovasie
Een van die redes vir Grobler se sukses lê in sy bereidwilligheid om ou sisteme te hersien en te vervang met nuwe tegnologie. Lowveld Parrot Breeders (LPB) het hul eie inkubasie- en kwarantyngeriewe ontwikkel om self die voëls te kan uitvoer.
“Ons het besluit om ons hokontwerpe self te optimaliseer, met beter lig, lugvloei en veiligheid. Ons gebruik nou ook moderne genetika-bestuur, inkubators en ’n gesofistikeerde stelsel vir naspoorbaarheid – van eiers tot uitvoer.”

Marko Grobler, self-erkende ‘Bird Nerd’, vertel die Jongboer-beoordelaars meer van sy boerdery en bewaring. (Foto: Facebook/Agri Limpopo)
Elke voël word individueel geregistreer en gemonitor, wat internasionale kopers vertroue gee in die kwaliteit en etiek van die produk. “Dis nie net ’n voël wat jy koop nie – dis deel van ’n volhoubare ketting.”
’n Tipiese dag tussen die Groot Vyf
’n Dag op die plaas in die Groot Vyf-streek van Limpopo is enigiets behalwe vervelig. “Ons word wakker met die geluide van leeus en olifante. Elke oggend word daar langs die lyndrade gery om seker te maak geen wilde dier het oornag in die kamp ingekom nie.”
Dan volg daaglikse produksie- en bestuurstake, van finansiële beplanning tot voeding, gesondheid en logistiek. “Ek hou van daardie balans – jy moet jou hand op alles hê, van die voël se gesondheid tot hoe jy sy uitvoer dokumenteer.”

Op ’n plaas net buite Hoedspruit: ’n Luiperd het stadig deur die boontjielande onder besproeiing beweeg, ’n herinnering dat hierdie unieke landskap van die Kruger tot Canyon-biosfeer (K2C) nie volkome getem is nie. (Foto: Bruce Topham/Agrico Facebook)
Een van Grobler se ander passies is groenteboerdery – suikerbone en saadmielies. “As ek nou ’n plaas kon koop, sou dit wees om groot lande te kan bewerk, saam met die voëls. Ek dink dit vul mekaar ongelooflik goed aan en ek geniet altwee ongelooflik baie.”
Siektes kan ’n boer se hele boerdery bedreig, so biosekuriteit is absoluut krities. “Ek glo in streng maatreëls as dit kom by die papegaaie. Dis een van die redes hoekom ons in ’n area boer met min of geen kommersiële voël- of hoenderboere in die omtrek nie.”
Markte en uitdagings
Hoewel daar ’n groot aanvraag is vir African Greys, is marktoegang ’n voortdurende uitdaging. “Die Midde-Ooste, soos die Verenigde Arabiese Emirate en Koeweit, is van ons grootste kliënte, maar die markte sluit dikwels weens politieke of gesondheidsredes. Asië, insluitend China en Japan, toon ook groot belangstelling, maar ons sukkel soms om formele toegang te kry.”

Ná skool het Marko Grobler werk vir Jaco Leicester, ’n Hoedspruit-boer, in Pretoria gedoen. ’n Paar kursusse later trek hy plaas toe om vir dié mentor te gaan boer. (Foto: Facebook/Marko Grobler)
Betroubaarheid van kliënte is nóg ’n uitdaging. “Dis nie soos sitrus of graan waar jy jare lange kontrakte het nie – jy moet jou kliënte noukeurig kies en langtermynverhoudings bou,” verduidelik hy.
Dis ’n boerdery wat regstreeks inspeel op wêreldmarkte en terselfdertyd ’n impak op natuurbewaring maak.
’n Toekomsvisie vol hoop en fokus
“Ek sien ons maatskappy, LPB, as een van die toekomstige leiers in papegaaiboerdery,” sê hy met oortuiging. “Ons wil spesialiseer in topkwaliteit African Greys – dié wat jy nêrens anders in die wêreld kan kry nie.”
Hy glo nie in vinnige uitbreidings sonder deeglike navorsing nie. “Ek wil eers elke aspek van die spesie verstaan voordat ek met ander begin. Kwaliteit bo kwantiteit. Ons droom is om ’n handleiding vir die bedryf te skryf.”
Vir my is dit meer as net boerdery – dis ’n roeping. Dis harde werk, ja, maar dit bring my elke dag vreugde om te weet ek dra by tot die bewaring van ’n ikoniese spesie én tot die toekoms van ’n verantwoordelike, volhoubare bedryf.
Raad vir ander
Vir jongboere wat hul eie pad wil stap, het hy eenvoudige maar kragtige raad: “Doen jou navorsing, neem die goed-deurdagte risiko en moenie bang wees nie. Jy moet mense hê wat jou ondersteun, en jy moet altyd aanhou beplan – selfs al voel dit of niks werk nie. My mentor het altyd gesê: jou planne moet nooit opraak nie.”

Handevol boontjiespruite vir sy papegaaie. As Grobler nou ’n plaas kon koop, sal hy met groot lande groente ook wil boer, saam met die voëls. ‘Ek dink dit vul mekaar ongelooflik goed aan. (Foto: Facebook/Marko Grobler)
En, sê hy verder, leef met dankbaarheid. “Leef met wat jy het. Help mense waar jy kan. Moenie vergeet hoe jy grootgeword het nie. Stel God eerste in jou lewe. En onthou: pak elke dag met altwee hande aan. Só kan ’n mens net vooruit boer.”
Limpopo se beste jongboer is ’n baanbreker en ’n bewaarder met ’n visie. Hy is ’n bewys dat jy nie duisende hektaar of massaproduksie nodig het om ’n suksesvolle boerdery te hê nie, dat jy jou vlerke kan sprei en dans – ook hier in die Bosveld – met ’n passie vir bewaring en ’n droom wat kleurvol uitstaan.








