’n Kop vol idees kry ’n nuwe speelveld
In elke organisasie is daar daardie een persoon na wie almal kyk wanneer ’n kreatiewe idee nodig is – iemand wat stories raaksien waar ander net feite sien, en moontlikhede ontdek waar ander nog wonder waar om te begin. Leana Coetzee is een van daardie mense.
Ooit gewonder wie span fiktiewe karakters, soos die bedrogpleër Lying Larry, in ons korporatiewe kommunikasie in? Of wie gehelp het om mense “tuis” te verwelkom by die groter VKB Groep, waarvan GWK deel is? As kreatiewe spesialis is haar werk om idees te laat gebeur – om konsepte te ontwikkel, veldtogte te bou en stories te vertel wat mense roer.
Leana is egter nie net ’n kreatiewe spesialis nie – sy staan ook aan die stuur van Kommuniek as redakteur. Vir jare het sy gehelp om die tydskrif se stories te vorm, ’n stem te gee aan mense in die organisasie en die publikasie se inhoud en rigting te help ontwikkel.
Nou, met Kommuniek wat ’n nuwe digitale era betree, wag daar vir haar ’n nuwe speelveld: nuwe platforms, nuwe formate en nuwe maniere om stories te vertel. Dit gaan vir haar oor meer as net goeie kopie of slim konsepte – dit gaan oor mense.
“Ek hou daarvan om regtig teenwoordig te wees in gesprekke,” sê sy. “Mense maak oop as hulle sien jy luister. En dan deel hulle soveel meer – en jy leer soveel meer.”
Dit is daardie vermoë om mense te hoor, te verstaan en hul stories raak te sien, wat haar kreatiewe werk voed.
Van plaas tot pen
Leana is die tweede van vier kinders – gebore in die Oos-Kaap en grootgeword op die familieplaas Geduldsfontein tussen Steynsburg en Venterstad, waar haar ouers met Merino-skape boer.
Die plaaslewe het sy eie reëls gehad. “Gelukkig was ons vier kinders, want ons mag net ’n halfuur elke weeksaand TV gekyk het, so ons moes mekaar maar (buite) vermaak tot ons in die huis mag ingekom het. En dit word vrék koud op daai plaas in die winter,” onthou sy.
Sy het tot in graad 11 in Steynsburg skoolgegaan by Paul Kruger Kollege. President Paul Kruger is self ook daar gebore, iets wat sy graag deel uit haar geheime voorraad feite. Maar skool was nie juis haar gunstelingplek nie. “Ek het elke sekonde van skool geháát,” sê sy eerlik. “So, universiteit was vir my fantasties.”
By die Universiteit van die Vrystaat het sy Bemarkingskommunikasie gestudeer – ’n rigting wat uiteindelik die deur oopgemaak het na die wêreld van handelsmerke, strategie en storievertelling. “Ek is mal oor handelsmerke – die strategieë daaragter, en hoe dit mense se gedrag beïnvloed. Maar om ’n geloofwaardige handelsmerk te wees, moet jy die regte, ware storie daaroor vertel, en dit is waar my liefde lê.”
Sy beskou haarself as gelukkig om in bemarking te werk en stelselmatig te kon oorskakel na skryfwerk, sodat sy met albei kante daarvan te doen het.

Leana Coetzee
‘Dankie tog – ek’s tuis’
Ná haar studentejare was sy eers by Kovsies se bemarkingsafdeling en toe ’n tyd by Volksblad, waarna sy in Augustus 2013 by GWK se bemarkingspan in Kimberley aansluit.
“Ek het uit nostalgie my Oos-Kaap-nommerplaat vir tien jaar in Kimberley op my kar gehou, maar ek dink ek was reeds ’n volbloed Noord-Kapenaar drie maande nadat ek hierheen getrek het.
“Ek het ná die Kersvakansie in Januarie 2014 Kimberley binnegery en gevoel ‘dankie tog, ek’s by die huis’. Die mense en hitte en vlaktes kruip gou onder jou vel in.
“Omdat die span klein was, het ’n mens nogal nou saamgewerk. In die rol het ek ook met basiese kopie-skryfwerk te doen gekry en geleer soos ek gegaan het. Toe kom Kommuniek, en dit wat ek nié van skryf geweet het nie, moes ek baie gou leer. Oor tyd het die rol van inhoudsontwikkeling na ’n meer kreatiewe fokus (konsepontwikkeling, veldtogte, kopie en meer) geskuif, en uiteindelik het ek ’n Kreatiewe Spesialis geword,” vertel Leana.
Een van haar eerste artikels vir Kommuniek was oor katoen as wisselbougewas. “My plaas-agtergrond het my net mooi niks gehelp nie. Ek wens ek kan vir mense begin beskryf hoeveel interessante goed ek oor landbou, veral gewasse, geleer het in die laaste amper 13 jaar. Dit was ’n nuwe, aanloklike wêreld vir my. En ek klink vreeslik slim rondom ’n braaivleisvuur…”
’n Liefde vir mooi woorde
Hoewel sy eers later besef het dat skryfwerk haar natuurlike plek is, sê haar ma dit was nog altyd daar. “Ek het glo nie inkleurboeke ingekleur nie – ek het eerder ’n storie oor die prentjie geskryf.”
Sy was ook ’n ywerige leser. Soveel só dat, toe sy al die kinderboeke in die Steynsburg-biblioteek deurgelees het, hulle uiteindelik vir haar ’n uitsondering gemaak het om boeke uit die “grootmens”-afdeling uit te neem nog voordat sy die regte ouderdom bereik het.
“Ek was nog altyd mal oor lees en mooi woorde en maniere om iets te beskryf,” sê sy. “Toe ek via bemarking uiteindelik by skryfwerk beland, toe sê my ma ‘ek sê mos al lankal dis wat jy eintlik moet doen’”.
In die bemarking- en kommunikasiespan is Leana bekend vir haar skerp sin vir humor, vinnige denke en haar eindelose stroom van idees.
“Ek staan verstom oor die talent in die bemarking- en kommunikasiespan – en hoe hoog almal se standaarde vir hul eie werk is. Maar as mense is hulle ook wonderlik: die meeste van ons het al deur ernstige persoonlike krisisse gegaan en dan trek die span laer om jou. En ek ervaar dit in die groter Groep ook. Dit is lekker om te werk by ’n plek waar jy gemaklik is, baie lag, en voel jy wíl altyd jou heel beste doen.”
Watter hasie?
Haar inspir(h)asie kan letterlik van enige plek kom, maar oor die jare het sy die vaardigheid ontwikkel om idees uit enigiets te ontwikkel. “Flieks, TV-reekse, koerantberigte, YouTube-video’s, liedjies se lirieke, gesprekke met vriende en ernstige geselsies met my suster se driejarige. Onlangs het ’n grap wat ’n stand-up comedian vertel het, my ’n idee gegee oor hoe om stories oor die uniekheid van die landbou in Suid-Afrika te benader.”
Maar wanneer kreatiwiteit nie wil vloei nie, probeer sy dit nie forseer nie.
“As ’n mens snags wakker lê en nie kan slaap nie, help dit tog nie jy probeer jouself dwing nie. Dis dieselfde met kreatiewe skryfwerk. Ek gaan doen iets anders – verdwyn in die YouTube rabbit hole, proeflees iets, wat ook al. Gewoonlik bekruip en bespring die inspir(h)asie jou dan wanneer jy dit die minste verwag.”
In haar geval is dit dikwels tussen vier- en vyfuur soggens.
Die mens agter die idees
“Ek is ook mal oor kos maak, so ek ontspan as ek dit doen. As ek myself omgepraat kry, gaan stap ek ’n ent met harde musiek in my ore. Ek hou van musiek en om klavier te speel. Ek is nie baie goed nie, maar ek het besef mens hoef nie goed in iets te wees om dit te geniet nie. Dis hoekom ek sonder voorbehoud sing, waar mense my nie kan hoor nie, natuurlik.
“En ek is ’n sucker vir ’n goeie dokumentêr.”
Sy beskryf haarself half tong-in-die-kies as ’n baby/child whisperer. “Ek weet nie eens hoe dit gebeur het nie, ek het net besef kinders gesels maklik met my. Ek dink dis omdat ek luister en my inleef in die fantasie-wêrelde wat hulle skep. My sibbe het nege kinders, en (ek kies om te glo) ek is hul gunsteling antie.” Hul ouderdomme wissel van 1 – 13 jaar, en met die tiende een op pad in April, kry sy genoeg kans om daardie talent te oefen.
’n Nuwe begin
Sedert sy by GWK begin het, het haar rol geleidelik ontwikkel – van bemarkingsbeampte tot kreatiewe spesialis wat vandag slim konsepte, veldtogte en inhoud help vorm.
’n Groot deel van daardie reis was haar betrokkenheid by Kommuniek, die maatskappy se tydskrif. “My hoogtepunt by Kommuniek was toe ek die eerste gedrukte uitgawe, waaraan ek en die grafiese ontwerper Reinard Louw saam gewerk het, in 2015 kon vashou.”
Dis moeilik vir Leana om een projek uit te sonder wat sy die meeste geniet het om oor te skryf, maar gemeenskapsprojekte was nog altyd vir haar lekker. “So moeilik as wat dit was om in 2019 oor die droogte te skryf, was dit verblydend om te sien hoe mense saam staan en mekaar help, en om dan oor ’n positiewe ding in ’n eintlik-donker tyd te skryf.
“Ek is verder só trots om deel te wees van ’n maatskappy wat die ECD-skoleprojek dryf, so ek is altyd opgewonde om oor ’n nuwe skool se opening te skryf. Dis die goed waar daar ’n sigbare verskil gemaak word.”
Nou lê daar ’n nuwe speelveld vir Kommuniek se gedrukte tydskrif voor. Al is sy iemand wat graag ’n boek in haar hande wil vashou, voel dit vir Leana al meer soos ’n nuwe begin.
Die skuif na ’n digitale era maak haar opgewonde – nie net oor die nuwe platforms nie, maar oor nuwe maniere om stories te vertel. Vir ’n kop vol idees beteken dit nou soveel meer is moontlik.
‘Wees nuuskierig’
Vir jong mense wat hul kreatiwiteit wil ontwikkel, het sy eenvoudige raad: “Wees nuuskierig. Stel jouself bloot aan ’n wye verskeidenheid onderwerpe. Kreatiwiteit kan nie ontwikkel as jy net fokus op goed waarin jy belangstel nie. Hoe meer mens iets doen, hoe beter word jy daarin – alles vat oefening.”
Sy deel graag ’n lewensles: “’n Mens kan nie staat maak op die wêreld om jou positief te hou nie. Dit is ongelooflik belangrik dat jy kies waaraan jy jouself blootstel en aktief daaraan werk. Kies mense wat jou opbou en hul energie met jou deel, en spandeer tyd saam met húlle. Volg sosiale media blaaie wat positiewe stories vertel. Kyk ’n goedvoel-fliek Sondagaand ná Carte Blanche. Luister musiek wat jou skouers onbewustelik laat begin beweeg.”
Dis dalk presies hoekom Leana se idees nooit opraak nie. Sy kyk na die wêreld met nuuskierigheid en ’n goeie skoot humor – en in daardie mengsel lê die bron van haar kreatiwiteit.
En wie weet waar haar volgende karakter vandaan gaan kom? Iewers tussen ’n YouTube rabbit hole, ’n braaivleisgesprek of ’n vieruur-die-oggend-gedagte kan daar dalk reeds ’n nuwe figuur wees – dalk ’n Shady Sean, ’n Dramatiese Danie of nog ’n neef van Lying Larry wat net wag om ontmasker te word.







