Twintig jaar gelede: Hoe vergelyk vroeë geelmielies met koring en laat geelmielies?
Twee dekades gelede, in September 2006, het Andrew Bothma, Bestuurder van die Verhandelingskamer in Douglas, hierdie artikel saamgestel vir Die Kommuniek. Ons plaas dit graag vir ons lesers om te vergelyk met omstandighede in 2026.
Die afgelope mielieseisoen was baie laat en produsente kon nie betyds al hul koring geplant kry nie. Dit het produsente gedwing om van hul lande braak te laat lê vir die plant van vroeë geelmielies. Die vraag ontstaan nou hoe die produsente finansieel geraak gaan word deur net vroeë mielies te plant.
In die GWK-besproeiingsarea is die produsente in die bevoorregte posisie om koring sowel as laat mielies te kan plant. Dieselfde geld nie vir die droëland-produsent, wat vroegtydig moet besluit om óf koring of mielies te plant, nie.
Verder is dit duidelik dat daar moontlik vroeg in 2007 ‘n tekort aan wit- en geelmielies kan wees. Baie produsente sien ook hierdie tekort raak en moet dus besluit of hulle koring of vroeë mielies gaan plant. Dié artikel kyk na twee scenario’s om te sien watter aspekte in ag geneem moet word om ‘n goeie besluit te kan neem. Scenario 1 is die aanplant van net vroeë mielies. Scenario 2 behels die plant van koring en daarna geelmielies.
Hieronder word die twee scenario’s teenoor mekaar gestel. Scenario 1 toon die marge bo koste indien net vroeë geelmielies geplant word. Scenario 2 toon die bruto marge van beide koring en laat geelmielies. Daar moet egter op ‘n paar punte gelet word. Die insetkoste vir beide koring en geelmielies is soos gepubliseer in die GWK-kostegids van Junie 2006. Die Safex-pryse vir beide koring en mielies is soos op 11 Augustus 2006.


Daar is onderskeidelik met ‘n opbrengs van 6 ton/ha en 12 ton/ha vir koring en mielies gewerk. Indien die gradering van die koring nie in ag geneem word nie, sal die prentjie nie volledig wees nie. Graderingsdata vir die 2004- en 2005-koringseisoen het daarop gedui dat ‘n 95%-gradering as goeie maatstaf gebruik kan word. Anders gestel sal ‘n R1 400/ton B1-koringprys ‘n gemiddelde prys van R1 330/ton realiseer nadat gradering in ag geneem is. Dit realiseer dus ‘n aftrekking van R70/ton vanaf ‘n B1-graad. Produsente moet ook let dat dié gradering tot so laag as 90% kan wees, wat ‘n aftrekking van R140/ton van B1-graad is.
In die scenario’s soos hieronder is dit duidelik dat deur net vroeë mielies te plant, ‘n marge bo koste van R3 860/ha gaan realiseer, terwyl die marge bo koste vir koring met ‘n 95%-gradering R1 894/ha en laat mielies R2 900/ha sal realiseer. Scenario 2 gee dan ‘n totale marge bo koste van R4 794/ha. Hieruit kan afgelei word dat vroeë mielies in bogenoemde situasie nie koring en laat mielies klop nie.
Deur die twee scenario’s se marges van mekaar af te trek, kan gesien word dat Scenario 2 R934/ha meer realiseer as Scenario 1. Deur net na die berekening te kyk, kan ook afgelei word dat teen ‘n 12 ton vroeë mielieoes ‘n premie van R77.83 (R934 gedeel deur 12 ton) verdien moet word om finansieel dieselfde daaraan toe te wees as in Scenario 2. Hierdie afleiding kan egter nie as die alfa en omega aanvaar word nie aangesien die pryse vir beide koring en mielies nog baie kan varieer. Verder moet die voordele van die grond wat langer rus vir vroeë mielies ook in aanmerking geneem word.
Op 11 Augustus 2006 het Safex se Mei 2007-geelmieliekontrak teen R1 170/ton verhandel, terwyl die Julie 2007-geelmieliekontrak teen R1 090/ton verhandel het, wat impliseer dat die mark ook R80/ton duurder is vir vroeë lewerings.
Produsente moet egter daarop let dat hierdie artikel net as ‘n riglyn gebruik kan word om individuele situasies te evalueer.
Bemarkingstrategie vir vroeë mielies
Laastens gaan die bemarkingstrategie van die vroeë mielies ook ‘n belangrike rol speel aangesien daar groot vroeë aanplantings verwag word. Met die geelmieliemark tans by invoerpariteit is die waarskynlikheid vir premies ook swak. GWK bied egter ‘n kontrak waar die Safex-vlak reeds vroeg vasgemaak kan word, terwyl die aftrekking (basis) eers op ‘n later stadium vasgemaak kan word. Hierdie tipe kontrak staan bekend as ‘n uitgestelde formulekontrak.
Op die vroeë lewerings (Mei 2007) moet die basis teen 30 April 2007 vasgemaak wees, terwyl die later lewerings (Julie 2007) se basis teen 31 Mei 2007 vasgemaak moet wees. Met die huidige markvooruitsigte moet produsente nie te lank wag om volgende jaar se mielies te begin bemark nie. Die aanbeveling sal wees dat produsente gebruik maak van die uitgestelde formulekontrak sodat daar nog later ‘n geleentheid kan wees om beter basisse te beding.








