The Pecan People: Plaaslike wortels, wêreldwye bemarking
Die Suid-Afrikaanse pekanneutbedryf, die derde grootste ter wêreld, is in ’n strategiese groeifase waar produksie, marktoegang en bestuursvernuf al hoe nouer verweef raak.
Tydens vanjaar se Hopetown-skou het The Pecan People ’n omvattende inligtingsessie aangebied waarin produsente ingelig is oor internasionale markontwikkeling, uitvoerstrategieë en die maatskappy se nuwe handelsmerkidentiteit. Die aanbieding is gevolg deur ’n praktiese pekanboordtoer op Schoeman Boerdery se plaas Zoetwater buite Hopetown – ’n geleentheid waaruit produsente, landboukundiges en studente eerstehands kon ervaar waar teorie en praktyk mekaar ontmoet.
Saam stuur hierdie twee geleenthede ’n duidelike boodskap: volhoubare winsgewendheid in pekanneute berus op presisie in die boord én strategiese posisionering in die wêreldmark.
’n Nuwe naam met ’n duidelike fokus
Die maatskappy, voorheen bekend as GWK Pecans, het onlangs as The Pecan People herposisioneer. Die nuwe handelsmerk spruit uit ’n aandeelhouersvoorstel tydens die 2024-jaarvergadering en volg op ’n uitgebreide raadplegingsproses met produsente, kopers, verskaffers en personeel.
Volgens bestuur is die nuwe naam doelbewus gekies om die kern van die onderneming te weerspieël: dit gaan nie bloot oor neute nie, maar oor mense – oor produsente, kopers en vennote regdeur die waardeketting.

GWK Pecans het in April 2025 pekanneute bemark op die 18de Voedseluitstalling vir China se Neute en Gedroogde Vrugte, bekend as die China Nut Expo, wat by die Hefei Binhu Internasionale Uitstallings- en Konferensiesentrum aangebied is. Die geleentheid het bykans 237 000 besoekers gelok. Foto: www.producereport.com
Met drie verwerkingsaanlegte beskik The Pecan People oor die infrastruktuur om sowel in-dop- as kernmarkte te bedien. Die Douglas-, Upington- en Magogong-aanlegte het ’n gesamentlike kapasiteit van meer as 8 000 plus ton in-dop neute per seisoen.
China: ’n Mark in transformasie
’n Hoogtepunt van die inligtingsessie was Wessel Cloete, besturende direkteur van The Pecan People, se terugvoer oor ’n onlangse besoek aan China – steeds Suid-Afrika se belangrikste uitvoermark vir pekanneute.
Met ’n nasionale oes van ongeveer 50 000 ton verlede jaar, waarvan sowat 47 000 ton na China uitgevoer is, bly dié mark deurslaggewend. The Pecan People het ongeveer 5 700 ton daarvan hanteer – nagenoeg 11,5% van die uitvoervolume.
“Die groottesamestelling van ons innames van pekanneute in die 2025-seisoen vergelyk baie goed met die res van die bedryf,” sê Cloete. “Wat hieruit afgelei kan word, is dat ons klimaatstoestande, grondvrugbaarheid en verskeie ander produksiefaktore, vernaam opgemerk in die Oranjerivier-streek, ’n groot rol speel. Dit dra daartoe by dat ons ’n hoër persentasie groter groottes produseer as baie ander produksiegebiede in die land. Die streek teen die Oranjerivier is dus uiters geskik en optimaal vir pekanneutproduksie.”
Tydsberekening en kwaliteit is kritiek
Een van die belangrikste lesse uit China is die impak van versendingsvensters op kwaliteit. Neute wat eers in Desember arriveer, hou verhoogde risiko’s in weens bergingstoestande en moontlike kwaliteitsagteruitgang.
“Ideaal gesproke behoort jou laaste besendings teen middel November reeds in China te arriveer. Daarna verhoog die risiko van kwaliteitseise aansienlik. Ons wil ook nie die Suid-Afrikaanse industrie onnodig blootstel aan reputasie- of kwaliteitsrisiko’s nie,” sê Cloete.

Wessel Cloete, besturende direkteur van The Pecan People, se terugvoer oor ’n onlangse besoek aan China was een van die hoogtepunte tydens die inligtingsessie. Die aanbieding op die Hopetown-skou op 13 Februarie is gevolg deur ’n praktiese pekanboordtoer op die Schoeman Boerdery se plaas Zoetwater. Foto: VKB Groep
In China plaas die uitbreiding van in-dop-verbruik na ’n groeiende kernmark nóg groter druk op kwaliteit. Waar geringe variasies in-dop neute soms minder sigbaar was, word enige defek van kerne onmiddellik raakgesien wanneer neute gekraak en visueel beoordeel word. Die tradisionele mark wat neute in die dop verbruik, bly stabiel, met die verbruikersmark vir kerne wat die afgelope vyf jaar vinnig ontwikkel en skerp gegroei het.
In Lin’An – die hart van China se pekanneutverwerkingsbedryf – het veral tegnologie die afgelope dekade dramaties verbeter, vertel Cloete. Moderne sorteerlyne, gevorderde krakerye en verfynde verpakkingstelsels ondersteun ’n vinnig groeiende kernsegment.
“China was tradisioneel ’n mark wat gefokus het op neut-in-dop (nut-in-shell) produkte. Vyf tot sewe jaar gelede het hulle hoofsaaklik net die neute gekraak, maar die dop nie verwyder nie. Daarna is die neut in die dop met karamel- of suikersous gegeur en gerooster, en só verkoop,” vertel Cloete.
“Dit was baie gewild en is ’n versnapering vir spesiale geleenthede. Mense geniet dit steeds saam met tee en sit dan self en dop die neute af. Die segment van die mark wat kerne verbruik, is egter die gedeelte wat die afgelope vyf jaar skerp groei getoon het.”
Kernmark word ontgin
“Die kleiner Chinese fabrieke het gegroei en meer professioneel geword. Hul tegnologie in hierdie bedryf het in die laaste tien jaar ontsettend gegroei. In Lin’An, waar die meeste pekanneutfabrieke geleë is, lyk dit van buite af redelik primitief, maar die tegnologie binne is besonder gevorderd en baie meer professioneel as tien jaar gelede.
“Hulle het besluit hulle wil nie net neute in doppe verkoop nie en het ’n nuwe deel van die mark begin ontgin waar hulle ook halwes en stukke verkoop. Die pekanneute word dus gekraak, die dop word verwyder en die kerne word gesorteer met baie doeltreffende en relatief laekoste-tegnologie.
“Daarna word die kerne steeds gerooster of gegeur, en die verpakking is van ’n baie hoë standaard. Dit word in klein of groter pakkies verpak en dan bemark. Baie van hierdie fabrieke het selfs hul eie ateljees vanwaar hulle aanlyn, regstreekse bemarking doen.”
Vraag groei steeds
Met ’n bevolking van 1,4 miljard en slegs ’n klein gedeelte daarvan wat al blootgestel is aan pekanneute, bly daar enorme groeipotensiaal. Aanlynverkope en -bemarkingstrategieë op mobiele platforms dryf verbruik teen ’n ongekende tempo, vertel Cloete.
“Die bemarkers loop heeldag met hul selfone op soek na regstreekse verkope via ’n live app. ’n Aanbieder eet byvoorbeeld ’n pekanneut en sê hoe lekker en vars dit is en dat dit van Suid-Afrika af kom. Dan bemark hulle dit met ’n spesiale aanbieding – soos ‘koop binne ’n minuut en kry twee vir die prys van een’. Bestellings word aanlyn geplaas en soms binne ’n halfuur afgelewer.
“Dis ongelooflik om te sien hoe effektief hul logistiek en bemarking met hierdie bestellings is.
“China se vraag groei dus steeds. Dit beteken egter nie ons moet selfvoldaan raak en net op China fokus nie. Wat ek wel wil beklemtoon, is dat dit ’n baie belangrike mark vir ons is en waarskynlik in die toekoms so sal bly. Ons moet egter die mark verstaan, beskerm en aanpas by wat daar gebeur,” sê Cloete.
Diversifikasie: Minder afhanklikheid, groter bedingingsmag
Hoewel China dus ’n strategiese spilpunt bly, is markdiversifikasie ’n kernfokus. The Pecan People ondersoek aktief geleenthede in die Midde-Ooste, veral die Verenigde Arabiese Emirate, asook Europa en die VSA, aangesien ’n enkelkanaalstrategie langtermynrisiko’s inhou.
Hierdie benadering het twee duidelike doelwitte:
- Verminder afhanklikheid van ’n enkele mark.
- Versterk Suid-Afrika se bedingingsmag in prys- en kontrakonderhandelinge.
Die ontwikkeling van die plaaslike kernverwerkingskapasiteit en die moontlikheid van sogenaamde bonded warehouses in China is deel van die strategie om meer buigsaam en mededingend te wees.

Die pekaninligtingsessie en boordtoer op die plaas Zoetwater buite Hopetown het produsente, landboukundiges en studente die geleentheid gebied om eerstehands te ervaar waar teorie en praktyk mekaar ontmoet.
Internasionale vooruitsigte bly ondersteunend. Een van die wêreld se grootste produsente, Mexiko, se produksie het vanaf 2019 tot 2025 met tussen 35% en 40% afgeneem weens droogte, terwyl wêreldvraag stabiel bly. Die VSA, nog ’n vername produsent, se plaaslike vraag neem toe, met minder produkte beskikbaar vir uitvoer. Hierdie dinamika ondersteun beter dollarpryse en skep geleenthede vir Suid-Afrika om hom as betroubare verskaffer te vestig.
SA ’n stabiele mark
“Die voorlopige skatting is dat Suid-Afrika vanjaar moontlik bo 50 000 ton kan produseer. Dit is net ’n skatting, maar dit is positief omdat dit beteken ons kan ’n volhoubare en stabiele aanbod lewer. Wanneer ’n mark eers geskep is, moet jy konsekwent kan voorsien. As jy een jaar nie genoeg kan lewer nie, gaan hulle elders koop,” sê Cloete.
“Ek glo ons het in Suid-Afrika ’n stabiele markomgewing vir pekanneutproduksie gevestig. En ons het baie jong boorde wat nog in produksie kom.”
Waar die Hopetown-sessie die globale prentjie geskets het, het die pekanboordtoer op Zoetwater die fokus teruggebring na die wortels: boordbestuur.

“Wat jy in jou boord sien gebeur, is die resultaat van wat jy doen,” het Werner van der Westhuizen van Schoeman Boerdery in die boorde beklemtoon.
Praktiese bestuur, fyn beplanning op Zoetwater
Die Zoetwater-ontwikkeling het in 2016 begin, gevolg deur verdere aanplantings in 2017 en 2018. In 2019 is bome tussen bestaande rye ingeplant om digtheid tot 280 bome per hektaar in ouer blokke te verhoog. Vandag bestuur hulle 69 000 bome op 226 hektaar, vertel Werner van der Westhuizen van Schoeman Boerdery.
Voor aanplanting is deeglike grondkartering en chemiese ontledings gedoen. Ondergrondse kontoere is met ’n diep tand (tot 1,8 m) getrek om wortelontwikkeling te bevorder.
Nouer aanplanting en boomgroottebeheer
Sedert 2021 is nouer aanplantings geïmplementeer om boomgrootte langer kleiner te hou en groter handbeheer moontlik te maak.
“Hoe nader jy plant, hoe groter die bestuursuitdaging,” verduidelik Van der Westhuizen. Verskillende ouderdomme in dieselfde blok bemoeilik water- en chemiese bestuur, daarom moet nuwe ontwikkelings binne twee jaar gevestig wees.

Met die regte bestuurspraktyke in die boord en ’n gesofistikeerde uitvoerstrategie kan die plaaslike pekanneutbedryf volhoubaar uitbrei. Foto: VKB Groep
Die plaas fokus op vier kultivars: Wichita, Choctaw, Navo en Western, met ’n mikpunt van 3 tot 4 ton per hektaar. Die belangrikheid daarvan om die pekankultivar se genetika te toets is ook bespreek aangesien China goeie kwaliteit en kultivarsuiwerheid hoog aanslaan.
Verskillende plantmateriaal is oor tyd gebruik – oopwortelbome, sakkiesbome asook airpod-bome. Vandag wissel boomouderdomme van vyfde blad tot tien jaar.
Bemesting: Meer is nie altyd beter nie
Van der Westhuizen waarsku produsente teen die versoeking om ’n oes met kunsmis te “koop”.
“Kostegewys… dit help nie jy probeer ’n pekanneutoes koop nie. Dit gaan vir jou niks beteken nie – ekstra kunsmis beteken nie jy gaan ’n groter oes afhaal nie, jy gaan net bietjie meer vegetatiewe groei kry, jy gaan definitief ’n beter neutgrootte kry, maar oorbemesting is nie die antwoord by pekanneute nie.”
Met kunsmis, chemikalieë, water en elektrisiteit wat duurder word, moet produsente volgens hom streng fokus op opbrengs teenoor koste.
“Wat jy in jou boord sien gebeur, is die resultaat van wat jy doen,” het hy beklemtoon. “Ons sien dit al hoe meer, sny bietjie terug op jou bemesting, speel rond met dit, want dit help nie jy stoot jou koste net op nie. Kunsmis, chemikalieë, water, krag – alles raak net duurder elke jaar, so ons moet saam met dit boer. Ons probeer mos almal maar net die beste met ons insette en uitsette.”
Gereelde grond- en blaarontledings vorm verder die basis van hul bemestingsprogram. Presisie, eerder as volume, bepaal hul strategie.

Waar die Hopetown-sessie die globale prentjie geskets het, het die pekanboordtoer op Zoetwater die fokus teruggebring na die wortels: boordbestuur.
In die Zoetwater-pekanboord word mikro- én drupbesproeiing toegepas, wat albei hul eie voordele het. Dit is daarom belangrik om dit toe te pas wat vir jou boord en beplanning werk, sê Van der Westhuizen.
Snoei as strategiese instrument
Met 69 000 bome word snoei ’n presisie-instrument op Zoetwater. Skerphoeke word doelbewus met die hand gesnoei en verwyder om toekomstige strukturele probleme te voorkom.
Die doel is om soveel moontlik draposisies te ontwikkel deur takbreuke en internodale groei te stimuleer. Handmatige bestuur geniet voorkeur bo meganiese hedging, wat volgens Van der Westhuizen dikwels nuwe probleme skep. Die nouer aanplanting van die boord is juis sodat daar met ’n kleiner boom geboer kan word vir langer invloed en beheer met die hand.
“Ek het nog nie die perfekte resep nie,” vertel hy en voeg by dat hul nouer aanplantings nog oor tyd moet bewys lewer.
Van boord tot wêreldmark
Wat duidelik uit beide geleenthede blyk, is dat sukses in die moderne pekanbedryf nie meer net in die boord of net in die mark bepaal word nie – dit lê in die sinergie tussen die twee.

Suid-Afrika het ’n stabiele markomgewing vir pekanneutproduksie gevestig, met baie jong boorde wat nog in produksie kom.
The Pecan People se strategie rus op vier pilare:
- Onwrikbare fokus op kwaliteit en kultivarsuiwerheid
- Deursigtige, produsent-gedrewe besigheidsmodelle
- Markdiversifikasie en internasionale posisionering
- Operasionele uitnemendheid in verwerking en logistiek
Vir produsente beteken dit dat presisie in bemesting, snoei en besproeiing direk gekoppel is aan internasionale reputasie en prysprestasie.
Die boodskap aan die bedryf is oopgekraak: Suid-Afrika is strategies geposisioneer in ’n groeiende wêreldmark.
Met die regte bestuurspraktyke in die boord, gekombineer met ’n gesofistikeerde en doelgerigte uitvoerstrategie, kan die plaaslike pekanneutbedryf volhoubaar uitbrei. Só word produsente se winsgewendheid beskerm en versterk in ’n tyd van stygende insetkoste en voortdurend veranderende markvereistes.








