Van blomknop tot bottel
Liewe lesers, ons reis vandag deur die wingerde van die Noord-Kaap – daardie skroeiend warm landskap (in die somer) waar die wingerdstokke hul toorwerk doen. Maar, soos met die meeste toorkunsies is daar altyd ‘n paar misverstande. Trek jou hoed reg, vat ‘n slukkie van jou gunsteling rooi of wit, en kom luister.
Ons storie begin by die blomknoppie. Baie mense, selfs van ons ywerigste wingerd-entoesiaste, sien die eerste knoppies aan die wingerde en dink: “Aha! Die druiwekorreltjies begin al wys!” Maar hier is die waarheid: Daardie knop is glad nie ‘n korrel nie. Dit is die voorloper van ‘n blom wat eers moet oopgaan en bestuif word voordat enige druiwekorrels kan vorm.
In die lente, wanneer die Noord-Kaap nog so ‘n bietjie koue lug op sy asem het, begin die wingerde bot. Die klein blomknoppies vorm, maar ons moet wag totdat die blomme begin oopgaan. Hierna volg wat ons noem “vol blom”, daardie kort maar kosbare tyd waarin die wind, en partykeer ‘n nuuskierige by of twee, die blomme help bestuif. Eers ná hierdie liefdesdansie van die natuur begin die korreltjies vorm.
Anders as wingerde in die suidelike dele van die land, is ons wingerde in die Noord-Kaap ‘n bietjie meer geduldig. Waar Stellenbosch s’n dalk al vroeg in die lente pragtig bot, hou die koel nagte van die Noord-Kaap ons wingerde so ‘n bietjie langer in ‘n winterbui. Die warmer weer laat hulle uiteindelik lewe kry. Tydens blomtyd hou boere die wingerde met valkoë dop, want siektes kan die stingeltjies aanval.
Intussen is daar verskille tussen kultivars – party blom later as ander. Snoeityd speel ook ‘n groot rol: Laat snoei beteken laat bot en dus later blomvorming.
Soos ons nou hier sit en gesels, het die wingerde al oorgegaan van blom tot korrel. Teen Februarie hang die trosse al pronkerig aan die stokke – heerlike druiwe wat binnekort in bottels gaan beland. Dit wys net weer hoe wonderlik en delikaat die natuur is, van blomknop tot bottel!
Volgens Hennie Huskisson, wynmaker by Landzicht op Douglas, word daar in die bedryf gespot dat almal in November spog met hoe goed dit in die wingerde lyk. Teen Februarie word daar weer verskonings gemaak! Maar vanjaar, sê Hennie, lyk die wingerde werklik gesond en sterk. Komende Februarie se oes beloof dus om ‘n goeie een te wees.
Volgende keer as jy deur ‘n wingerd stap en daardie piepklein knoppies sien, onthou: Dit is nie sommer net ‘n korrel wat wag om geëet te word nie. Dit is eerder die begin van iets groots!
*Artikel geskryf deur Mariette Olwagen