Landzicht-hanepoot se soet erfenis
“Honey Pot” – so het Britse soldate tydens die Anglo-Boereoorlog na dié soet druifsoort aan die suidpunt van Afrika verwys. Dié naam het moontlik mettertyd tot “hanepoot” ontwikkel, lui een teorie.
Maar dit was Jan van Riebeeck self wat die hanepootdruif reeds in 1684 na Suid-Afrika gebring het, al die pad vanuit die Nederlandse dorpie Haarlem. (In die 1920’s het DNS-toetse deur prof. Abraham Perold van die Universiteit Stellenbosch onthul dit is dieselfde druifsoort wat elders ter wêreld as Muscat de Alexandria bekend staan.)
Vandag is onse “honey pot” plaaslik bekend vir sy veelsydigheid en unieke geurprofiel. As een van die oudste druifsoorte wat in Suid-Afrika aangeplant is, beklee dit ʼn belangrike plek in die Suid-Afrikaanse wynboulandskap. Dit is ook ʼn gewilde keuse van wynmakers en natuurlik wynliefhebbers ook.
Landzicht se Hanepoot: Gehaltewyn
GWK se wynkelder, Landzicht, se Hanepoot hoef glad nie terug te staan vir sy eweknieë nie. Inteendeel, in 2023 het dié wyn sy reputasie as ʼn topklasproduk gestand gedoen deur ʼn dubbelgoue Lumo-toekenning vir die 2021-oesjaar los te slaan.
Die druiwe vir Landzicht se Hanepoot was tot dusver afkomstig uit Douglas langs die Oranjerivier. Hierdie wingerde is egter intussen met ander landbougewasse vervang. Dit weerspieël ʼn breër tendens in grondgebruikveranderinge in dié streek.
Daar word tans beplan om hanepootstokke op die oop stuk grond agter die kelder aan te plant. Intussen is daar nog voldoende voorraad om produksie te kan volhou totdat die nuwe wingerde volwasse is. Landzicht sien hierdie oorgangstydperk as ʼn geleentheid om sy toewyding tot die bewaring van die ryk erfenis van dié Suid-Afrikaanse wynsoort te toon.
Deur in nuwe aanplantings te belê, verander Landzicht ʼn uitdaging in ʼn positiewe stap vorentoe. Só word daar ook verseker dat wynliefhebbers nog lank dié lekkerdrinkwyn kan geniet.
Die toekoms van Hanepoot
Hanepoot sal altyd ʼn gekoesterde plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis hê. Histories is dit vir vars eetdruiwe tot soet wyne en selfs rosyne gebruik. Die druif se veelsydigheid sal sy voortgesette relevansie en aanvraag verseker.
Hanepoot is ideaal vir die maak van vrugtige, droë tafelwyne, en dit lewer ook ʼn uitstekende soetwyn, sê Hennie Huskisson, wynmaker by Landzicht. Daarbenewens is dit ook ideaal vir die maak van korrelkonfyt en “boerejongens” (brandewyn-ingelegde rosyne).
Landzicht se hanepootwyn is ʼn viering van erfenis en gehalte. Met sy historiese relevansie en veelsydigheid sal dit ʼn gekoesterde juweel in die Suid-Afrikaanse wynlandskap bly.