Port: ʼn glasie teen die koue
Met die winter wat tans sy ysige kloue diep in Suid-Afrika se vel inslaan, soek menige ʼn bietjie vertroosting teen die snerpende koue. En watter beter toevlug is daar as ʼn glasie ryk, fluweelsagte port?
Stel jou voor: Jy sit voor ʼn knetterende kaggelvuur, toegedraai in ʼn sagte kombers, met ʼn glasie port in die hand. Die diep, komplekse geure van droë vrugte, neute en subtiele speserye maak jou slukkie vir slukkie warm van binne. Dalk peusel jy ook aan ʼn gepaste portpasmaat soos vrugtekoek, donker sjokolade of ʼn bord kaas. Hemels!
Een ding is seker: Port is veelsydig. Dit kan voor ete geniet word, maar meer dikwels as nagereg en soms saam met kaas. Of jy nou alleen ontspan of saam met vriende en familie kuier, ʼn glas port kan enige koue winteraand in ʼn gesellige, luukse ervaring omskep.
Maar die verhaal van dié geliefde wynstyl is interessanter as wat ʼn mens dalk sou raai. Port het sy ontstaan in die heuwels van Portugal in die laat-1600s gehad – heel per ongeluk!
Die wyn wat in die Douro-vallei in noordelike Portugal verbou is, is oorspronklik van hier met die Douro-rivier langs na O’Porto, ʼn kusdorpie, vervoer. Hier is die wyn geberg totdat dit verkoop is. Maar die byvoeging van alkohol, wat aanvanklik gebruik is om die wyn te preserveer, het toevallig die kenmerkende port-styl tot gevolg gehad: ʼn soet wyn met ʼn alkoholinhoud van 18%.
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het port-produksie volgens die Portugese metode aangepak. Met verloop van tyd is Portugese kultivars selfs plaaslik aangeplant om dieselfde karakter as die oorspronklike Portugese port te verkry. Vanweë handelsmerkbeskerming mag Suid-Afrikaanse produsente egter nie die naam “Port” gebruik nie. Die woord “Cape” in produkte soos “Cape Ruby”, “Cape Tawny”, of “Cape Vintage” verwys dus na hierdie wynstyl.
Die vervaardiging behels die oes van druiwe met ʼn hoë suikerinhoud. Nadat gis toegevoeg is en die suikervlak tot tussen 90-120g/l gedaal het, word die gistingsproses deur die byvoeging van alkohol gestop. Hierdie proses, bekend as fortifisering, verhoog die alkoholinhoud tot 18-20%.
Nog ʼn interessantheid is dat portvate, bekend as “pipes”, langer is as gewone vate en van kastaiinghout gemaak word. Hierdie vate speel ʼn belangrike rol in die verouderingsproses.
Die wynkelder Landzicht op Douglas in die Noord-Kaap fokus op gehalte deur die gebruik van die Tannat-kultivar om optimale vrugtigheid in hul port, oftewel Cape Ruby, te verseker. Landzicht se Cape Ruby het ʼn 2½-ster-John Platter-toekenning ontvang en is ʼn staatmakerkeuse vir enige portliefhebber.
Maar hoe dit ook al sy, port bly die koning van winterwyne. So, wanneer laas het jy ʼn glasie geniet? Maak gerus ʼn plan terwyl dit nog winter is. Gesondheid!
*Artikel geskryf deur Mariette Olwagen










