Ekonomie: ‘n Landbou-oorsig
GWK se landbou-ekomiese afdeling hou tendense in die onlangse verlede en nabye toekoms dop sodat ons produsente ingeligte besluite kan neem.
Graannuus
Die volgende prysbewegings het in die graanmarkte plaasgevind:
(Graan, 2024)
(CME Group, 2024)
Suid-Afrikaanse graanpryse het die afgelope twee maande opwaarts geneig. Dit kan meer aan binnelandse as buitelandse faktore toegeskryf word. ‘n Moelike 2024-somerseisoen het steeds ‘n invloed op SAFEX-markte, en met minder as die verwagte lentereën wat in die binneland ontvang is, verloop aanplanting stadiger as gewoonlik. Produsente in die oostelike streke, soos die Hoëveld en Oos-Vrystaat, het in Oktober graan begin plant, maar die reën het tot dusver slegs plek-plek voorgekom en daar word slegs geplant waar die grondvog voldoende is. In die westelike streke, soos Bothaville, Hoopstad en Noord-Wes, is daar beplan om in November te begin plant, maar die reën was tot dusver wyd verspreid en sporadies. Terwyl aanplanting nog nie op dreef is nie, sal pryse onder verdere opwaartse druk verkeer weens kommer oor toekomstige voorraadvlakke. Sonneblompryse het ook skerp gestyg as gevolg van laer palmolievoorrade wêreldwyd.
(Willemse, 2024)
Wêreldnuus
November is verkiesingstyd in die VSA en die land was jare laas so verdeeld tussen die Republikeine en Demokrate. Donald Trump het die verkiesing egter loshande gewen en is weer op pad Withuis toe. Sy tweede termyn gaan ‘n groot impak op die ekonomie en regeringsbeleid hê – nie net vir Amerikaners nie, maar ook vir die res van die wêreld. Trump se vorige termyn was in ‘n tyd van minder konflik en ekonomiese teëspoed. Die volgende kwessies sal Trump se presidentskap beïnvloed:
- Die VSA se in- en uitvoertariewe sowel as talle handelsoorenkomste.
- Die rol van die VSA in NAVO – as NAVO verswak, kan China oorweeg om aggressiewe stappe teen Taiwan te neem.
- Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne en die vlak van wêreldwye betrokkenheid daarby.
- Die onstuimigheid in die Midde-Ooste en die mate waarin dit kan eskaleer.
Amerikaanse kiesers het ook vir albei kamers van die kongres gestem. Trump se Republikeine het die senaat én huis van verteenwoordigers met ‘n meerderheid verower, wat dit vir hulle baie makliker sal maak om wetgewing goedgekeur te kry.
In ander dele van die wêreld is die jongste ekonomiese data van die Eurosone gepubliseer, wat sterker groei as verwag toon met 0,4% groei kwartaal-op-kwartaal. Die Franse en Spaanse ekonomieë het beter as verwag gevaar, maar die Duitse ekonomie sukkel om momentum te bou en het net-net ‘n resessie vermy.
In Asië het China se ekonomie steeds ‘n stewige basis, en daar is wydverspreide stimuleringsmaatreëls aangekondig.
(BER, 2024)
(Economist, 2024)
Plaaslike nuus
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het op 30 Oktober sy mediumtermyn-begrotingsrede gelewer. Die primêre oorweging was om skuld en wegholuitgawes te konsolideer, soos byvoorbeeld: geen verdere reddingsboeie vir die sukkelende poskantoor nie, en vroeë aftreepakkette vir staatsamptenare om die salarisrekening te verminder. Belegging in infrastruktuur is ook as noodsaaklik beklemtoon, sowel as samewerking met die privaatsektor om infrastruktuur te onderhou, op te gradeer en nuwe projekte te begin. Volgens die minister is groei die oplossing, en die enigste rede waarom die skuldlas kommer wek, is die swak groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie en die gepaardgaande vermoë om skuld te diens. Baie ander ontwikkelende lande het groter skuld-tot-BBP-verhoudings, maar hulle ekonomiese groei is goed.
’n Positiewe punt van die rede is dat Suid-Afrika ’n primêre oorskot kan verwag, wat beteken dat die regering se besteding minder is as sy inkomste. Dit sal die eerste oorskot in 15 jaar wees.
(BER, 2024) (Williams, 2024)
*Bronne:
Bibliography
BER. (2024). BER WEEKLY. Stellenbosch: BER.
CME Group. (2024, 11 01). CME GROUP. Retrieved from CME GROUP: https://www.cmegroup.com/markets/agriculture/grains/corn.html
Economist, T. (2024, 10 31). The Economist. Retrieved from The Economist: https://www.economist.com/briefing/2024/10/31/how-bad-could-a-second-trump-presidency-get
Graan, G. (2024, 11 01). Kimberley.
Willemse, J. (2024). Landbou Mar [Recorded by J. Willemse]. Clarens, Free State, South Africa.
Williams, F. (2024, Oktober 31). Netwerk24. Retrieved from Netwerk24: https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/begroting/groei-groei-groei-dit-sal-alles-oplos-se-godongwana-20241031