ʼn Viering van wyn en samesyn!
Op 25 Mei is die eerste Landzicht-dag by die Landzicht-wynkelder in Douglas gehou. Hierdie spesiale dag is gelei deur Mandie Dippenaar van Landzicht, in samewerking met Hennie Huskisson, die wynmaker van Landzicht. Die doel was om die plaaslike gemeenskap bymekaar te bring en Landzicht se wyne groter blootstelling te gee.
Om so ʼn groot geleentheid te organiseer, is glad nie kinderspeletjies nie. Dippenaar het vertel advertensies op sosiale media en mond-tot-mond-bemarking het ʼn sleutelrol in die sukses van die dag gespeel. “Ons span het hard gewerk om alles vlot te laat verloop,” sê sy.
Die Landzicht-wynkelder was die ideale venue vir die dag se velerlei aktiwiteite. Die atmosfeer was gesellig en die weer het perfek saamgespeel.
Verskaffers het van 08:00 af hul stalletjies begin opstel. ʼn Magdom produkte en lekkernye is hier aangebied – alles van skilderkuns en spookasem, tot braaivleis, roosterkoek, en ʼn koektafel vol heerlike gebak. Signature Deli, bekend vir hul bekroonde jogurt, was ook daar.
Een van die hoogtepunte van die dag was die wynproe wat deur Huskisson aangebied is. Gaste het ʼn reeks wyne geproe en kon ook ʼn demonstrasie sien van sogenaamde “shabrage”, waar ʼn bottel Franse sjampanje met ʼn swaard oopgemaak is.
Volgens Dippenaar wys al die tevrede gaste en verskaffers die dag was ʼn groot sukses. Hulle beplan reeds om volgende keer nóg meer verskeidenheid te bied, moontlik met musiekoptredes en kompetisies om die dag nóg meer opwindend te maak.
Huskisson het op sy beurt ook die dag as ʼn reusesukses beskryf: “Van vroegoggend af het die vure gebrand en die geur van braaivleis die gaste genooi. Die gelag van gelukkige kinders op ʼn springkasteel het die ouers toegelaat om ʼn formele wynproe by te woon,” het hy vertel.
Hy het ook beklemtoon hoe goed die stalletjies gevaar het, met baie wat vroeg al uitverkoop was.
Die bekoring van Landzicht
Wat Landzicht-wyne besonders maak, is die unieke terroir van die Karoo waar die druiwe verbou word. “Ons grond is anders, die klimaat verskil, en ons wyne is (positief) anders,” het Dippenaar verduidelik. Haar gunstelingwyne sluit die Columbar 2019 en die Shiraz 2020 in. Sy meen die plaaslike gemeenskap verkies soeter wyne soos Blumchen of Rosenblumchen.
Vir mense van elders wat ook graag van Landzicht se uitsoekwyne wil proe, is daar ʼn aanlynwinkel, waar kliënte hul gunstelingwyne kan bestel. Bestellings word vinnig en effektief hanteer deur The Courier Guy, wat verseker dat die wyne vinnig by kliënte afgelewer word.
Maar vir die gemeenskap van Douglas, wat glad nie aanlyn hoef te bestel nie, het die eerste Landzicht-dag oorgeborrel van wyn en samesyn. Dippenaar kan skaars wag vir die volgende een.
Intussen kan sy ook nie ophou spog met Landzicht se uitsoekwyne nie. “Ons sien uit na die toekoms van kwaliteit-gebottelde wyne… met druiwe van die Karoo… waar die lug skoner is en alles rustiger gedoen word…”
*Artikel geskryf deur Mariette Olwagen