Smelt-in-jou-mond Malva-poeding
Posted On May 31, 2024
0
191 Views
Foodies of SA het hierdie maklike Malva-resep aanmekaar gesit met Suid-Afrikaanse bestanddele. Nét reg om jou familie Sondagmiddag te beïndruk!
Bestanddele:
(vir die Malva-poeding)
- 2 koppies koekmeel
- 2 teelepels bakpoeier
- 1 teelepel koeksoda
- ʼn knippie sout
- 1/3 koppie botter, versag
- 1 koppie donker bruinsuiker
- 2 eiers
- 3 eetlepels appelkooskonfyt
- 1 eetlepel appelasyn
- 1 blikkie Nestle Ideal Milk
(vir die sous)
- 1 blikkie Nestle Ideal Milk
- 1/2 koppie water
- 1 koppie donker bruinsuiker
- 1/2 koppie botter
- 1 eetlepel appelkooskonfyt
Aanwysings:
Voorverhit die oond op 180°C en smeer ʼn medium-grootte, vierkantige, oondvaste bak met botter/spuit met kleefwerende middel.
(die Malva-poeding)
- Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam en plaas eenkant.
- In ʼn aparte bak, room die botter en suiker saam.
- Sodra die bottermengsel lig en lugtig is, voeg die eiers een vir een by.
- Klits goed ná elke eier.
- Voeg die appelkooskonfyt en asyn by en meng goed.
- Voeg die gesifte droë bestanddele en Nestle Ideal Milk by die geroomde mengsel en vou in tot net gemeng.
- Gooi die deeg in die voorbereide bak en bak vir 30 minute tot ʼn tande-/sosatiestokkie skoon uitkom wanneer dit daarin gedruk word.
(die sous)
- 10 minute voor die poeding klaar gebak het, gooi al die sousbestanddele in ʼn pot op die stoof en bring tot by kookpunt. Roer gedurig en maak seker die suiker is opgelos.
- Laat prut vir 5 minute.
- Gooi oor die Malva sodra dit uit die oond kom en laat dit intrek.
Bedien warm met vla.
*Bron: foodiesofsa.co.za