Eet lemoene en bly die winter gesond!
Lemoene is hoog in vesel en skatryk aan voedingstowwe soos vitamiene, minerale en antioksidante. Hierdie antioksidante hou gesondheidsvoordele soos die ondersteuning van jou immuunsisteem in. Verskeie studies toon dat die gebruik van lemoene jou gesondheid op verskeie maniere kan bevoordeel.
Lemoene is ryk aan vesel
Die inname van vesel is noodsaaklik vir algehele gesondheid en help met ʼn gesonde spysverteringstelsel, verlaag die risiko van hartsiektes, kolonkanker en vetsug.
Lemoene is ryk aan voedingstowwe soos Vitamiene C en folaat
ʼn Lemoen van 140g kan tot 92% van jou liggaam se daaglikse vitamiene C-behoefte dek. Jou liggaam gebruik hierdie voedingstowwe vir jou algemene gesondheid, immuniteitsfunksies, kollageensintese en ysterabsorpsie. Folaat is ʼn B-vitamien wat ʼn belangrike rol speel in jou metabolisme, en fetale en plasentale ontwikkeling. Verder bevat lemoene ook kalsium, kalium en tiamien (vitamien B1).
Lemoene is ʼn bron van bioaktiewe plantverbindings
Die bioaktiewe plantverbindings in lemoene het anti-inflammatoriese- en antioksidant-effekte. Die plantverbindings kan verdeel word in flavonoïede, karotenoïede en vitamiene C. Flavonoïede verlaag bloeddruk, dit het ʼn anti-inflammatoriese en antioksiderende invloed op die liggaam en dit verbeter die bloedvatfunksie van die liggaam. Karotenoïede is verantwoordelik vir die ryk kleur in sitrusvrugte en deur genoeg daarvan in te neem, beskerm jy jou liggaam teen hartsiektes.
Sewe redes waarom lemoene noodsaaklik is:
Lemoene hou jou oë gesond en verseker ʼn goeie visie: Vitamiene C hou groot ooggesondheidsvoordele in, dit verminder die risiko op katarakte, dra by tot gesonde okulêre bloedvate en vertraag ouderdomsverwante makulêre degenerasie. Die hoë beta-karoteen in lemoene word deur jou liggaam gebruik om vitamiene A te produseer (ʼn tekort aan vitamiene A is die hoofoorsaak van voorkombare blindheid by kinders).
Lemoene verminder die risiko van ʼn beroerte: 87% van alle beroertes vind plaas omdat die bloedvat wat bloed aan die brein verskaf, verstop is. Die verbinding in flavanone wat in sitrusvrugte voorkom, verlaag die risiko aansienlik.
Lemoene help met eetlusbeheer: Die hoë veselinhoud van lemoene help om dermbeweging te normaliseer, verlaag cholesterolvlakke, beheer bloedsuiker en help om ʼn gesonde gewig te bereik. Vesel vertraag die verteringsproses in jou liggaam en dit veroorsaak dat jy langer versadig voel.
Lemoene help jou liggaam veg teen kanker: Die verbinding sitruslimonoïede wat in sitrusvrugte voorkom, het indrukwekkende kankerbestrydingsvermoë. Laboratoriumtoetse toon dat die verbinding die vermoë het om dikderm-, vel-, mond-, bors-, maag- en longkanker te bestry.
Lemoene bevorder ʼn gesonde vel: Vitamiene C help jou liggaam om kollageen te produseer. Dit is ʼn proteïen wat noodsaaklik is vir ʼn gesonde vel.
Lemoene hou jou bloedvate gesond: Daaglikse vitamiene C-inname help met die voorkoming van vaskulêre siektes.
Lemoene help om jou liggaam te herstel: Die vitamiene C in lemoene is verantwoordelik vir die groei en herstel van weefsel in die liggaam. Verder ondersteun dit ook genesing van wonde en help met die handhawing van gesonde bene en tande. Vitamiene C is ook verantwoordelik vir die produksie van kollageen wat kraakbeen, ligamente, tendons, bloedvate en vel produseer.
Gelukkig is lemoene lekker! Dit is nie ʼn straf om dit te eet nie en dit dra by tot ʼn gesonde leefstyl.
*Bronne:
- Oranges 101: Health Benefits and Nutrition Facts (healthline.com)
- 7 Unbelievable Benefits of Eating an Orange Every Day – stack
*Hooffoto: Designed by Freepik