Resep: Gesonde, vinnige smoothies

Hierdie koue drankie is, as dit rég gemaak word, ʼn goeie bron van vitamiene en kan selfs ʼn maaltyd vervang – en dan is dit nog lekker ook! Van die voordele hiervan is dat dit gerieflik, vinnig en veelsydig is, terwyl dit belaai is met voedingswaarde wat voordelig vir breinfunksie, energievlakke en spysvertering is. Jy kan selfs die bestanddele opsny en in sakkies vries vir wanneer jy dit nodig het.
Wat moet ek in ʼn smoothie sit?
- Proteïene soos proteïenpoeier, Griekse joghurt, of neutbotters (soos grondboontjiebotter)
- Vrugte (insluitend bessies, mango, piesang en avokado)
- Groente (soos spinasie)
- ʼn Vloeistofbasis soos melk, water, vrugtesap, of verkoelde rooibostee
Hoe kan ek keer dat dit vervelig raak?
Hier is ʼn paar kombinasie-idees vir jou volgende smoothie (om saam met ʼn vloeistofbasis van jou keuse te meng in die voedselverwerker).
- Waatlemoen, appel, lemoensap en ys
- Pynappel, mango, vanielje-joghurt
- Hawermout, grondboontjiebotter, piesang, heuning
- Koue rooibostee, gevriesde bessies, aarbei-joghurt en spinasie
- Piesang, pynappel, aarbeie en vrugtesap
- Griekse joghurt, spinasie, piesang, heuning, groen appel
- Piesang, mango, heuning, Griekse joghurt, (gaar) beet
Moet ook nie van die natuur se medisyne soos gemmer, borrie en kaneel vergeet nie! Begin (of eindig) jou dag met ʼn heerlike, veselryke hupstoot.
*Bronne:
- familiestogetheroc.org
- hopkinsmedicine.org
*Hooffoto: Designed by Freepik