Boerseun, baanbreker: Pierre Ferreira se pad na uitnemendheid

Hy het létterlik saam met die hanslammers grootgeword, vertel Pierre Ferreira, Bedryfshoof: Kultivarontwikkeling en Evaluasie by GWK. Van kindsbeen af, as ʼn tjokkertjie in die Vrystaatse vlaktes naby Luckhoff, het Pierre nog altyd met sy voete stewig in die landbou gestaan. Sy pa en twee broers boer vandag nog daar. Maar Pierre se eie landboupad het ʼn ander wending geneem. Ná sy studie en enkele ander draaie in die bedryf het hy hom in 2011 by GWK in die Noord-Kaap aangesluit. Dit is ʼn posisie wat hy vandag nog beklee.
Kommuniek het onlangs die voorreg gehad om met Pierre te gesels oor sy persoonlike en professionele geskiedenis, asook die unieke uitdagings en vreugdes van sy loopbaan.

Pierre Ferreira
Ons begin by die storie van die hanslammers. As baba was beesmelk te sterk vir hom, vertel Pierre. “Gelukkig het my oupa ʼn melkbok gehad wat hy gebruik het om die hanslammers mee groot te maak. Pleks van beesmelk het ek dan ook van die bokmelk gekry.”
En dít is dan hoe hy letterlik saam met die hanslammers grootgeword en die landbou so saam met sy moedersmelk ingekry het.
Met sy kinderdae op die plaas agter hom het Pierre die grootmenswêreld aan die destydse Technikon Vrystaat (nou bekend as die Sentrale Universiteit van Tegnologie) betree. Hy het sy M-Tech-graad met navorsing oor die invloed van rywydte en saadbehandelings op sojabone behaal. Hiermee is hy ook met die Kanselierstoekenning vir die beste nagraadse student beloon.
Ná sy studie het Pierre praktiese ervaring in die bedryf begin opdoen. Hy het sy loopbaan as ʼn juniormielieteler by die destydse Link-Seed in KwaZulu-Natal begin, en het later in dieselfde provinsie as ʼn produksielandboukundige by Pannar Saad gedien. Hierna het hy hom by GWK in die Noord-Kaap aangesluit.
“Ek sê vir jou, almal kyk na GWK se proewe”
Pierre verduidelik sy werk by GWK fokus op navorsing en die identifisering van genetika wat die beste opbrengs per hektaar kan verseker. Dié werk laat hom toe om sy passie vir die landbou en wetenskap te kombineer. Maar hy meen een van die betekenisvolste aspekte van sy werk is die impak op produsente. Deur onafhanklike proewe bied GWK ʼn waardevolle bron van inligting vir produsente wat winsgewend wil bly.
Pierre onthou ʼn onlangse gesprek waar ʼn produsent die volgende woorde kwytgeraak het: “Ek sê vir jou, almal kyk na GWK se proewe.”
“En dít is juis wat ek die meeste van my werk geniet,” sê Pierre. “Die positiewe bydrae.”
In samewerking met die saadmaatskappye word strookproewe op mielies, koring en sojabone gedoen. Die proewe word gedoen in die GWK-gebied, wat tot in die Oos-Kaap strek, verduidelik Pierre. Daar is dus ʼn groot poel van genetika wat getoets word, en die aantal deelnemers neem steeds toe.
“Statistiese grondboonkultivarproewe word ook in die Noord-Kaap, Noordwes, en die Vrystaat gedoen, in samewerking met die maatskappy Triotrade, waarvan GWK ʼn aandeelhouer is. Plaaslike sowel as internasionale grondboonkultivars word geëvalueer.”
Pierre is veral opgewonde oor sy betrokkenheid by die ontwikkeling van ʼn hoë-olien Spaanse grondboonkultivar, wat uitvoer na verskeie wêreldmarkte sal moontlik maak.
Hierdie inisiatiewe is van kardinale belang vir die volhoubaarheid en mededingendheid van Suid-Afrikaanse landbou, veral te midde van veranderende klimaattoestande en markdruk. Ferreira beklemtoon die noodsaaklikheid van deeglike navorsing en die toepassing daarvan in die praktyk om produsente te bemagtig om die hoogste opbrengs en gehalte van hul oes te verseker.
Daar is niks so sleg as ʼn proef wat nie mooi is nie
Vir Pierre is daar nie regtig iets soos ʼn “tipiese dag” met ʼn vaste roetine nie. Seisoenale aktiwiteite bepaal die ritme van sy loopbaan en elke dag bied nuwe uitdagings en groeigeleenthede.
Goeie kommunikasie met produsente is van kardinale belang. Pierre meen dit is ook baie belangrik om deurentyd ʼn hoë standaard te handhaaf om waarde toe te voeg vir die saadmaatskappye wat aan die GWK-proewe deelneem.
“Akkurate werk, oop kommunikasie en regverdigheid is waaraan ons geken word. Daar is vir my niks so sleg as om met ʼn proef te werk wat nie mooi is nie. Die natuur is buite ons beheer, maar dit wat beheer kan word, moet perfek uitgevoer word.”
Rugby, kitare en Clivias
Buite seisoen fokus Pierre op die verwerking en publisering van data, asook beplanning vir die nuwe seisoen. Masjinerie word nagegaan en kommersiële aanplantings word besoek, maar dinge is dan effens rustiger. Hy kry dan kans vir sy stokperdjies – tuinmaak, musiek maak en jag.
Wat die tuinmaak betref, versamel Pierre verskillende kleure Clivias. “Ons as Suid-Afrikaners kan baie trots wees dat hierdie spesie inheems aan Suid-Afrika is.”
En die musiek? “Ek het in ʼn laat stadium begin kitaar leer speel. Saam met my vrou is ons deel van die orkes van ons plaaslike kerk. Ek is steeds ʼn leerling wat hard werk daaraan om my kitaarvaardighede te verbeter.”
En hy is lief vir jag – “want ek bly mos darem ook in die Noord-Kaap!”
Verder is hy ook nog bevoorreg om saam met sy pa by die kus te kan hengel wanneer die geleentheid hom voordoen. Die bewaring van die marine hulpbronne lê hom baie na aan die hart.
Pierre se vrou, Venessa, is ʼn gr. 2-onderwyser by Douglas Primêr. Sy rig ook musiek by die skool af. Pierre en Venessa besoek graag saam koffie- en antieke winkels.
En natuurlik is Pierre ook lief vir braai en rugby. Hy is ʼn vurige Cheetah-ondersteuner — “met ʼn sagte plekkie vir die Griekwas-span”.
Dit wat jy nié gedoen het nie
“Dit is nie die werk wat jy gedoen het wat jou moeg maak nie, maar dit wat jy nié gedoen het nie,” som Pierre sy lewensleuse op.
Dít is hoekom Pierre Ferreira seker maak hy gryp die lewe met albei hande vas. Met sy toewyding tot uitnemendheid en sy vermoë om oplossings vir die uitdagings van die landboubedryf te vind, dra hy beslis by tot die sukses en volhoubaarheid van die landboubedryf. Sy passie, integriteit, en vindingrykheid maak hom ʼn waardevolle bate vir GWK en die landbougemeenskap as ʼn geheel.

Aan die werk tussen grondboonkultivarproewe
*Kommuniek publiseer deurlopend die resultate van kultivarproewe wat deur hierdie span uitgevoer word.
(Mariette Olwagen)