Redakteursbrief
Daar bestaan ʼn toestand genaamd Seasonal Affective Disorder, of SAD (heel gepas).
Dit is wanneer iemand deur ʼn kort periode gaan waarin hulle depressief voel, of net nie heeltemal soos hul gewone self nie. Hierdie veranderinge in gemoedstoestand loop dikwels hand aan hand met seisoensveranderinge. Dit kan lig tot ernstig wees en beïnvloed hoe ʼn persoon voel, dink en optree.
In die Noordelike Halfrond gebeur dit tipies hierdie tyd van die jaar, maar word toegeskryf aan minder sonlig en korter dae. ʼn Tekort aan sonskyn is nie iets waaroor ons hier in die Noord-Kaap kan kla nie, en tog begin baie soortgelyke simptome insluip hier in Oktober, November en Desember.
Die laaste paar maande, wat op die einde van nóg ʼn jaar dui, is soms oorweldigend. Sonder dat ʼn mens dit besef, dra jy al vir amper ʼn jaar aan 12 maande se die spanning wat met werk en persoonlike sake gepaard gaan, se wipplank van emosies tussen suksesse en uitdagings – en jy is uitgeput. En die fees- en familietyd lê nog voor.
As daar ʼn boodskap is waarmee ek graag elkeen van ons lesers wil los in die laaste Kommuniek vir die jaar, is dit om na jouself te kyk.
Doen selfevaluering om die klein suksesse van die afgelope jaar ook te vier. Jy het verder gevorder as wat jy dink.
Maak gebruik van die ondersteuning tot jou beskikking. Moenie alleen aan bekommernis dra nie, steun op die mense wat vir jou lief is en wíl help en skep spasie vir jouself om asem te haal.
Wees sagter met jouself. Dit is orraait om te erken waar dinge nie presies verloop het volgens jou plan nie – moenie jouself konstant kritiseer nie.
Kyk na jou gesondheid. Doen wat nodig is om geestelik en fisiek gesond te bly en moenie simptome ignoreer nie.
Vir elke leser wat gelukkig genoeg is om vakansie te gaan hou: reis veilig en rus uit. Vir ons produsente wat dié tyd van die jaar ekstra hard werk in die warm Desember-son: ons waardeer julle.
Ons wens julle ʼn geseënde, vreugdevolle tyd toe.