Luckhoff-boeredag: Korrekte bewerkings en watergebruike krities
Die GWK Landboudienste-span het in April ʼn bewerkingsdag in Luckoff aangebied. Hierdie area is ʼn belangrike skakel in die GWK-bedieningsgebied en produsente kon uitsien na verskeie insiggewende praatjies en demonstrasies.
Sowat 100 produsente het dié dag bygewoon wat onder meer ʼn waterpraatjie van dr. Johan Barnard (Universiteit van die Vrystaat), ʼn inligtingsessie oor kragopwekkers en sonpanele, sowel as ʼn aantal grondbewerkings en masjinerie-demonstrasies ingesluit het. Dié dag is aangebied op die plaas Inloop van Gideon (Skippies) Joubert.
Joubert is ʼn jare lange gewaardeerde GWK-kliënt en het dadelik ingestem om die belangrike inligtingsdag op sy plaas aan te bied. “Die dag gaan oor die beste bewerkingspraktyke met die oog op die uitdagings van beurtkrag. Ons moet deesdae optimaal bewerk en seker maak ons doen die regte ding”, sê hy.
ʼn Reënerige dag het op die produsente van Luckhoff gewag tydens vanjaar se boeredag. Gideon Joubert se plaas, Inloop, was die perfekte ligging.
Volgens Joubert is alternatiewe energiebronne die enigste manier om jou kop bo water te hou. “Eskom is ʼn groot kopseer vir almal en ons het reeds in 2020 met die sonpanele hier begin. Soos die fases en ure van beurtkrag toegeneem het, was ons geforseer om bykomende kragopwekkers by die onderskeie sonstasies te installeer – dit laat my toe om deurlopend krag te lewer.”
GWK se vennootskap met Joubert se boerdery was een van die hoofredes waarom hy ingestem het om betrokke te raak by die boeredag. “GWK het groot insae tot my besigheid en speel ʼn belangrike rol hier. Die landboukundiges, soos Armand van Eck, gesels weekliks met my om seker te maak dat alles reg loop.”
Die hoofspreker van die dag, dr. Johan Barnard, het aan produsente verduidelik hoe belangrik die effektiewe bestuur van ons land se water is. Hy het die gehoor aangemoedig om deurlopende grondmonsters te neem om seker te maak dat die kosbare natuurbron op die regte tye en in die regte hoeveelhede aangewend word.
Armand van Eck (GWK-landboukundige) was verantwoordelik vir die dag se reëlings. Volgens hom was dit hoogtyd om weer in Luckhoff hierdie tipe geleentheid aan te bied. “Ons beplan om elke tweede jaar hier in Luckhoff ʼn boeredag te hou en ons moes lank wag ná Covid-19 voor ons dit weer suksesvol kon aanbied. Die aanvanklike plan was om dit in Februarie te hou, maar met die hoë vlakke van beurtkrag moes ons produsente inderhaas rondskarrel om eers na hul besighede se belange om te sien.”
Produsente word verwelkom deur GWK se Dup Haarhoff.
Met die elektrisiteitsprobleme het die Landboudienste-span dit goedgedink om die boeredag hierop te laat fokus. “Die dag het gegaan oor bewerkings. Almal se vrae was, nou hoe nou? Hoe gaan ons verder met minder krag en die feit dat ons minder water kan neersit, sodat ons steeds suksesvol kan wees?” sê hy.
Die korrekte profielbewerkings kan deurslaggewend wees in die sukses van jou opbrengs. Volgens Van Eck het dit fyn beplanning geneem. “Die uitdaging is om jou profielbewerkings nou só te bestuur dat jy genoegsame water in die grond kan stoor om verdere beurtkragprobleme in die koringtydperk te verhoed.”
Van Eck is van mening dat die Luckhoff-area, en spesifiek Joubert se plaas, die perfekte plek vir die boeredag was. “April is die primêre bewerkingstydperk vir al ons boere, en hier in die Luckhoff-area is ʼn paar produsente wat net soveel water tot hul beskikking het. Hier moet drie oeste in twee jaar geplant word, en Skippies het ook oorlê-landerye gehad wat ons vir die boeredag se demonstrasies kon gebruik.”
Sonder die inkoop en belangstelling van die produsente sou hierdie tipe dae glad nie suksesvol kon wees nie. “Ek wil elke produsent bedank wat hierdie dag saam met ons bygewoon het. Hierdie dae skep ʼn platform om waardevolle inligting met mekaar te deel en dit is waaroor dit vir ons span gaan.”
ʼn ‘Mulching’-demonstrasie vind plaas.
GWK Meganisasie se Jason Prince (senior John Deere AMS-konsultant) het ʼn Turn Automation-demonstrasie aangebied en glo hierdie tegnologie gaan nog heelwat tyd en moeite vir produsente spaar. “Van ons produsente gebruik reeds die iTec-tegnologie, waar jy jou planter met die druk van een knoppie hidrolies kan lig en sak soos jy die land verlaat of binnegaan. Wat AutoTrac Turn Automation so ongelooflik maak, is dat dit die trekker outomaties laat draai. Jy stel vooraf die stelsel op en jou trekker doen die res.”
Wat sê die produsente?
Albe Grobbelaar (Luckhoff)
“My boerdery word deur GWK se presisieboerdery-eenheid gediens en ons is werklik tevrede met die waarde wat hul toevoeg tot ons besigheid. As daar sulke dae aangebied word, maak ons altyd seker ons woon dit by. Dit is lekker om nuwe tegnologie en idees te sien wat ons dan weer by ons kan implementeer. Ek dink die mees interessante deel van die dag was die verskille in bewerkingsdieptes, en hoe ons in die reste werk om die water onder die grond meer te kan kry gedurende beurtkrag se watertekorte.”
Martin Oosthuizen (Wildeklawer Boerdery, Hopetown)
“Nadat ek die dag se program gesien het, het ek besluit dat die onderwerpe relevant is en dat ek beslis sou moet bywoon. Ek het die praatjie oor die water geniet en die hommeltuigdemonstrasie was ook interessant. Dit is ʼn jammerte die wind het so gewaai, want ek sou graag meer daarvan wou sien. My hoogtepunt was die profielgate en die verskille wat daar waargeneem is.”
Deur Frans le Roux