Jongboere groei die toekoms in
Dwayne Kaschula van Maclear in die Oos-Kaap is op 21 November 2024 aangewys as die AgriSA Toyota SA Jongboer van die Jaar tydens ‘n galageleentheid by die Radisson Hotel in Johannesburg.
Kaschula bestuur Confluence Farm, ‘n diverse boerdery wat fokus op die verbouing van mielies en aartappels, ‘n veekomponent (stoet- en kommersiële beeste, skape, bokke en wild) én produksie van eiers deur sy pluimveebedrywighede.
Kaschula se boerderybenadering is op drie sleutelbeginsels gegrond, naamlik aanpasbaarheid, veerkragtigheid en deurlopende groei. Hy glo daarin om aan te pas by verandering en die mark en sterk te bly deur uitdagings en altyd te leer en te groei.
Kaschula sê by die toekenningsfunksie dat dit ‘n geweldige eer is om die toekenning te ontvang, soos deur landbou.com berig. “Toekennings soos hierdie is ‘n erkenning van die gedeelde strewe na uitnemendheid binne Suid-Afrikaanse landbou. Die toekenning sal my inspireer om die grense verder te verskuif en ek hoop dat hierdie kompetisie ander jong boere ook sal inspireer. Ek is optimisties oor die landbou in ons land en sal voortgaan om te probeer om ‘n verskil in landbou te maak.”
Soos elke jaar was dit ‘n stryd tussen die land se voorste jong-produsente wat elkeen in hul eie reg ‘n noemenswaardige impak op landbou in Suid-Afrika het.
Ander finaliste
Vanjaar se finaliste is ‘n diverse groep boere wat boer met van graan en groente, tot vee pluimvee. Jaco Minnaar, voorsitter van Agri SA, sê dat dit ‘n voorreg was om vanjaar weer die kompetisie te kon aanbied saam met hul langstaande vennote, Toyota, en dat dié jaar weer agt uitstekende kandidate opgelewer het.
“Hulle het ons oor tyd gewys dat hulle tegnologie kan gebruik, innoverend kan dink en ook buite-die-boks-idees op die tafel kan sit om hul boerderye op ‘n vlak te plaas waarna ons almal net kan opkyk,” sê Minnaar. “Die finaliste is werklik ‘n inspirasie vir hul omgewings maar ook vir landbou as ‘n geheel – hoe hulle tegnieke kon gebruik, produkte kon verander, wat nie normaalweg in hul gebiede gebruik was nie, en selfs net bestaande boerderypraktyke só kon verbeter om hul boerderye heeltemal te laat uitstaan. Ons is baie trots om hierdie boere as deel van landbou in Suid-Afrika te hê en as toonbeeld te kan gebruik vir wat in landbou reg gekry kan word.”
Een van die finaliste, ‘n bekende in Noord-Kaapse kringe, is Hannes Bruwer van Genade Boerdery. Bruwer, die Noord-Kaap se Jongboer van die Jaar, boer op Zuurgat naby Hopetown in die Noord-Kaap met somergewasse insluitend mielies, springmielies en witbone, asook wintergewasse soos koring, gars, uie, beet en ertjies. Verder kweek hy lusern en as ‘n langtermynprojek het hy ook wild op die plaas.
Agri Gauteng se finalis, Valeska van Schoor wat Gro4Africa bestuur, het ‘n plaas naby Rayton, waar sy seldery, blaarslaai, spinasie, radicchio, blomkool, groenbone en boerenkool verbou.
Kobus Pieters boer naby Hazyview, Mpumalanga, met makadamias met sy langtermynvisie om sy boerdery verder uit te brei deur meer grond te bekom, uitvoere te verhoog, nuwe markte in die makadamiabedryf te ontwikkel en die toerismesektor te laat groei. Kobus Beyers van die Womaransstad-distrik verteenwoordig Agri Noordwes waar hy droëlandmielies, soja en sonneblomme verbou en ‘n kommersiële vleisbeeskudde en Dormer-stoet bestuur.
Guy English van Kwanalu boer op die plaas Holcombre naby Mooirivier, KwaZulu-Natal, en fokus op beesproduksie, insluitend die teel van stoetbulle, en ‘n mielieboerdery. Sy visie is om om ‘n winsgewende, volhoubare en innoverende landboubesigheid te vestig.
Willem Engelbrecht bestuur ‘n plaas naby Marble Hall, Limpopo, waar hy sitrusgewasse en pekanneute verbou. Agri Wes-Kaap se finalis, Dean Barnard boer op Oppie Plaas Boerdery naby George waar hy fokus op die kweek van hops, pruime, amandels en pekanneute.
Landbou.com berig verder dat Minnaar die deelnemers geloof het vir hulle deursettingsvermoë en passie vir die landbou. “Wanneer jy kyk na wat hierdie jong boere bereik het en waar hulle vandaan kom, is elkeen ‘n wenner. Hulle verteenwoordig die beste van Suid-Afrika se nuwe geslag produsente. Hulle harde werk en passie is ‘n dryfkrag wat ons volk gevoed hou en is staat stel om te produseer.”
Tegnologie is ‘n groot dryfveer in al die finaliste se boerdery-aktiwiteite. Bruwer span byvoorbeeld toepassings (apps) in om besproeiing en satellietbeelde te bestuur, om net een voorbeeld te noem. Volgens die unieke behoeftes van elke boerdery word ʼn verskeidenheid platforms, datasentrums, hommeltuie, topografiekaarte, sonkrag, weerstasies, grondvogmonitering, skandeerders en kamerastelsels en -sorteerders, en selfoon-gebaseerde oplossings ingespan om effektiwiteit te verhoog.
“Landbou is, soos enige besigheid, op die voorpunt van tegnologie en ons móét wees om internasionaal te kan meeding,” voeg Minnaar by.
‘n Boer maak ‘n plan en in die 21ste eeu is ‘n mengsel van tegnologie, passie, visie en vasberadenheid almal belangrike bestanddele.
Kaschula sê in ‘n artikel op Netwerk24 dat ʼn mens in landbou nie sommer moet tou opgooi nie, al is daar baie uitdagings en tye wat jy voel dit is nie moontlik nie. “As jy ‘n passie het en jy wil iets doen, moet nooit opgee nie. ‘n Mens moet ook onthou dat daar in boerdery nie kortpaadjies is nie. Die paaie is maar lank en moeilik, maar as dit jou droom is, sal dit die moeite werk wees. As die passie daar is, byt net vas.”
*Bronne:
- landbou.com
- netwerk24.com
- Agri SA: Jongboer van die Jaar-finaliste opsomming
- Agri SA