Redakteursbrief
Om saam met die vinnig-veranderende wêreld te bly beweeg, is dit belangrik om báie gereeld te vra: hoekom?
Hoekom word iets op hierdie manier gedoen? Hoekom is dit nodig dat iets moet verander? Hoekom doen ons wat ons doen? Om die status quo uit te daag, is maar ongemaklik. Dit is lekker gerieflik hier in die gemaksone.
Ons moet egter vra of die status quo – die huidige manier van dinge doen, die resultate wat ons op die oomblik kry – genoeg is om langlewendheid te verseker. Die uitermatig-aangehaalde Einstein-sin geld steeds. “Insanity is doing the same thing over and over and expecting different results.”
As ʼn besigheid besef ons dat verwagtinge en vereistes saam met die wêreld verander. Maatskappye wêreldwyd word aanspreeklik gehou vir die manier waarop hulle dinge doen en die waarde wat hulle bring. Vandag se resultate gaan nie genoeg wees vir die vereistes van die toekoms nie, en daarom moet verandering nou al begin gebeur.
GWK se amalgamasie met VKB is gewortel in hierdie beginsel: om ʼn besigheid te bou wat in die toekoms, hoe ver vooruit ook al, kan aanhou om aan die verwagtinge te voldoen, ongeag of dit in terme van ondersteuning aan boere, belegging in gemeenskappe, werkskepping, verantwoordelike praktyke of voedselvoorsiening aan ʼn groeiende bevolking is.
In dié uitgawe van Kommuniek deel ons die gesamentlike mediavrystelling hieroor. Meer inligting is beskikbaar op GWK en VKB se webwerwe.
GWK was weer betrokke by die Noord-Kaapse RPO-kongres waar rooivleisprodusente byeengekom het. Ons gee terugvoer daaroor en loer weer in by ons besighede om te sien waarmee hulle die afgelope twee maande besig was.
Dit vat ʼn fier ruggraat om verandering te omarm omdat jy weet dit is tot voordeel van iets baie groter as jouself. Om te sien hoe die GWK-span hierdie verandering aangryp, is ʼn rare, welkome gesig.
Deur Leana Bezuidenhout