Redakteursbrief

- Hoop. Hoe hou ʼn mens aan hoop in ʼn wêreld wat ál meer gebroke is?
Om hoop te definieer, is nét so belangrik as om te definieer wat hoop nié is nie, sê rubriekskrywer Rebecca Solnit. Hoop is nie om te glo dat alles orraait is, was, of sal wees nie. Dit is nie ʼn “alles-sal-beter-word”-narratief nie (maar wel ʼn teenstryder vir die “alles-gaan-erger-word”-narratief). Hoop is ʼn breë perspektief vol verskillende moontlikhede – moontlikhede wat optrede van ons vereis.
Die woordeboekdefinisie van hoop is ʼn gevoel van afwagting en ʼn begeerte na ʼn spesifieke ding om te gebeur. Soos hierbo beskryf, beteken dit egter nie die afwesigheid van vrees of hartseer of bekommernis nie.
Om hoop te hê, beteken dus geensins om blind of onrealisties te wees nie. Vir ons wat soms wonder of ons met rooskleurige brille deur die lewe gaan, is dít ietwat van ʼn gerusstelling. Want nou kan ons met ʼn skoon gewete positiewe uitkomstes visualiseer sonder om slegs as dromers beskryf te word.
“Critical thinking without hope is cynicism, but hope without critical thinking is naivety.”
– Maria Popova
Is landbou nie dan ʼn bedryf gegrond in hoop nie? Sonder om te ontken dat risiko’s, veiligheidsprobleme, Eskom-uitdagings, droogtes, veldbrande, vloede en beperkings bestaan, sien ons die moontlikhede raak – die verskillende maniere hoe hierdie storie kan uitdraai. Ons sien die maniere raak hoe die storie beïnvloed kan word om positief te wees, hoe probleme aangespreek kan word en die impak wat dit op die wêreld rondom ons gaan en kan hê.
Want as hoop beskadig word, raak dit meer as een persoon, en as hoop nie toegelaat word nie, is dit moeilik om weer motivering daarvoor te kry. Die grootste impak wat ons ooit sal hê, is hoe ons mekaar se kapasiteit om te bly hoop beïnvloed.
Hoop kweek hoop. Om in gemeenskappe betrokke te raak terwyl ons die uitdagings verstaan, om ʼn besigheid te groei in ʼn land waar die landboubedryf unieke probleme het, om aan te hou oplossings soek vir dinge wat as “onoorkombaar” bestempel word, is ʼn toonbeeld van hoop.
En ons hoop dat dit aansteeklik is.
–
Aan elkeen van ons lesers wil ons opreg ʼn feestyd vol seën toewens. Dankie dat julle deel in ons Kommuniek-stories. Mag julle in hierdie tyd vreugde en rustigheid saam met julle geliefdes ervaar, veilig bly en aanhou hoop. Julle is ʼn inspirasie vir die Kommuniek-span.