Quiche nes jy daarvan hou
Dis maklik, vinnig, kan voor die tyd gemaak word en is handig vir ʼn vinnige ete of selfs ʼn happie as jy gaste kry. Hier is idees vir ʼn lekker quiche.
Gebruik gekoopte tertkors, of maak jou eie:
- 170g koue botter
- 1/3 koppie yswater
- 2 koppies meel (en ekstra om te strooi vir uitrol)
- 2 teelepels suiker (opsioneel)
- 1 ½ teelepel sout
Gebruik ʼn voedselverwerker of jou vingers om die yskoue botter by die meel, suiker en sout in te vryf tot die botterstukkies nie groter as ʼn ertjie is nie. Voeg die yswater stadig by en meng tot die deeg klonterig is. Plaas die deeg op ʼn skoon oppervlak en vorm balle van ongeveer 300g elk. Druk die balle plat tot ongeveer 5cm dik, bedek met kleefplastiek en plaas in die yskas vir 1 uur tot 4 dae. Die deeg kan gevries word vir sowat 3 maande.
Rol een van die deegballe uit (probeer dit so koud as moontlik hou), plaas in tertbak, prik met ʼn vurk en plaas terug in die yskas vir 30min. Bak teen 180˚ C vir ongeveer 20 minute of tot ligbruin.
Basiese quiche-vulsel:
(Die beste ratio vir vulsel is een deel eier vir elke twee dele suiwel, bv. room)
- 3 groot eiers
- 1 ½ koppies room (of volroom-melk)
- 1 teelepel sout
- Varsgemaalde swartpeper
- 120 g gerasperde of gekrummelde kaas (bv. cheddar of feta)
Vul die gebakte kors met ongeveer ʼn koppie (of meer, soos verkies) van die volgende quiche-kombinasies:
- Spinasie, feta en sampioene
- Spek en gekaramelliseerde uie
- Geroosterde kersietamaties, basiliekruid en parmesaan
- Aspersies, feta en spek
- Aspersies, sprietuie en feta
- Murgpampoentjie, kaas en ham
- Gerookte salm en aspersies
- Blomkool, kaas en spek
- Ham en spinasie
- Peppadew, soetmieliepitte en spek
Gooi die eiermengsel en kaas bo-oor die vulsel en kors. Bak teen 180˚ C vir 40 tot 50 minute. Laat afkoel vir 15 minute en bedien warm, teen kamertemperatuur, of koud.
*Bronne:
- www.thekitchn.com
- www.bbcgoodfood.com