Agri NK: Nuwe leiers pak die bul by die horings
Die 44ste Agri Noord-Kaap kongres is aan die einde van Augustus in Kimberley aangebied. Kongresgangers het tydens die twee dae na verskeie gassprekers en kenners geluister, terwyl daar ook ʼn nuwe president en vise-president aangewys is.
Willem Symington is verkies tot president en neem oor by Nicol Jansen. Hy beklemtoon die belangrikheid van georganiseerde landbou in Suid-Afrika.
“Ons samelewing het ontwikkel tot waar nie-regeringsorganisasies sterk insae moet lewer om orde en vooruitgang in ons land te verseker,” sê Symington. “Agri SA is uniek in die sin dat dit op nasionale, provinsiale en distriksvlak sterk gevestig is. Die struktuur bied die vermoë om oral inspraak te kry en insette te lewer.”
ʼn Verandering in bestuur bring nie noodwendig ʼn verandering van beleide na vore nie. Symington sien uit na sy eerste termyn.
“Agri Noord-Kaap is ʼn dinamiese besigheid wat voortdurend uitdagings hanteer. ʼn Verandering in ampsdraers bring nie noodwendig verandering in beleide mee nie, maar ons moes so vinnig moontlik almal belyn om so effektief moontlik te kan funksioneer. Ons vorige president, Nicol Jansen, het ʼn reusebydrae gelewer tot Agri Noord-Kaap. Ons bedank hom en wens hom voorspoed toe vir sy werksaamhede by Agri SA.”
Symington vertel dat Agri Noord-Kaap verskeie suksesse gedurende die laaste jaar geniet het.
“Die suksesse is almal ewe belangrik. Wat wel uitstaan, is die feit dat ons op vele terreine goeie uitkomste bewerkstellig het. Padgebruikers, watergebruikers, grondeienaars wat belasting moet betaal, mense wat onder brande gely het, om net ʼn paar te noem, het die positiewe insette van Agri Noord-Kaap ervaar.”
Wiaan Janse van Rensburg is op sy beurt tot die nuwe vise-president van Agri Noord-Kaap verkies. Die toekoms en sy moontlikhede is wat vir Janse van Rensburg opgewonde maak.
“Landbou in sy geheel is baie uitdagende bedryf,” sê hy. “Om saam met dinamiese mense van grondvlak tot by Agri SA te help vorm aan ʼn toekoms in landbou – vír landbou – maak my opgewonde. Ek kan ook nie genoeg klem plaas op die belangrikheid van georganiseerde landbou nie. Dit is die plek waar daar oplossinggedrewe gekyk word na alledaagse uitdagings soos Eskom, landelike veiligheid, infrastruktuur, rampe, watersake, arbeid en grondhervorming. Dit is nie moontlik om beleide as individue te skep nie, en dit is egter beter om as groep saam op te tree.”
Aan die lede wat vertroue in hom geplaas het, het Janse van Rensburg die volgende te sê.
“Ek wil elkeen bedank wat my sedert 1992 ondersteun het toe ek op skoolvlak by die junior boerevereniging betrokke geraak het. My paadjie daarna, van my betrokkenheid by boereverenigings, landbou-unies, Agri Noord-Kaap se uitvoerende bestuur en die vorming van Agri Noord-Kaap se aksiekomitee, is alles wat vir my uitstaan. Ons moet onthou dat hierdie amp wat ek dra nie ʼn ‘Wiaan-ding’ is nie, maar eerder ʼn ‘ons-ding’ – ek gaan nou selfs meer aanklop vir raad.”
Uittredende Agri Noord-Kaap president, Nicol Jansen, het tydens sy presidentsrede ʼn oorsig oor die toestand van landbou in dié provinsie gegee, sowel as watter uitdagings die sektor beleef het. Die fokus op die uitmergelende fase 6-beurtkrag, die Vaal- en Oranjeriviervloede en die styging van die nasionale minimumloon, is van die kwessies wat landbouers in die gesig gestaar het.
“In Desember 2022 het Agri Noord-Kaap reeds die gevaarligte sien flikker, met fase 6-beurtkrag wat vir produsente tussen 6 en 10 ure per dag sonder elektrisiteit gelaat het. Die publiek was deeglik bewus gemaak deur middel van die optogte in Douglas en Hartsvallei, wat op hulle beurt druk op Eskom geplaas het. Agri Noord-Kaap, tesame met ander landbou-organisasies, het aan die begin van 2023 met Eskom Noord-Kaap onderhandel om ladingkorting (load curtailment) as ʼn toetslopie toe te pas op ʼn Eskom-lyn waarop slegs landboukliënte van Eskom was. Indien hierdie proeflopie suksesvol is, sal dit uitgebrei word na ander besproeiingsgebiede.”
Volgens Jansen was die hantering en vroeë waarskuwingsmetodes van die vloede ook verkeerdelik hanteer.
“Die Vaal- en Oranjeriviervloede was voorspel dat dit erger as 2011 se vloede sou wees; gelukkig het dit nie gerealiseer nie. Agri Noord-Kaap het kapsie gemaak oor die foutiewe meetinstrumente van die departement van water en sanitasie en aangedring op beter kommunikasie tussen Agri Noord-Kaap en dié departement deur middel van ʼn WhatsApp-groep. Die vloed se skade aan infrastruktuur is nog nie bepaal nie, maar die proses gaan steeds voort.”
Jansen meen een van die grootste swaarde wat oor die bedryf se kop hang, is onteiening sonder vergoeding.
“Hoewel politieke druk ten opsigte van onteiening sonder vergoeding steeds bo ons koppe hang, het Agri Noord-Kaap die geleentheid gehad om die tweede rondte publieke verhore by te woon en ons lede hier te verteenwoordig. Agri Noord-Kaap het tydens die afgelope jaar gefokus op opleiding en bemarking om ons uitvoerende bestuur te bemagtig met die waardeproposisie wat Agri Noord-Kaap vir sy lede bied. Dit sluit in die uitbreiding van die lede-organisasiestruktuur om opkomende landbouers in landbouverenigings te akkommodeer onder die vaandel van die landbou-unies.”