Dít is waarom jy aktief moet bly!
ʼn Aktiewe leefstyl hou baie voordele vir jou gesondheid in, nie net fisiek nie, maar geestelik ook. Dit is soms net inspirasie om met ʼn meer aktiewe leefstyl te begin wat kortkom, want oefening laat jou beter voel, beter lyk, en dit verhoog jou lewensgehalte.
Oefening is enige beweging wat jou spiere laat werk en veroorsaak dat jou liggaam kalorieë verbrand. Dit sluit in aktiwiteite soos swem, hardloop, fietsry, stap, of om aan jou gunsteling-sportsoort deel te neem.
Hier is ʼn paar gesondheidsvoordele wat gereelde oefening vir jou liggaam en brein inhou.
Oefening is ʼn natuurlike metode om jou gemoed te lig
Gereelde fisieke aktiwiteit kan jou help om stres, angs, depressie, en woede beter te hanteer. Slegs 10 tot 30 minute se oefening is nodig om jou gemoed te lig en depressiewe gevoelens te bekamp. Wanneer fisieke aktiwiteit afgehandel is, voel jy goed. Dit is die gevolg van hoër vlakke van serotonien en norepinefrien in jou brein wat help om positiewe gevoelens te ervaar. Indien fisieke oefening ʼn alledaagse aktiwiteit word, sal beterskap ook mettertyd intree. Oefening kan jou ook beter laat voel oor jou voorkoms, wat met jou selfvertroue en selfbeeld kan help.
Oefening help om jou gewig te beheer
Gereelde oefening verhoog jou metaboliese tempo en dit help jou liggaam om kalorieë te verbrand. Hoe meer intens die aktiwiteit, hoe meer kalorieë word verbrand. Om die gimnasium gereeld te besoek is wonderlik, maar moenie bekommerd wees as jy nie elke dag tyd het om daar te oefen nie. Enige aktiwiteit is beter as niks – neem byvoorbeeld eerder die trappe in plaas van die hysbak.
Oefening is goed vir jou bene en spiere
Oefening speel ʼn belangrike rol in die bou en instandhouding van sterk spiere en bene. Met ouderdom verloor ʼn mens spiermassa, krag, en funksies, wat ʼn hoër risiko van beserings inhou. Gereelde fisieke aktiwiteite is noodsaaklik om spierverlies te verminder en om krag en beendigtheid te bou. Impakoefening soos gimnastiek, hardloop, of sokker bevorder beendigtheid meer as sportsoorte soos swem en fietsry.
Oefening gee energie
Oefening kan help om jou energievlakke ʼn hupstoot te gee en moegheid te verminder. Wanneer jy oefen, word suurstof na jou weefsels gestuur wat jou kardiovaskulêre stelsel help om meer doeltreffend te funksioneer. Jou hart pomp meer bloed wanneer jy beweeg en hoe meer jy oefen, hoe meer doeltreffend word suurstof na jou bloed en werkende spiere gestuur. Oefening verbeter jou hart en longgesondheid wat lei tot meer energie om daaglikse take aan te pak.
Oefening help met jou slaappatroon
Gereelde oefening kan jou help om te ontspan en beter te slaap. Gereelde oefening kan slaapgehalte verbeter, slaperigheid gedurende die dag bekamp, en die behoefte aan slaapmedikasie verminder.
Oefening verminder jou risiko van chroniese siektes
Gereelde fisieke aktiwiteite is ʼn sleutelfaktor in die vermindering van jou risiko van chroniese siektes soos tipe 2-diabetes, hartsiektes, kanker, cholesterol, depressie, angs, artritis, en hipertensie. Dit kan jou breinfunksie, geheue, en denkvaardighede verbeter omdat dit jou hartklop en die vloei van bloed en suurstof na jou brein verbeter. Dit stimuleer die produksie van hormone en die groei van breinselle wat veroudering van die brein vertraag en daarom ook die risiko van Alzheimer se siekte en demensie verminder. Verder verlaag oefening jou bloeddruk, verhoog goeie vlakke van cholesterol, verbeter bloedvloei, hou jou gewig in toom, en voorkom beenverlies wat tot osteoporose kan lei.
Oefening is voordelig vir almal en bring ongelooflike resultate wat jou gesondheid verbeter. Dit sorg vir ʼn gesonder en gelukkiger lewe en bied voordele vir byna elke aspek van jou lewe.
*Bronne:
- Exercise: The Top 10 Benefits of Regular Physical Activity (healthline.com)
- Why is physical activity so important for health and well-being? | American Heart Association
- Exercise: 7 benefits of regular physical activity – Mayo Clinic
- The benefits of exercise for your physical and mental health (medicalnewstoday.com)
*Foto’s: