Plant met presisie!
John Deere se presisieopgraderings bied opwindende opsies vir produsente wat nuwe tegnologie wil aanwend sonder om noodwendig nuwe planters aan te skaf. Ons het ʼn paar van dié moontlikhede gaan ondersoek.
Die landboubedryf vorm reeds eeue lank die spilpunt van gemeenskappe en landskappe wêreldwyd. Die landboubedryf van vandag is egter nie meer dieselfde as die een van gister nie. Soos in baie ander bedrywe is tegnologiese vooruitgang ook hier die kern van sukses.
Produsente wat wil bly groei en floreer, moet voortdurend kyk na maniere om hul produksie en winsgewendheid te verbeter. Een van die kritieke areas waar vooruitgang ʼn groot verskil maak, is die plantproses. Maar moenie dink dit is altyd nodig om nuwe toerusting aan te skaf nie! Met presisieopgraderings bied John Deere ʼn koste-effektiewe alternatief wat produsente toelaat om hul bestaande plantertegnologie te moderniseer sonder om nuwes aan te skaf.
Wat is presisieopgraderings?
Presisieopgraderings is komponente wat ten doel het om die werkverrigting en vermoëns van bestaande landboutoerusting, soos planters, te verbeter. Dit verhoog die akkuraatheid, doeltreffendheid en produktiwiteit van die ouer toerusting. Vir produsente bied dit dus die ervaring van nuwe tegnologie, maar met ʼn vinniger terugbetalingsperiode as vir ʼn nuwe planter.
Die waarde van hierdie opgraderings strek verder as net kostebesparings. Dit kan ook ʼn regstreekse impak hê op die opbrengs van ʼn oes, wat dan uiteindelik die winsgewendheid van die boerdery kan beïnvloed.
John Deere se presisieopgraderings kan maklik aan bestaande toerusting gekoppel word en kom met ʼn eenjaarwaarborg en ʼn nuwe reeksplaat. Dit sluit ook toegang in tot aanlynhulpmiddels vir die monitering van die toerusting en data vir ingeligte besluitneming.
Watter moontlikhede is daar?
Presisieopgraderings bied verskeie opwindende moontlikhede. Produsente kan byvoorbeeld saadplasing, -diepte en -afstand noukeuriger beheer. Dit maak ʼn meer uniforme opkoms van gewasse moontlik, wat uiteindelik tot ʼn beter stand van gewasse en ʼn verhoogde opbrengs lei.
Met tegnologie soos John Deere se ExactEmerge-ry-eenhede is uniforme saadplasing teen ʼn spoed van tot 16 km/h moontlik. Dit stel produsente in staat om die saad gedurende die optimale saaitydperiode in die grond te kry. Hier kom spoed dus nie ten koste van gehalte nie. Wanneer jy in die rondte plant voorsien elke ry se dubbele elektroniese motors dat die saadplasing aan die stadiger binnekant en die vinniger buitekant steeds op jou beplande saadspasiëring bly.
Individuele ry-hidroliese-dieptebeheer stel produsente ook in staat om die diepte van elke ryeenheid individueel te monitor en uit die kajuit te beheer, teen enige snelheid en in die meeste toestande. Die LED-beligtingspakket, wat eksklusief as presisieopgradering beskikbaar is, verskaf totale beligting voor, agter en onder die planter sodat daar vir langer ure geplant kan word.
Die sagteware van die Seedstar 4HP Controller wys elke ry se populasie, plantestand, moontlike dubbelplasing of misplasing, dieptebeheer en grondkontak-kwaliteit. Kalibrasies kan deurlopend gedoen word indien die saadtipes verander om seker te maak elke ryeenheid presteer tot die maksimum. Hierdie inligting en data word ook versamel en uiteengesit in die aanlynprogram, Operations Center, of Operations Center Mobile-toepassing op ʼn mens se slimfoon. Hierdie platforms bied ook toegang tot inligting soos toerusting se gesondheid, ligging, brandstofverbruik en produktiwiteit.
Verder is daar gemoedsrus dat die GWK Meganisasie-werkswinkel ook toegang het tot foutkodes en spoedig kan reageer sou daar ʼn probleem op die toerusting opgemerk word. Sagteware en diagnose kan via afstand bestuur word en groot potensiële foute kan voorkom word met Expert Alerts.
Dit is maar net ʼn paar van die opsies wat beskikbaar is.
Presisieopgraderings bied dus ʼn uitstekende geleentheid vir produsente om hul plantertegnologie te moderniseer en hul opbrengspotensiaal te verhoog sonder groot kapitaaluitgawes. Met die regte opgraderings kan produsente ʼn vinnige opbrengs op hul belegging sien en ʼn meer winsgewende en mededingende onderneming bou.