Familieboerderye die hoeksteen van SA landbou
Familieboerderye is ʼn kernkomponent van Suid-Afrika se landboubedryf en lewer ʼn beduidende bydrae tot ons ekonomie. As hoeksteen van die bedryf speel familieboerderye ook ʼn onmiskenbare rol in die bestuur van natuurlike hulpbronne, die beskerming van die omgewing, en die lewensgehalte van die gemeenskappe waarin hulle setel.
Die Verenigde Nasies het die dekade van 2019 tot 2028 aan familieboerderye gewy. Dit wys dié organisasie erken die belangrike rol van hierdie soort boerderye in globale voedselsekerheid en die bevordering van volhoubare ontwikkeling. Met die oordrag van familieboerderye van die een geslag na die volgende bied hierdie soort onderneming onder meer ʼn stewige grondslag vir volhoubare ekonomiese groei in plattelandse gemeenskappe.
Tog skep uitdagings soos onsekerheid in die globale mark, plaasmoorde, klimaatsverandering, en die voortdurende bedreiging van grondherverdeling deur die staat ʼn onstabiele omgewing. Baie jongmense verkies dit dus om die plaaslewe vir ʼn stedelike loopbaan te verruil.
Krag en kwesbaarheid
Dr. Theo de Jager, ʼn voormalige president van die Wêreldlandbou-organisasie, het aan farmingportal.co.za gesê familieboerderye is die grootste enkele werkskepper ter wêreld. Dit vorm boonop dikwels die kulturele en ekonomiese spilpunt van plattelandse gemeenskappe.
Die omvang en diversiteit van familieboerderye in Suid-Afrika word beklemtoon daardeur dat tot 90% van hulle ʼn omset van minder as R5 miljoen per jaar het. Dit wys dat die gemiddelde familieplaas dikwels ʼn kleiner besigheid is as wat mense dink.
Tog is kleiner, meer diverse boerderye dikwels meer veerkragtig teen ongunstige marktoestande. Dr. Andries Radley van Radley Business Solutions het aan Kommuniek gesê tans is meer as 80% van Suid-Afrika se landbouprodusente familieboerderye, en hulle is verantwoordelik vir meer as 50% van die land se landbouopbrengste. Radley, ʼn konsultant vir boerderybedrywighede asook landbou- en ander besighede, se groot fokus lê by die volhoubaarheid en operasionele effektiwiteit van boerderye in familiebesit.
De Jager het egter benadruk familieboerderye ervaar toenemende politieke, ekonomiese, en sosiale druk wat hul voortbestaan en welvaart bedreig.
Verskillende ondernemingsvorme en oordragmodelle
Die boek Familieboerderye in Suid-Afrika deur Elmarie Venter, Theo Vorster en George Robertson (2022) definieer ʼn familieboerdery as een waarin ʼn enkele familie die beherende aandeel het, waar twee of meer familielede regstreeks by die bedryf betrokke is en waar die ouers van voorneme is om die boerdery aan hul kinders oor te dra. Tog is die tradisionele model van ʼn manlike eienaar met ʼn oudste seun as sy aangewese opvolger lankal iets van die verlede. Daar is byvoorbeeld heelparty vroueboere wat hul merk maak, en deesdae ook ʼn wye verskeidenheid ondernemingsvorme en eienaarskapmodelle wat oorweeg kan word.
In Suid-Afrika is daar hoofsaaklik vier ondernemingsvorme wat in familieboerderye gebruik word: die eenmansaak, vennootskap, private maatskappy en trust. Elkeen hiervan bied sy eie voordele en uitdagings. ʼn Eenmansaak, byvoorbeeld, bied die eenvoud van individuele besigheidsbestuur, maar alle risiko word deur die eienaar self gedra. ʼn Vennootskap, weer, is ʼn model waar twee of meer individue hul kundighede en hulpbronne kan saamvoeg, maar dit vereis ʼn duidelike ooreenkoms om verhoudings en verdeling van wins en verlies te reguleer. ʼn Private maatskappy bied ʼn mate van beperkte aanspreeklikheid vir eienaars, maar gaan gepaard met hoër bestuurskoste. Laastens bied ʼn trust ʼn buigsame struktuur vir die oordrag en bestuur van bates vir toekomstige geslagte, maar vereis noukeurige beplanning.
Sleutelfaktore vir sukses
Verskeie faktore dra by tot die suksesvolle voortbestaan van familieboerderye. Dit sluit in die stel van familiedoelwitte, gesinstruktuur, strategiese beplanning en effektiewe kommunikasie.
Die bevordering van ʼn oop en eerlike kommunikasiekanaal binne die familieboerdery is van kritieke belang vir die hantering van komplekse uitdagings en die voorkoming van konflik. Deur gereeld te kommunikeer en die betrokkenheid van alle lede te verseker, kan familieboerderye ʼn omgewing van samewerking en begrip skep wat noodsaaklik is vir groei en sukses.
Die opstel van ʼn familiegrondwet
Die opstel van ʼn familiegrondwet is nog ʼn kritieke stap in die bestuur van ʼn familieboerdery. ʼn Familiegrondwet is ʼn stel riglyne en beginsels wat die interaksies en besluitnemingsprosesse binne die familie en die besigheid beheer. Dit sluit tipies die volgende afdelings in: missie en waardes, bestuurstruktuur, kommunikasieprotokolle en konflikoplossingsmeganismes. Die duidelike riglyne en prosesse wat in ʼn familiegrondwet vervat word, kan konflik verlig en deursigtigheid bevorder.
Opvolgbeplanning: die geheim vir langtermynsukses
Opvolgbeplanning is een van die grootste uitdagings vir familieboerderye.
Volgens Radley wys statistieke slegs ʼn klein persentasie van alle familieondernemings word suksesvol na die derde geslag oorgedra. Dit is dus noodsaaklik om die toekomstige leierskap van die boerdery te beplan. ʼn Goed deurdagte skeidingsplan is van kardinale belang vir die voortbestaan van die onderneming. Dit kan die geleidelike oorgang van leierskap verseker sonder om die identiteit en integriteit van die onderneming te bedreig.
Die mentorskap van die ouer geslag en die oordrag van kundigheid speel ʼn kritieke rol in die bewaring van tradisies en die voortsetting van die boerdery. As dit oor ʼn tydperk van jare gedoen word, kan ʼn geskikte opvolger — wat die werk wíl doen — vroegtydig geïdentifiseer en opgelei word.
Opvolgbeplanning behels ook die instandhouding van familieharmonie.
Finansiële bestuur vir welvaartskepping
Familieboerderye het die potensiaal om welvaart oor geslagte heen te skep of te verloor. Volgens Radley is dit een van die voordele van ʼn familieboerdery bo enige ander soort. Die sukses van enige familieonderneming hang dus af van geskikte bestuurspraktyke, insluitend belegging in bekwame bestuurders en die diversifisering van bates. Die identifisering en bestuur van finansiële risiko is belangrik. Deur kundige advies te volg, kan daar proaktief vir die toekoms beplan kan word.
Voordele en volhoubare groei
Radley lys ʼn reeks voordele wat volhoubare familieboerderye bied, insluitend die benutting van familiale kundigheid en sterk sosiale en emosionele bande met die plaas en die gemeenskap. Hierdie faktore dra by tot die langtermynsukses en volhoubaarheid van familieboerderye as ʼn essensiële skakel in die landbouketting.
Daar is baie uitdagings en bedreigings, maar die toekoms van die Suid-Afrikaanse landbousektor is onlosmaaklik verbind met die voortgesette groei van familieboerderye. Dit is immers nie net ʼn bron van inkomste nie, maar ʼn bewaarder van tradisies, kennis en gemeenskaplike waardes.
Dr. Andries Radley kan gekontak word deur die webwerf www.radleysolutions.co.za, of by 079 493 1144.
*Bykomende bronne:
- Landbouweekblad
- SA Graan
- southafrica.co.za