Koringkultivar-proefresultate (2023)
GWK Landboudienste, in samewerking met produsente, GWK-landboukundiges en saadmaatskappye, evalueer jaarliks koringkultivars met die aanplant van strookproewe oor verskeie lokaliteite. Die voordeel vir produsente is dat GWK onafhanklik die evaluasies doen en oor ʼn meerjarige databasis per streek beskik. Kultivars verskil ten opsigte van aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Hierdie eiesoortigheid stel elke boer in staat om die kultivars te plant wat die beste in sy streek aangepas is. Kultivarkeuse behoort jaarliks hersien te word. Maatskappye wat vanjaar aan die proewe deelgeneem het, is Pannar Saad, Syngenta South-Africa, Agricol en Limagrain Zaad South-Africa.
Metodiek
Vir die 2023-seisoen is nege strookproewe aangeplant by die volgende lokaliteite: Douglas (1), Jacobsdal (1), Hopetown (1), Magogong (1), Marydale (1), Cradock/Cookhouse (1), Prieska (2) en Barkly-Wes (1). Op versoek van die produsent is slegs kultivars met ʼn medium en lang groeiperiode getoets by Douglas en Prieska (vroeg). Die rede hiervoor was dat die proewe al vroeg in Junie aangeplant word. Met ʼn vroeë plantdatum is vreetskade (veroorsaak deur voëls) in die verlede op die vinnige kultivars waargeneem. Vir die Prieska-laatproef is weer slegs die kultivars met ʼn kort groeiperiode geplant. Die proewe is almal gestroop. Ten minste 200 m van elke strook is gestroop.
Elke vierde aanplanting was ʼn kontrolekultivar (produsent se kultivar) om die stabiliteit van die proef te bepaal en regstellings te maak om kultivars regverdig te vergelyk. Laasgenoemde help dus om moontlike grondverskille, hellings, ensovoorts te neutraliseer. Vir elke lokaliteit is die kultivars ook verskillend gerandomiseer. Die voordeel in randomisering is dat kultivars nie altyd langs dieselfde kultivars staan nie. Die kultivars is teen verskillende plantpopulasies aangeplant volgens elke maatskappy se behoefte.
Die planters is gekalibreer met die doel om die populasiedoelwit te bereik. Die populasiedoelwit kan gesien word in die resultate-tabelle.
Elke kultivar en kontroles word gestroop en ʼn monster word geneem wat binne 24 uur by ʼn GWK-silo gegradeer word. Die opbrengs word na 13% vog verwerk. Die finale resultaat is bereken op inkomste per hektaar met die koring se graad ingereken. Die bepaling van die graad is egter slegs gebaseer op die hektolitermassa en proteïenwaardes. Die randwaarde is slegs ʼn aanduiding van wat die produsent vir die spesifieke graad en opbrengs ontvang. Omdat dit proewe is en ʼn klein oppervlakte is, is dit slegs ʼn aanduiding van moontlike inkomste. Die data word na die betrokke saadmaatskappye gestuur nadat dit verwerk is en eers gepubliseer as daar geen probleme gevind word nie.
Saadbehandelings
Die saad is ontvang as reeds behandel vanaf die saadmaatskappye. Die saadbehandelings wat gebruik was, is dan ook hoe die saad kommersieel verkoop word.
Inligting omtrent lokaliteite vir 2023 en interpretasie van data
Die opbrengs en vog vir die 2023-oesjaar word vir elke lokaliteit getoon. Die koëffisiënt van variasie (kv) word ook aangedui. Die koëffisiënt van variasie dui die statistiese korrektheid van ʼn proef aan. ʼn Waarde laer as 6 word as statisties goed beskou vir besproeiingsproewe. Hoe laer die koëffisiënt van variasie, hoe meer aanvaarbaar die proef se akkuraatheid. Om interpretasie te vergemaklik, word elke kultivar se prestasie ook as ʼn indeks (% van proef) aangedui vir 2021, 2022 & 2023. ʼn Indeks % voorstelling werk as volg:
- 100% = Gemiddeld van die proef
- <100% – Swakker as proefgemiddeld
- >100% – Beter as proefgemiddeld
In Tabelle 2 – 10 word die inligting per lokaliteit vertoon. Tabelle 11 – 13 is opsommende tabelle wat die kultivar prestasie vir een jaar, twee jaar en drie jaar aandui.
Bedankings
- Maatskappye wat saad voorsien het, Pannar, Syngenta, Agricol & Limagrain Zaad South-Africa.
- ʼn Spesiale woord van dank aan die produsente, medewerkers en GWK-landboukundiges vir hulp verleen.
Navrae kan gerig word aan Pierre Ferreira (GWK) by 082 904 4769.