Splinternuwe voorkoms vir GWK Handel, Kimberley
Die GWK-handelstak in Kimberley is op die oomblik besig met ʼn opwindende transformasie. Die opgradering en algemene onderhoud wat by die handelstak plaasvind, sal amptelik op 28 Junie afgehandel wees en aan die publiek bekendgestel word. Daar sal verskeie verskaffers en uitstallers betrokke wees en indien jy nie op die 28ste kan kom inloer nie, kan jy inskakel op OFM wat vanuit Kimberley by GWK Handel vir die dag sal uitsaai.
Die opgradering maak verdere voorsiening vir gehaltediens en -produkte om selfs ʼn beter koopervaring vir Kimberliete te verseker. Christoff Smit, GWK Handel operasionele bestuurder verantwoordelik vir GWK se handelstaknetwerk, sê dat daar ʼn driejaar-plan in plek is om al die GWK-takke dieselfde voorkoms en gevoel te gee. “Vir nou kan kliënte uitsien na die nuwe Wildman Express-toevoeging, nuwe reekse, ʼn nuwe voorkoms en gevoel, en splinternuwe winkelrakke.”
Ryno Rall, takbestuurder van GWK Handel in Kimberley, verduidelik dat hulle skerp daarop gefokus het om voorraad te kategoriseer en dat die nuwe voorkoms en uitleg van die tak dit maklik maak om spesifieke produkte te vind. Daar is verskeie praktiese skuiwe en veranderinge aangebring, soos ʼn nuwe bemarkerstoonbank vir produknavrae en kwotasies, en die opgradering van die betaalpunte. Daar word ook nuwe krag-, hand- en sweisgereedskap, klerasie en perdetoerusting aangehou. Rall verduidelik dat hulle dit vir kliënte maklik wil maak om met hulle besigheid te doen, en dat hierdie nuwe veranderinge dit ondersteun. Kliënte kan uitkyk vir maandelikse spesiale aanbiedinge en promosies by die handelstak.
Rall werk in dié tyd baie nou saam met Thys Vermaak van VKB Handel, wat die vloerplanne, rak- en winkeluitleg en kategorieë van die handelstak bestuur en hanteer het. Samewerking in die verband is baie belangrik sodat die proses glad kan verloop en die mees praktiese aanpassings rondom spasie en behoeftes van die tak gemaak kan word. Op dié manier sal kliënte effektief bedien kan word met ʼn span wat steeds toegespits is op goeie diens.
Smit verduidelik dat die lekkerste deel van die projek die personeel se trots is, omdat hulle deel van die projek is. “Dit is asof daar nuwe lewe in die tak is: dit is altyd lekker om passie te deel en die inkoop van personeel maak dit beslis die moeite werd. Met ʼn personeelkorps wat die uitdagings as geleenthede aangryp word die operasionele uitdagings baie min.”
Die span sien uit om ʼn handelstak te bestuur wat volledig ingerig is en vir baie kliënte daagliks ʼn uit-die boeke-koopervaring te kan gee.