Duwayne: die buffel wat die graanmark tem
As jy van Kimberley in die rigting van Douglas ry, lyk die wêreld groot en leeg – die soort leeg wat ‘n mens aan die Karoo se sterrehemel herinner. Maar vir Duwayne Buffel, ‘n jong man met ‘n droom en ‘n graad van die Noordwes Universiteit in sy sak, was daardie pad vol beloftes. Vandag is hy een van GWK se opkomende sterre – ‘n afgeleide instrumenthandelaar, oftewel iemand wat graanprodukte (mielies, koring, sojabone en sonneblom) oor markskuiwe laat dans.
Maar hoe begin hierdie storie? Soos enige goeie vertelling, met ‘n sprankie hoop – die YES For Youth-program. YES, vir diegene wat nog nie weet nie, is die afkorting vir Youth Employment Service, ‘n regeringsinisiatief wat jongmense ‘n platform bied om hul tande in die wêreld van werk te sny. Duwayne, afkomstig van Kimberley – en toe pas klaar gestudeer – het in 2020 deur hierdie program by GWK op Douglas begin.
Hy vertel: “Dit was my eerste keer in ‘n professionele omgewing en ek was elke dag baie opgewonde om werk toe te kom. Ek het élke dag iets nuuts geleer.”
In sy eerste jaar het hy ‘n Safex-eksamen aangepak, ‘n toets wat enigeen wat graan in Suid-Afrika wil verhandel, moet slaag. Hy woon nog gereeld kursusse by om op hoogte van die ontwikkelende mark en sy strategieë te bly. So byvoorbeeld het hy onlangs kursusse in gevorderde Excel, tegniese analise en prysaksie-analise kafgedraf.
Maar wat doen ‘n graanhandelaar dan nou eintlik?
“Dink aan graan soos jy aan aandele dink,” verduidelik Duwayne. “Jy koop dit, verkoop dit, en soms hou jy dit vas – net totdat die mark jou toelaat om ‘n wins te maak.” Maar, dit is nie sommer net ‘n speletjie nie. Duwayne werk met produsente regoor die land, hou markneigings dop en gee raad oor wanneer om watter ton op te tel en te verhandel.
Dit is egter meer as net getalle en tonne – dit gaan oor mense. Elke dag bel produsente hom vir raad oor pryse en markomstandighede. Sommiges wil weet of dit die regte tyd is om hul mielies te prys, ander wil net hoor of die volgende seisoen hul beursies voller gaan maak. Duwayne se werk is om antwoorde te gee en boere te ondersteun in ‘n mark wat net so wisselvallig soos die reën kan wees.
Waar hy deesdae weer uit Kimberley werk, begin Duwayne sy dag met ‘n videoboodskap wat hy na GWK se produsente uitstuur om hulle in te lig oor die vorige dag se markbewegings, en oor die dag wat voorlê. Sy raad is ‘n mengsel van internasionale handelsdata, plaaslike voorspellings en sy eie waarnemings. Daarna volg ure van oproepe, kontrakte, en verhandeling. “Die werk is interessant,” vertel hy, “want in die graanbedryf bly dinge nooit dieselfde nie. Die goed verander elke dag!”
Dit is presies wat die graanmark so uitdagend maak. Vandag se reën kan môre se prys laat daal en oor ‘n week kan internasionale wisselkoerse dinge omverwerp. Toe die oorlog in Oekraïne begin het, vertel hy, het dit byvoorbeeld ‘n groot invloed op koringpryse gehad, omdat ons koring uit Rusland invoer. Die onlangse herverkiesing van president Donald Trump gaan ook ‘n beslissende rol in ons markte speel, onder meer weens sy planne om sekere handelstariewe in te stel. So moet Duwayne op sy tone bly, nie net met nuusbronne nie, maar ook deur telefoongesprekke met produsente en gereelde veldbesoeke wat hom die groter prentjie bymekaar help sit.
Van YES tot JA!
Duwayne se storie herinner ‘n mens dat sukses met ‘n kans begin. Maar ‘n kans alleen is nie genoeg nie. Gelukkig het Duwayne ook die ander bestanddele gehad – ‘n tikkie mentorhulp, ‘n tasbare passie vir sy werk, hande wat skrik vir niks en ‘n houding wat sê: “ek kan”!
Duwayne Buffel is ‘n bewys dat harde werk, soos ‘n goeie oes, altyd vrugte afwerp.
*Artikel saamgestel deur Mariette Olwagen