Finale goedkeuring vir samesmelting tussen VKB en GWK
Die goeie nuus is onlangs gedeel dat die samesmelting tussen VKB en GWK finaal goedgekeur is deur die relevante regulatoriese owerhede, insluitend die mededingingsowerhede, nadat daar aan die transaksie se laaste opskortende voorwaardes voldoen is. Dit beteken dat die twee landbougroepe vanaf 31 Mei 2023 in ʼn nuwe saamgestelde groep funksioneer.
ʼn Gesamentlike kennisgewing en uiteensetting van die finalisering van die skema is beskikbaar gemaak op VKB en GWK se webtuistes, waar meer inligting beskikbaar is.
Die aankondiging volg ná die Mededingingstribunaal op 21 Desember 2022 die samesmelting tussen VKB en GWK goedgekeur het, met bepaalde voorwaardes wat deur VKB en GWK aanvaar is, kort ná ʼn aanbeveling van die Mededingings-kommissie ten gunste daarvan.
Die gesprekke tussen die twee maatskappye het reeds in Julie 2020 afgeskop, waarna GWK se aandeelhouers op 11 Augustus 2022 ten gunste van die samesmelting gestem het en VKB se direksie die transaksie vroeër gedurende 2022 binne hul mandaat goedgekeur het.
Die samestelling en ontwerp van die transaksie is gedryf deur afgevaardigdes van VKB en GWK, in samewerking met ʼn eksterne, onafhanklike korporatiewe adviseur, Pallidus, om ʼn ooreenkoms saam te stel wat verseker dat albei partye beskerm en bevoordeel word. Die afgevaardigdes van VKB en GWK het krities gaan kyk na verskeie aspekte, onder meer sinergieë in terme van maatskappykultuur en -struktuur, ʼn gedeelde visie om landbou verder te bevorder, die behoud van ʼn besigheid in produsentebesit en die voortsetting van gehalte ondersteuning aan boere op plase.
PG Strauss, die VKB Groep se besturende direkteur, sê dat hy uitsien na die positiewe impak wat die saamgestelde groep op Suid-Afrikaners gaan maak deur vooruitgang te ondersteun en te inspireer met die groep se betrokkenheid in landbou en die voedselbedryf.
“Dit is belangrik dat die posisionering en groepering van onderskeie besighede én handelsmerke in die saamgestelde groep reg is sodat die diens aan kliënte in elke area optimaal is,” sê Strauss.
Strauss sê verder dat die fokus nou gaan wees om die integrasieproses met die nodige omsigtigheid te hanteer, “terwyl ons resultate oor die hele groep bly lewer in terme van kliëntediens, gehalte produkte en finansiële prestasie. Die onderskeie bestuurspanne van VKB en GWK kan nou die proses van integrasie sáám vorentoe dryf en soos die proses ontvou kommunikeer met ons aandeelhouers, kliënte, personeel en ander belangegroepe om hul deurlopend op hoogte van vordering te hou.”
Llewellyn Brooks, die GWK Groep se besturende direkteur, sê dat hierdie samesmelting nou ʼn unieke gediversifiseerde en volhoubare produsent-beheerde landbougroep skep.
“Ek sien uit na dit wat ons nóú kan begin bou en die geleenthede wat dit vir ons kliënte, personeel en ander belanghebbendes gaan bied in die toekoms,” sê Brooks. “Die saamgestelde groep het ʼn wye voetspoor wat verskeie effektiwiteite sal onsluit in terme van onder meer besigheidsmodelle en infrastruktuur.”
Voormalige besturende direkteur van die VKB Groep, Koos Janse van Rensburg, wat ʼn integrale rol in die transaksie-ontwerp gespeel het, sê hy is opgewonde dat die voorgenome transaksie ʼn werklikheid geword het.
“ʼn Mens kan met genoegdoening terugkyk en uitsien na die toekoms, want ek is oortuig van die potensiaal van hierdie saamgestelde groep, sê Janse van Rensburg. “Ons wil ʼn strategiese vennoot vir produsente wees, wat as ʼn landboubesigheid kan sorg dat produsente volhoubaar hul boerderye kan bestuur.”
“Met ʼn gedeelde visie vir die toekoms gaan die nuwe saamgestelde groep selfs nog meer volhoubaar wees, waarde ontsluit en homself kan vestig as die landboubesigheid van die toekoms,” sê Coenraad Fick, voorsitter van die VKB Groep se direksie. “Die maatskappye het soortgelyke kulture, dieselfde geskiedenis en is in produsentebesit.
Nicolaas Kruger, voorsitter van GWK se direksie, sê die samesmelting bied ʼn unieke geleentheid om die maatskappye as ʼn eenheid nóg sterker te maak.
“Die bedryfsomgewing is baie kompleks en uitdagend, so besighede moet voortdurend na hulle strategieë kyk sowel as hoe om dit die beste te implementeer,” sê Kruger. “Organiese groei is dikwels ʼn goeie metode om vorentoe te beweeg, maar van tyd tot tyd kom daar ʼn geleentheid om ʼn kwantum-sprong te maak.”
Mediaverklaring