NK RPO: Organisasie se vooruitgang lê by produsente
Tydens Juniemaand het die Noord-Kaap Rooivleisprodusente-organisasie (NK RPO) sy jaarkongres in Kimberley aangebied. Ten spyte van ysige weer het insiggewende gassprekers die groot gehoor toegespreek oor onder meer die stand van sake met rooivleis en dié produk se potensiaal in Suid-Afrika.
Die gassprekers by die 2023-kongres het dr. Henno Havenga (klimatoloog van Noordwes Universiteit), Gerhard van der Burg (Bureau for Food and Agricultural Policy – BFAP), Corine Steyn (RPO Nasionaal) en dr. Johan van der Merwe (Agricultural Market Trend – AMT) ingesluit. Waarnemende voorsitter van die NK RPO, Koning Scholtz, is ook tydens die kongres tot voorsitter verkies.
Van die gassprekers by vanjaar se Noord-Kaap RPO-kongres was (van links) dr. Johan van der Merwe, Koning Scholtz, Gerhard van der Burg, Henno Havenga en Julize Volschenk (NK RPO).
“Hierdie is ons organisasie en die toekoms van hierdie organisasie berus in die produsent se hande, kom ons neem dit saam na die volgende vlak,” was die mening van Scholtz gedurende sy voorsittersrede. Hy vertel verder dat die RPO as ʼn organisasie ʼn padkaart moet opstel om sy drome en rigting vir die toekoms te bepaal en na te jaag.
“Die afgelope jaar was ʼn uitdagende een vir die rooivleisbedryf en die Noord-Kaap. Die RPO moet ʼn padkaart skep om te bepaal hoe ons die doelwitte en doelstellings van ons 2030-visie vir die rooivleisbedryf gaan bereik. Een só ʼn geleentheid wat reeds geïdentifiseer is, is om die beesvleisuitvoere van 4% tot 20% te laat groei, terwyl skaapvleis van 1% tot 6% kan styg.”
Volgens Scholtz is hierdie slegs een van die geleenthede wat die Nasionale RPO met albei hande moet aangryp. “As ons ʼn sterk globale speler wil wees, wat hoër en meer stabiele pryse vir produsente bied, moet ons op uitvoere fokus. Hierdie markte benodig die voorsiening van ʼn volhoubare gehalte produk. Dit is waar ons belangrike industrievennote soos agente, voerkrale en abattoirs inkom, want wie anders gaan hierdie plan suksesvol uitvoer?”
Die implementering van ʼn volhoubare en akkurate naspeurbaarheidstelsel (LITS) duur voort en hier word steeds baie aandag benodig. “Die implementering van die naspeurbaarheidstelsel is uiters belangrik en ek glo die Noord-Kaap kan leiding neem hiermee en die RPO nasionaal help om vinniger die groter wêreldmarkte te betree.”
Koning Scholtz is tydens die kongres amptelik aangewys as die NK RPO se voorsitter.
Scholtz het ook aan kongresgangers die uitdagings rondom veediefstal verduidelik en klem gelê op watter vereistes en verantwoordelikhede by die produsente berus. “Ons moet staat maak op die verskillende veediefstaleenhede om ondersoeke af te handel en die proses tot op die einde te help dryf. Produsente se verantwoordelikhede sluit in die nodige tatoeëring en brandmerk van diere om die uitken van gesteelde vee te vergemaklik.”
Corine Steyn (Nasionale RPO: maatskappysekretaris) gesels oor die nuwe statuêre heffings.
Dr. Henno Havenga, klimatoloog van die NoordwesUniversiteit, het op sy beurt die uitdagings van aardverwarming en spesifieke toekomsmodelle vir die Noord-Kaap met kongresgangers bespreek. Volgens Havenga is die mening van wetenskaplikes dat die landbousektor in Suider-Afrika binne die volgende 50 jaar negatief beïnvloed gaan word deur klimaatsverandering.
“Interessante navorsing wys vir ons wat die moontlike impakte op Suider-Afrika se landbousektor sal wees indien die gemiddelde temperatuur met slegs twee grade verhoog word,” sê Havenga. “Die studie verwag tussen ʼn 40 tot 60% afname in produksie teenoor die huidige opbrengste wat behaal word. Indien die gemiddelde temperature met vier grade styg, verwag die wetenskaplikes dat daar ʼn afname van tot 80% in Suid-Afrika se produksie gesien kan word.”
Havenga het ʼn Noord-Kaapse studie gedoen waar hy op die gemiddelde reënval en temperature fokus en ʼn voorspelling maak met die oog op die provinsie se realiteite teen die jaar 2070. “My data en navorsing het gewys dat die gemiddelde temperatuur vir die Noord-Kaap met tussen 2,5 en 3 grade sal styg, dit terwyl daar ʼn afname in reënval ook aangedui word.”
Corine Steyn, maatskappysekretaris van die Nasionale RPO, het vertel wat presies die statutêre heffing die RPO in staat stel om te doen. “Die RPO wil gefokus wees op dienslewering. Een van die belangrikste fokusareas vir die organisasie is die van dieregesondheid. ʼn Groot gedeelte van die nuwe statutêre heffing gaan aangewend vir dieregesondheid. Verder fokus ons ook op vleisveiligheid, invoere en uitvoere, asook produksieontwikkeling, wat primêr op die RPO se terrein lê. Natuurlik het naspeurbaarheid ook deel van hierdie pakkie geword en dit is belangrik om te onthou dat daar aanvanklik op hierdie areas gefokus is. Soos die bedryf se behoeftes verander of bykomende dienste benodig word, kan die aanwending van die heffings ook aangepas word.”
BFAP se Gerhard van der Burg het tydens sy praatjie gefokus op die rooivleisbedryf se visie vir 2030. Die visie is geskep om die tekortkominge van die bedryf te identifiseer en aan te spreek. “Die punte waarop daar gefokus word vir hierdie visie is eerstens groei, en die insluiting van die boere in die informele nedersettings wat lewendehawe besit. Die groei waarna ons verwys, is primêr gefokus op 20% groei en die betreding van verskeie wêreldmarkte. Meer as ʼn miljoen informele huishoudings in Suid-Afrika is in die lewendehawebedryf en dit verteenwoordig ʼn enorme 40 tot 50% van die nasionale kudde. Die impak wat landbou kan hê tot die bydrae van transformasie is ʼn groot geleentheid in die bedryf.”
Deur Frans le Roux