Agbiz: Volhoubare groei in ʼn veranderende landskap
Vir twee dae het afgevaardigdes van regoor Suid-Afrika se agri-landskap deelgeneem aan Agbiz (Agricultural Business Chamber of South Africa – ʼn vrywilligersorganisasie vir agribesighede) se jaarlikse kongres wat van 5 tot 7 Junie by Sun City aangebied is.
Die tema van vanjaar se kongres was Sustaining Growth in a Changing Global Landscape en het ʼn belangrike platform geskep vir die bespreking van plaaslike en globale uitdagings wat bedrywe in die landbousektor beïnvloed. Daar is op die kongres diep gedelf in ʼn reeks kwessies, wat strek van politieke onsekerheid tot geopolitieke wrywing wat kop uitsteek en maniere om landboumarkte uit te brei.
VKB Groep aktief betrokke by georganiseerde landbou
Verteenwoordigers van die VKB Groep, wat GWK, VKB en NTK insluit, het die kongres bygewoon. Neil de Klerk, GWK Streeksdirekteur vir die VKB Groep, het ʼn paar punte uitgelig wat veral vir die maatskappy en bedryf belangrik is. Die grootste hoogtepunt was vir hom die internasionale sessie. “Daar is geleenthede in Afrika en daar is kundige mense wat weet waar daardie geleenthede lê,” sê hy.
De Klerk sê verder die groeivooruitsig vir Suid-Afrika is problematies.
“ʼn Negatiewe per capita-groei word verwag vir die volgende paar jaar. Op ʼn meer positiewe noot, het dr. David Fowkes van die Suid-Afrikaanse Reserwebank genoem dat ons ekonomie ongewoon veerkragtig is, veral as ʼn mens in ag neem watter uitdagings dit gereeld moet oorkom.”
De Klerk sê verder dat prof. Mzukisi Qobo uitgewys het dat die Europese Unie (EU) homself toenemend as ʼn “globale regulatoriese entiteit” sien in terme van volhoubaarheid. Hierdie regulering sal ál meer fokus op arbeidsaangeleenthede, ook in logistiek, sowel as regulasies op agro-chemiese middels, wat tans en toenemend belangrik is in die landboubedryf. Die EU positioneer homself teen “polities onvriendelike” lande, wat kommer oor internasionale verhoudinge wek. Qobo is Suid-Afrika se verteenwoordiger by die WTO (World Trade Organisation).
Volgens De Klerk is daar tydens die ESG (environmental, social and governance issues)-sessie ʼn belangrike kwessie aangeraak: die duidelike definiëring van wat volhoubaarheid werklik beteken.
“ʼn Uitdaging in die vooruitgang van ESG is dat boere op die oomblik nie deel is van die sirkel waarin die werk gedoen word om ESG-strategieë in korporatiewe strukture te ontwikkel nie. Boerderybedrywighede moet ʼn integrale rol in die ontwikkelingsproses speel,” sê De Klerk.
“Die samestelling van sprekers en die onderwerpe waarop daar tydens die sessies gefokus is, het huidige uitdagings weerspieël,” sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz. ʼn Groot fokuspunt was die land se infrastruktuur en die impak daarvan op die sukses van landboubedrywighede.
Food for Mzansi berig dat infrastruktuur-ontwikkeling van kardinale belang is vir Suid-Afrika se ekonomiese en sosiale vooruitgang. Dit sluit onder meer waterbestuur, hawens en spoorvervoer in, wat ekonomiese groei en werkskepping positief sal beïnvloed.
Water en infrastruktuur
Die vise-direkteur vir regulasies en voldoening van die departement van water en sanitasie, Xolani Zwane, sê dat die aptyt vir die bou van nuwe damme wel bestaan in die regering, maar dat befondsing die grootste uitdaging is. “Die regering is besig om verskillende befondsingmodelle te ondersoek,” sê hy. “As ons dít kan regkry, sal ons die projekte kan uitrol waarvoor daar so ʼn dringende behoefte is.”
Wat spoorvervoer betref, sê Rudi Dicks, hoof van projekbestuur vir die presidensie, dat samewerking die sleutel is tot volhoubare projekte en vennootskappe. Hy sê dat samewerking die riglyn is waarvolgens die regering die logistieke bedryf benader en gebruik die voorbeeld van die energiekrisiskomitee wat daarin geslaag het om beurtkrag vir 60 dae op te skort.
Dicks sê verder dat die regstelling van die agterstand by hawens krities is vir Suid-Afrikaanse uitvoere.
“ʼn Lang termyn volhoubaarheidsplan is die eerste stap in hierdie regstelling en om effektiwiteit by hawens te verseker. Dit is belangrik dat ons publieke-private vennootskappe toelaat – dit is die enigste manier hoe ons die privaat sektor kan betrek om in die ontwikkeling van infrastruktuur te belê.”
Volgens dr. Andrew Shaw, vir strategie en beplanning by Transnet verantwoordelik is, is daar reeds hawens in die land waar Transnet derdepartye toelaat om die organisasie met agterstande te help.
Die feit dat sektore in silo’s werk, is ʼn ander uitdaging, volgens Zeph Nhleko (hoofekonoom van Development Bank South Africa). “Ons hoop dat die nuwe regering een infrastruktuursentrum in plek sal stel wat sal fokus op alle infrastruktuur-verwante projekte, sodat daar ʼn aanduiding is van hoe die land vorder in terme van ontwikkeling,” sê hy.
Hoof uitvoerende beampte van Agbiz, Theo Boshoff, sê dat Agbiz se jaarlikse kongres ʼn sleutelgeleentheid geword het in die landboukalender.
“Hierdie jaar se tema het gaste belangrike insigte gegee oor hoe om opkomende neigings te navigeer, soos geopolitiese onsekerheid en beleidsbeperkinge op handel,” sê Boshoff oor die uitdagings wat boere en landboubesighede ervaar.
De Klerk haal vir Kallie Schoeman van Schoeman Boerdery aan in sy oorsig oor die kongres: “There are three choices in business: get bigger, get better, or get out.”
*Bronne:
- agbiz.co.za
- foodformzansi.co.za