GWK Handel in Kimberley kry spoggerige nuwe baadjie
Die GWK-handelstak in Kimberley het ʼn splinternuwe voorkoms ná verskeie opknappings gemaak is. Die inwyding en bekendstelling van die nuwe tak is op 28 Junie saam met ʼn wye verskeidenheid van uitstallers en verskaffers, sowel as media-ondersteuning van OFM gevier. Die opgradering van hierdie handelstak is ʼn groot mylpaal vir GWK, wat as deel van ʼn driejaarplan na een standaard vir alle GWK-handelstakke streef.
Die handelstakgebou is aan die binnekant opgeknap en uitgeverf. Die winkel het ʼn splinternuwe bemarkerstoonbank in die middel van die winkel wat nie net funksioneel is nie, maar ook as ʼn sentrale punt vir kliëntediens en produkinligting dien. ʼn Nuwe betaalpunt is ook prakties ingerig om kliënte vinnig en gerieflik te help. Daar is ook splinternuwe rakke in die winkel wat produkte beter vertoon en die winkelervaring vir besoekers verbeter.
Verskaffers het tydens die openingsgeleentheid ʼn groot verskeidenheid produkte aangebied wat strek van dieregesondheid tot tuinbou en wyn. Ryno Rall, Bestuurder van GWK Handel in Kimberley, is baie tevrede met die positiewe terugvoer van kliënte oor die winkel se moderne uitleg en gevoel wat ʼn verwelkomende atmosfeer skep, tesame met ʼn praktiese uitleg wat dit maklik maak om produkte te bereik. Die dag het ʼn feestelike atmosfeer gehad en OFM se teenwoordigheid het vir ʼn toename in die aantal voetverkeer gesorg.
Verskeie aktiwiteite en kompetisies het deur die loop van die dag plaasgevind. ʼn Wynproe-stalletjie het besoekers die geleentheid gegee om plaaslike wyn te geniet terwyl hulle die nuwe winkel verken. Daar was die geleentheid vir interaksie met verskaffers wat raad en kundigheid met besoekers gedeel het. Die gelukkige trekkings vir kliënte wat aankope doen, het vir baie opwinding gesorg. Verder is daar ook verskeie geskenke aan kliënte uitgedeel terwyl OFM gesorg het dat kliënte wat die dag nie kon bywoon nie, ook in die feestelikheid kon deel.
Christoff Smit, Uitvoerende Hoof van GWK Handel, sê sy hoogtepunt vir die dag was die opgewondenheid en samewerking van die personeel en die trots wat geheers het.
“Ons wil die besluit vir kliënte maklik maak, en met die nuwe moderne atmosfeer in die winkel is die besluit beslis maklik,” sê Smit. Kliëntediens en produkuitnemendheid is die handelstak se sleutel om in die afsienbare toekoms ʼn beduidende rol in die plaaslike ekonomie en gemeenskap te speel.