Magogong-pekanfees: ‘n Jaarlikse tradisie in die hart van die Noord-Kaap
Die jaarlikse Magogong-pekanfees (voorheen die Vaalharts-pekanfees) het weer op 4 en 5 Oktober 2024 die gemeenskap met ‘n naweek van pret, kultuur en sport bederf.
Die fees, wat jaarliks in Magogong in die Noord-Kaap gehou word, het oor die jare heen ontwikkel tot ‘n gesellige byeenkoms waar plaaslike inwoners en besoekers van heinde en ver saam kan kuier en feesvier. Hierdie jaarlikse samekoms is nie net ter viering van die pekanneut-oes nie, maar ook ‘n geleentheid vir allerlei plaaslike ondernemings om hulself aan die publiek bekend te stel.
Die Magogong-pekanfees bied iets vir almal. Vanjaar het die kunstenaars JAN JAN JAN en Bok van Blerk feesgangers behoorlik op hul voete gehad. Een van die fees se grootste trekpleisters is egter die perdeskou, met sowat 190 perde wat vanjaar in verskeie afdelings meegeding het.
Die perdeskou lok elke jaar ‘n groot skare en bied ‘n geleentheid vir van die land se voorste perde en ruiters om hul slag te wys. Van Suid-Afrika se top-perde het vanjaar deelgeneem, wat die kompetisie en vertoning des te meer indrukwekkend gemaak het. Dit was vir GWK Pecans, GWK se sustersmaatskappy, ‘n voorreg om weer deel van dié perdeskou se feestelikheid en kompetisiegees te kon wees.
Vir feesgangers wat nie die perdeskou bygewoon het nie, was daar steeds hope pret om te geniet by die fees, met verskeie stalletjies en demonstrasies waar plaaslike landbouondernemings hul produkte en dienste kon uitstal.
Die Magogong-pekanfees se gewildheid neem jaarliks toe, en vanjaar se fees het weer gewys hoekom dit een van die streek se hoogtepunte is. Die fees, met sy puik vermaak, sport en warm gemeenskapsgees, sal nog lank dié plek wees waar mense bymekaarkom om die Noord-Kaap op sy beste te beleef.
*Artikel saamgestel deur Mariette Olwagen