Danie se kundigheid skitter by GWK Pecans

As die natuur, landbou, en plaas nou maar een keer deel van jou is, dan bly dit deel van jou. Danie Janse van Vuuren, Spesialis-produksiebestuurder van GWK Pecans, is ʼn voorbeeld van iemand waarop dit werklik van toepassing is. Hy het as plaaskind in die Parys-distrik in die Vrystaat grootgeword en is van kindsbeen af stewig in landbou gewortel. Sy presiesheid, opgewekte geaardheid en lewenslus maak van hom die tipe kandidaat wat die produksiebedryf, waarin hy homself lewenslank bevind, nodig het. Ná ʼn paar draaie het hy in 2018 by GWK in die Noord-Kaap aangesluit.
Kommuniek het onlangs die voorreg gehad om met Janse van Vuuren te gesels oor sy persoonlike en professionele geskiedenis, asook die unieke uitdagings en vreugdes van sy loopbaan.
Janse van Vuuren het in Parys gematrikuleer en daarna die produksiebedryf betree, waar hy vir die Caxton-groep gewerk het. Hy het toe besluit om na sy landbou-agtergrond terug te keer en het verskuif na landboukonstruksie in Upington in die Noord-Kaap. Hier was hy betrokke by die ontwikkeling en uitleg van wingerdblokke en ook die span van nette oor uitvoer-tafeldruiwe. Hierdie werk het baie reis geverg, daarom het hy besluit om by die pekanneutbedryf betrokke te raak, waar hy tot vandag toe is.
Janse van Vuuren het in 2015 by Kalahari Pecans (later Kalahari Desert Products) se kraakaanleg in Upington begin werk waarna dié maatskappy en GWK in 2018 saamgesmelt het. Dit staan vandag as GWK Pecans bekend.
Volgens Janse van Vuuren behels sy werk by GWK Pecans die bestuur van alle fasiliteite van waar produsente se pekanneute ontvang word, tot dit gereed vir uitvoer is. Hierdie proses sluit die gehaltebeheer- en bestuur van die neute, veiligheid van werkers, effektiewe en akkurate verwerking, en die hantering van gesondheidsinspekteurs in.

Danie Janse van Rensburg voor die inname depot van GWK Pecans in Upington.
Hy vertel meer oor die behoeftes van pekanneutbome en dat ʼn sekere hoeveelheid koue-eenhede in die winter nodig is om blare te verloor en te oes. Die bome het ook genoeg hitte en vog of water in die somer nodig.
“Hier speel die streek waar jou pekans geplant is ook ʼn baie groot rol,” sê Janse van Vuuren. “KwaZulu-Natal en Limpopo het baie bewolkte dae en soms geen sonskyn nie, terwyl die Noord-Kaap weer gereeld sonskyn het, maar minder reën. Die grootste uitdaging van pekans is die natuur, omdat elke seisoen uniek is, en die feit dat jy nie weet wat binne die dop aangaan tot dit oopgekraak is nie. Ek is veral opgewonde oor die Oranje-streek (van Prieska, Groblershoop, tot Upington) se oes hierdie jaar. Die neute is groot en die gehalte is uitstekend.”

voor die inname depot van GWK Pecans in Upington.
Sy dag-tot-dag take bestaan onder meer uit baie beplanning om te verseker dat produsente tevrede bly. Juis daarom is kommunikasie, hoë standaarde, en uitstekende diens ʼn prioriteit. Daar is nie grys areas wanneer dit by die gehalte van pekans kom nie. Dit is óf reg óf verkeerd en daarom is dit belangrik om van die begin af reg te werk.
“My uitdaging is nie net om die neute aan die anderkant te kry nie, dit moet ook perfek daar aankom,” sê Janse van Vuuren. “Dit is soos ʼn ketting wat gevorm word tussen die produsent, GWK Pecans, uitvoermarkte, en verbruikers. Ons het mekaar nodig. Ek sê altyd vir my span, jy het nét een kans om ʼn neut te kraak. As dit die eerste keer verkeerd is, dan het jy ʼn probleem. Doen dit van die begin af reg.” Dit is ook die ingesteldheid waarmee die span op Upington elke dag hulle werk aanpak om uiteindelik die beste produk te kan lewer.
Janse van Vuuren vertel dat die gebruik van masjinerie en tegnologie die sorteringsproses baie vergemaklik. Dit is masjiene wat die sorteringsproses hanteer om neute van blare, sand en takke te skei. Verder is daar skandeerders en poppers wat die neut van sy omhulsel en op grond van gewig skei. Die pin sorter (naald) druk die neut op sy natuurlike naat oop en dop die neut dan uit. Laastens is daar dan ook ʼn sizer wat die neute volgens omtrek klassifiseer. Hierdie tegnologie maak dit moontlik om groot hoeveelhede neute akkuraat te verwerk.
Oestyd in die landboubedryf is baie besig en daar word lang ure gewerk, maar wanneer daar oor naweke en buite oestyd tyd vir ontspanning is, geniet Danie, sy vriende en familie dit om 4×4-roetes te verken, te kamp, en in die Oranjerivier te vlieghengel. Danie geniet dit om sonsondergange saam met vriende om ʼn braaivleisvuur op ʼn Kalahari-duin te beleef en om oor naweke in die omgewing, Khamkirri of Augrabies te gaan kamp. Die uitdaging, en dan ook die bevrediging, as jy dit regkry om ʼn grootbekgeelvis met vlieghengelgerei te vang, is vir Danie ʼn hoogtepunt.
“Wees wie jy is, en doen wat jy doen tot die beste van jou vermoëns,” som Danie sy lewensleuse op.