Swak 2023-opbrengs vir Choctaw
Die 2022/23-seisoen was ʼn moeilike een vir baie van ons Noord-Kaapse pekanneutprodusente. Die totale opbrengste het oor die algemeen met ʼn gemiddeld van ±40% afgeneem. Dit is saam met die bydrae van die jonger aanplantings wat steeds in produksie kom. Choctaw se opbrengs is oor die algemeen met ʼn gemiddeld van ±70% af. Volgens SAPPA (South African Pecan Nut Producers Association) is daar net onder 32 000 ton pekanneute in die vorige jaar (2021-2022) geproduseer. SAPPA se tonne vir dié seisoen (2022-2023) is nog nie bekend nie, maar dit gaan aansienlik minder wees. Daar word geraam dat in die omgewing van 23 000 ton pekanneute gaan wees. Opbrengste wissel natuurlik van produsent tot produsent en van area tot area, aangesien daar baie faktore is wat ʼn rol kan speel.
Meeste kultivars se opbrengste was af, behalwe Western. Dié kultivar het by meeste produsente goed gevaar in die 2022/23-seisoen. Choctaw het oor die algemeen die meeste teleurgestel in opbrengs.
Dit is belangrik om te gaan kyk na die seisoen wat verby is en gevolgtrekkings te maak. Wat kon die oorsaak wees vir die groot afname in opbrengs? Daar is natuurlik baie faktore wat ʼn rol kon speel.
Die eerste faktor waarop gefokus kan word, is ʼn omgewingsfaktor, soos byvoorbeeld klimaat, aangesien die afname in opbrengs oor ʼn groot area voorgekom het (Noord-Kaap). Hael gedurende die vorige seisoen het ʼn rol gespeel, maar dit was nie die hoofoorsaak vir die groot afname in opbrengs nie. Daar is sommige produsente wat beweer dat lae temperature tydens bot en blom ʼn rol kon speel (Oktober 2022). Wanneer die temperatuur onder ongeveer -2°C daal, kan koueskade deur bome wat bot en blomme het, ervaar word. Dit lei later tot neutspeen, wat opbrengs beïnvloed. Volgens grafiek 1 lyk dit nie of lae temperature ʼn rol gespeel het nie. Laasgenoemde maak sin, aangesien geen rypskade in die veld opgemerk is nie.
Aangesien Modderrivier se weerstasie goeie data het, is besluit om op grafieke van daardie area te fokus vir ontledingsdoeleindes.
Grafiek 1
Dit kan egter ook te warm wees tydens bestuiwing, wat kan lei tot neutspeen. Volgens grafiek 2 lyk dit egter ook nie of die temperatuur te hoog was om bestuiwing te benadeel nie.
Pekanneute het ʼn sekere hoeveelheid sonenergie nodig om die neute groot te maak. Indien daar te min ‘son’ deur die seisoen is, kan dit tot ʼn negatiewe invloed op die kwaliteit en opbrengs lei. Dit lyk egter nie of daar iets uitstaan nie, daarom kan die bewolkte weer ook nie die skuld kry nie.
Nadat neutvul klaar is in Maart/April, is die bome redelik uitgeput, veral ná ʼn jaar waar die bome baie neute geproduseer het, soos in 2022. Dit is baie belangrik dat die bome weer optimaal kan fotosinteer in April/Mei om die verlore energie weer op te bou vir die winter en volgende seisoen wat volg. Bome gebruik hierdie gestoorde energie om in die lente goed weg te spring. Wanneer bome in dormansie (slaap) gaan met lae energie, kan dit nadelig wees vir die volgende seisoen se opbrengs. Grafiek 4 toon dat daar ongeveer drie keer vir ʼn aantal dae lae sonstraling was. Dit kan moontlik beteken dat, ná die groot 2022-opbrengsjaar, die bome nie behoorlik kon fotosinteer in Maart/April nie. Daarom het die bome met lae energie dormansie gegaan.
Ons probeer jaar ná jaar opbrengste van bome monitor. Wanneer ʼn mens gaan kyk na die opbrengsdata by een van die produsente, is dit duidelik dat 2022 ʼn besonderse goeie opbrengsjaar was. Wanneer dit met hierdie jaar (2023) vergelyk word, is dit heelwat swakker, veral vir Choctaw.
Wichita boom 1 | Wichita boom 2 | Choctaw boom 1 | Choctaw boom 2 | |
2022 gem/ kg/ boom | 37 | 43 | 53 | 53 |
2023 gem/ kg/ boom | 12 | 12 | 4 | 5 |
Hoekom was die opbrengste so goed in 2022 en swak in 2023?
Wanneer boomgewasse een jaar baie vrugte produseer, gevolg deur ʼn jaar waarin hulle minder vrugte produseer, word dit alternatiewe gedrag genoem. Alternatiewe gedrag word ongelukkig by pekanneutbome meer intens ervaar in vergelyking met ander boomgewasse as gevolg van genetika. Alternatiewe gedrag is ʼn groot uitdaging vir die pekanneutbedryf regoor die wêreld. Kultivars variëer ook ten opsigte van hulle neiging om te alterneer. Choctaw is geneig om meer te alterneer weens genetika.
In kort: dit is belangrik om te onthou dat dit baie energie neem vir ʼn boom om ʼn pekanneut te produseer, daarom kan bome net soos mense uitgeput raak.
Persoonlike gevolgtrekking en oplossing
Die vorige seisoen (2022-2023) het met minder en swakker blomme begin. Dit was die rede vir die swak opbrengs jaar in 2023. Pekanneutbome in die GWK-gebied was eenvoudig net uitgeput ná ʼn baie goeie opbrengsjaar in 2022. Dit lyk of sonstraling ʼn invloed kon hê, of tot ʼn sekere mate bygedra het. Persoonlik is ek van mening dat genetika die grootste rol gespeel het.
Opbrengste van pekanneute moet in die toekoms beter bestuur word. Dit is natuurlik nie so eenvoudig nie. Daar moet meer aandag gegee word aan vruguitdunning. Die hoeveelheid neute wat ons bome produseer moet meer egalig gekry word deur middel van vruguitdunning. Voeding is nie alleenlik die oplossing nie, aangesien meeste produsente meer as voldoende bemes, of selfs oorbemes. Die ‘benchmarking’ wat ons doen by van ons presisieprodusente word gebruik om tendense waar te neem en om doelgerigte ondersoeke te doen.
*Bronne:
- Conner, P.J. and Worley, R.E. (2000) Alternate bearing intensity of pecan cultivars, hortsci. Available at: https://journals.ashs.org/hortsci/view/journals/hortsci/35/6/article-p1067.xml (Accessed: 26 September 2023).
- Thompson, M.Y. et al. (2019) Exogenous plant growth regulators show promise for management of alternate bearing in Pecan, hortsci. Available at: https://journals.ashs.org/hortsci/view/journals/hortsci/54/7/article-p1204.xml (Accessed: 26 September 2023).