AgriSA reageer op Eskom se MYPD6-aansoek
Kulani Siweya, Hoofekonoom van AgriSA
Nota: Hierdie artikel is oorspronklik deur AgriSA op hul webtuiste gepubliseer. Die artikel is met toestemming van die uitgewer na Afrikaans vertaal vir Kommuniek, maar die inhoud is onveranderd. Lees die oorspronklike artikel hier: Electricity burden stressed – AgriSA™
AgriSA het, in reaksie op Eskom se veeljarige prysbeplaingsaansoek (MYPD6), aktief aan die konsultasieproses deelgeneem, volledige terugvoer ingedien en namens die Suid-Afrikaanse landbousektor beswaar gemaak.
Eskom se aansoek om aansienlike tariefstygings hou beduidende finansiële risiko’s in vir Suid-Afrika se landbousektor, voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit. AgriSA se voorlegging beklemtoon hierdie bekommernisse, en moedig NERSA aan om die landbousektor se unieke uitdagings te oorweeg en om te verseker dat Eskom se bedryfsuitdagings aangespreek word voordat enige tariefstygings goedgekeur word.
Eskom se tariefstygings: ’n Onvolhoubare las
Eskom se aansoek handel oor toelaatbare inkomstevlakke vir boekjare 2026-2028, wat, indien goedgekeur, tot skerp elektrisiteitstariefstygings sal lei. Hierdie voorgestelde tariewe is ver bo inflasie-aanwysers soos die verbruikersprysindeks (CPI) en die produsenteprysindeks (PPI), wat landbou, ‘n energie-intensiewe sektor, direk raak. Boere maak op elektrisiteit staat vir besproeiing, verwerking, verkoeling en ander sleutelbedrywighede wat noodsaaklik is vir voedselproduksie en verspreiding.
Die landboubedryf is veral sensitief vir energiekoste as gevolg van sy hoë afhanklikheid van krag, wat dit kwesbaar maak vir stygende insetkoste. Enige aansienlike styging in elektrisiteitspryse kan lei tot hoër voedselpryse, laer winsgewendheid vir boere, en kan selfs voedselsekerheid in gevaar stel. Dit is veral kommerwekkend vir sektore soos graan, tuinbou, suiwel en pluimvee, waar energie-intensiewe prosesse ‘n integrale deel van produksie is. Volgens die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) het dié sektor se jaarlikse uitgawes aan elektrisiteit in 2023/24 ongeveer R10,4 miljard beloop, en kom neer op 10-20% in veranderlike koste, wat ongeveer 25% van totale landbouproduksie uitmaak.
Hierdie syfer kan vinnig die hoogte inskiet as die huidige tendens van tariefstygings voortduur. Om dit in perspektief te plaas – elektrisiteitstariewe in 2024 was 264% hoër as in 2011, volgens data van BFAP. Hierdie koste-item verteenwoordig ‘n jaarlikse persentasiestyging van 9%, wat ander landbou-insetkoste en kommoditeitspryse ver oortref (met ‘n jaarlikse styging van 5-6%).
Eskom se bedryfsuitdagings
AgriSA se voorlegging vestig die aandag op Eskom se bedryfsuitdagings, soos gedokumenteer in VGBE, die internasionale energievereniging, se verslag in 2023, wat voortslepende uitdagings in Eskom se bestuur onderstreep. AgriSA beveel sterk aan dat NERSA hierdie uitdagings noukeurig ondersoek, aangesien dit voortgaan om Eskom se finansiële stabiliteit en vermoë om krag op te wek, beïnvloed. Bestuurskwessies, sowel as hoë personeel- en instandhoudingskoste dra ook by tot Eskom se verkwistende uitgawes. Deur die kwessies aan te spreek kan die behoefte aan beduidende tariefstygings verlig, wat elektrisiteit meer bekostigbaar vir alle Suid-Afrikaners sal maak.
Steenkoolverkryging en vlootbenutting: Hou kostes in toom
Nog ‘n beswaar in AgriSA se voorlegging behels Eskom se steenkoolverkrygingspraktyke. Dit is tradisioneel een van Eskom se grootste kostedrywers, met praktyke wat gekritiseer word vir ondoeltreffendheid en hoë koste. Agri SA ondersteun aanbevelings uit die VGBE-verslag, wat pleit vir streng oudits en die nakoming van doeltreffende verkrygingstandaarde.
Verbeterde steenkoolverkrygingspraktyke sal help om buitensporige koste in Eskom se inkomstemodel te versag en die finansiële druk wat na verbruikers oorgedra word, te verminder. Verder was Eskom se vlootbenutting nie na wense nie, wat beide kostedoeltreffendheid en bedryfsuitset beïnvloed het. Die aanspreek van die kwessies kan lei tot beter vlootprestasie, wat die behoefte aan prysverhogings verder verminder.
Gevare vir beleggings en sektormededingendheid
AgriSA het ook kommer uitgespreek oor die impak van stygende elektrisiteitskoste op beleggings in landbou en mededingendheid. Stygende tariewe, tesame met Eskom se uitdagings, dwing die landboubedryf na alternatiewe energiebronne, soos son- en windkrag. Alhoewel hierdie skuif ‘n volhoubare langtermyn-oplossing vir energie bied, kan dit ook lei tot verminderende afhanklikheid van Eskom se dienste, die verkleining van die nutsmaatskappy se kliëntebasis en die skep van ‘n siklus waar minder kliënte ‘n hoër tarieflas moet deel.
AgriSA se aanbevelings aan NERSA
Gegewe hierdie kritieke bekommernisse, versoek Agri SA dat NERSA Eskom se MYPD6-aansoek in sy huidige vorm verwerp. AgriSA beveel eerder aan dat NERSA maatreëls prioritiseer om bedryfsdoeltreffendheid en kosteverminderings binne Eskom aan te moedig. Deur regulatoriese nakoming af te dwing en te verseker dat Eskom aan beste praktyke in bestuur, verkryging en vlootbenutting voldoen, kan NERSA help om ‘n meer volhoubare tariefmodel te verseker wat aan die behoeftes van alle belanghebbendes voldoen.
AgriSA bepleit tariefstrukture wat Eskom se finansiële behoeftes met billike pryse aan gebruikers balanseer. ‘n Billike tariefraamwerk sal die nadelige impak op die landbousektor versag, sodat dit ekonomies lewensvatbaar kan bly terwyl dit Suid-Afrika se voedselsekerheid en uitvoermededingendheid ondersteun.
‘n Gebalanseerde pad vorentoe
Die finansiële stabiliteit van Eskom is ongetwyfeld van kritieke belang vir Suid-Afrika se ekonomie, maar dit kan nie ten koste van die landbousektor en voedselsekerheid bereik word nie. AgriSA se deelname aan die MYPD6-konsultasieproses verteenwoordig die belange van Suid-Afrikaanse boere en die breër landbougemeenskap wie se bestaan met bekostigbare en betroubare toegang tot energie verweef is. In reaksie op Eskom se aansoek, versoek AgriSA dat NERSA ‘n gebalanseerde benadering volg – een wat Eskom se bedryfsbehoeftes met ekonomiese stabiliteit en bekostigbaarheid vir die landbousektor belyn.
Terwyl NERSA sy besluit oorweeg, bly AgriSA daartoe verbind om in konstruktiewe dialoog betrokke te bly en te pleit vir ‘n tariefstruktuur wat Eskom se finansiële gesondheid ondersteun sonder om die landbousektor se bydraes tot die ekonomie en voedselsekerheid te benadeel. Deur hierdie pogings poog Agri SA om ‘n samewerkende omgewing te bevorder waar Eskom se inkomstevereistes en die behoeftes van Suid-Afrika se landbousektor volhoubaar naas mekaar kan bestaan.