Landzicht-wyn van die maand: Chenin Blanc
Landzicht is nie net bekend vir sy uitstekende soetwyne nie, maar ook vir sy staatmaker witwyne soos Chenin Blanc. Bekostigbaar en veelsydig – ʼn mens kan beslis nie verkeerd gaan met ʼn jong, vrugtige Chenin Blanc nie.
Terwyl Sauvignon Blanc en Chardonnay uiters gewilde witwynvariëteite in Suid-Afrika is, is Chenin Blanc waarskynlik die land se witwyn van keuse. Chenin Blanc is ʼn witwyndruif wat uit die Loire-vallei van Frankryk afkomstig is. Die Franse het dit aanvanklik verbou om vonkel- en soetwyne te maak. Vanweë sy hoë suurheid is die druif egter buitengewoon veelsydig, daarom word dit gebruik om ʼn wye reeks wyne te maak wat onder meer vonkelwyn, droë wyne, versnitte en selfs soetwyne insluit.
In Suid-Afrika is Chenin Blanc histories bekend as Steen. Dit is die land se mees aangeplante druif. Meer as 50% van die wêreld se Chenin Blanc-wingerde is in Suid-Afrika, waarvan die meeste ouer as 20 jaar is, met sommige geregistreerde wingerde ouer as 100 jaar. Hierdie ou wingerde produseer wyne met diep, ryk en gekonsentreerde geure.
Watter disse kan saam met Landzicht Chenin Blanc geniet word?
Chenin Blanc ʼn uitstekende wyn om saam met ʼn wye verskeidenheid geregte opgedien te word. As gevolg van Chenin Blanc se hoër suurheid, sal jy vind dat dit goed pas by kosse met soet en suur elemente. Asiatiese geure pas goed met die ryker en soeter styl van Chenin Blanc.
Aangesien dit ʼn veelsydige wyn is, kan jy Chenin Blanc met ʼn verskeidenheid vleis, sowel as vis kombineer. Jy kan dit byvoorbeeld met geroosterde hoender, varkgeregte en seekos bedien.
Chenin Blanc sal ook goed werk met ʼn verskeidenheid kase. Die kaas wat jy kies, sal afhang van die styl van Chenin wat jy drink, maar ʼn romerige Brie of Camembert, volwasse Cheddar of selfs bloukaas pas bitter goed saam met die meeste Chenin Blancs.
Smaak kenmerke sluit in:
- Mango
- Sitrusvrugte
- Perske
- Pynappel
- Peer
- Heuning
Die warm Noord-Kaapse somer is nou reeds in volle swang. Maak seker jou Chenin Blanc is yskoud, sit ʼn ligte ete bymekaar en skink vir jou en jou gaste ʼn vrugtige glas Noord-Kaapse nektar!
Vind Landzicht hier:
Besoek die kelder in Douglas, of skakel direk met hulle by 053 298 8314 of wynkelder@gwk.co.za vir meer inligting.