Landzicht-wyn van die maand: Cape Ruby
Die droër wynstreke in Suid-Afrika is veral bekend vir sy uitsonderlike soetwyne en ons eie Landzicht-kelder is geen uitsondering nie. Landzicht se reeks soetwyne sluit sewe verskillende opsies vir elke palet in, maar vir hierdie maand fokus ons op die Cape Ruby.
Cape Ruby, oftewel Port, is ʼn bekende Suid-Afrikaanse nageregwyn wat meestal van Ruby Cabernet-druiwe gemaak word. Landzicht se Full Cream Oak Matured (goud) en Wit Muskadel (brons) het onlangs uitstekend by die 2023 Veritas Wyntoekennings gevaar en dit is weereens net ʼn bewys dat soetwyn en droër klimate hand aan hand gaan.
Cape Ruby word ook soms van ander kultivars soos Tinta Barocca of Touriga Nacional gemaak. Vanweë die hoër alkohol- en suikervlakke het Cape Ruby ook goeie verouderingspotensiaal en kan ʼn bottel maklik vir meer as tien jaar gestoor word.
Watter disse kan saam met die Cape Ruby geniet word?
Landzicht se Cape Ruby kan geniet word saam met vrugtekoek, southappies of enige romerige kase. Bedien dit ná ete saam met droëvrugte en neute. ʼn Kouevleisbord en soetwyn sal ook altyd ʼn wenner wees. Jou gaste kan hierdie heerlike Cape Ruby op ys, of as deel van ʼn mengeldrankie geniet.
Smaakkenmerke sluit in:
- Amandel
- Gedroogte rosyne
- Donker bessies
- Karamel
- Vanielje
- Donker sjokolade
Die binneland is steeds vasgevang in ʼn koue winter. Enige soetwyn sal jou aand langs die kaggel beter maak, en Landzicht se groot verskeidenheid beloof om jou perfekte pasmaat vir dié koue aande te wees.
Vind Landzicht hier:
Besoek die kelder in Douglas of skakel direk met hulle by 053 298 8314 of wynkelder@gwk.co.za vir meer inligting.