Agri SA kondig nuwe hoof uitvoerende beampte aan
Agri SA is verheug om die aanstelling van Johann Kotzé as sy nuwe Hoof Uitvoerende Beampte aan te kondig.
Jaco Minnaar, Agri SA-president, het Kotzé gelukgewens en sy opgewondenheid oor die nuwe fase wat voorlê,
uitgespreek.
Kotzé se aanstelling kom op ʼn kritieke tyd in Suid-Afrika se trajek. Ons het leierskap oor verskeie sfere van die groter
Suid-Afrikaanse samelewing sowel as die landboubedryf nodig. In die komende jare sal landbou die gekombineerde
impak van uitdagings soos klimaatsverandering, agteruitgang van infrastruktuur, verval van dienslewering, landelike
veiligheid, verskuiwings in die globale markte en beleidsonsekerheid moet navigeer.
Kotzé het grootgeword in ʼn boeregemeenskap in Noordwes. Hy het later ʼn graad in landbou-ekonomie aan die
Universiteit van Pretoria voltooi, ʼn meestersgraad in besigheidsbestuur en administrasie asook ʼn uitvoerende
ontwikkelingsprogram by die Stellenbosch Besigheidskool.
“Kotzé is ʼn kreatiewe leier met ʼn passie vir boerdery en die volhoubaarheid van die voedselstelsel. Hy bring ʼn
rykdom van ervaring as voormalige landbou bankier in die landbousektor en ʼn bekende leier in georganiseerde
landbou,” sê Minnaar.
Kotzé het sy loopbaan as ʼn boer begin. Daarna het hy ʼn landboubankier by Absa Bank geword. Nadat hy as
korporatiewe bankier in Mosambiek gewerk het, het hy ʼn onafhanklike besigheidskonsultant geword. Kotzé het
teruggekeer na die bankwese en was verantwoordelik vir landbou in Afrika by FNB. Sedert 2017 dien hy as die Hoof
Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAVPO).
“Gedurende my loopbaan het ek geleer dat Suid-Afrikaanse landbou wêreldwye respek geniet vir sy doeltreffende
boerderypraktyke. As ʼn landbougemeenskap moet ons die natuurlike hoop wat Suid-Afrikaanse boere daagliks
uitleef, kombineer met pragmatiese oplossings vir die komplekse uitdagings wat ons in die gesig staar,” sê Kotzé.
“In die toekoms sal ons ons denke oor wat realisties moontlik is in die huidige sake-omgewing, moet uitdaag om
landbou in staat te stel om vennootskappe in die breër sake- en internasionale gemeenskap meer volhoubaar te
benut.”
“In die huidige omstandighede moet ons nie deur frustrasie meegesleur word nie, maar gesamentlik met
innoverende oplossings vorendag kom. Die etos en integriteit van ons strukture moet die nodige klimaat skep vir ʼn
kultuur wat ontvanklik is vir verandering.”
“Ek het die vertroue dat ons as ʼn bedryf ʼn nuwe verhaal kan skryf en die groeipotensiaal van landbou in Afrika kan
ontgin. Toekomstige volhoubaarheid is fundamenteel ʼn vraagstuk van leierskap.”
Kotzé se termyn by Agri SA sal op 1 Oktober 2023 aanvang neem.