GWK en De Meul Boerdery stig opvoedkundige sentrum vir plaaskinders
Minder as ʼn jaar nadat die laaste vroeë kinderontwikkeling (ECD)-sentrum deur GWK in samewerking met boerderye gevestig is, was daar op Dinsdag, 31 Januarie 2023, opwinding oor die derde sentrum van dié aard, Klouter-Bouters, wat by De Meul Boerdery, sowat 20km vanaf Prieska, amptelik bekend gestel is.
Die plaas Remhoogte is die tuiste vir dié splinternuwe sentrum, wat pasmaak is vir die klimaat en behoeftes van die area met deeglike voorbereiding en beplanning wat in elke element ingegaan het. Die moderne gebou is omgewingsvriendelik en maak gebruik van groen-tegnologie soos sonkrag en natuurlike lig. Klouter-Bouters gaan aanvanklik elke weekdag 14 kinders tussen die ouderdomme van twee en vyf jaar akkommodeer, waar ʼn opgeleide opvoedkundige en ʼn assistent sal seker maak dat die kinders gestimuleer word om op ʼn holistiese wyse te ontwikkel. Die kinders sal ook elke dag gebalanseerde etes ontvang wat deur ʼn gekwalifiseerde dieetkundige ontwikkel is en ontbyt, teetydverversings en middagete insluit.
Verder sal daar in die namiddag kinders van die nabygeleë primêre skool, Bloukrans, by die sentrum aansluit vir nasorg, waar hulle ondersteuning met hul huiswerk en later aan gespesialiseerde ontwikkelingsprogramme blootstelling sal kry soos die behoefte ontstaan, wat onder meer insluit lees- en wiskunde-vaardighede.
Marelize de Villiers van De Meul Boerdery, wat namens die De Villiers-familie die projek gelei het, sê die opening van hierdie sentrum is ʼn jare lange droom wat bewaarheid word en gedryf is met die ondersteuning van die hele familie en haar passie vir kinders en opvoeding.
“Hierdie is meer as ʼn skool, maar eerder ʼn sentrum waar bybelstudie, naaldwerk en kinderkrans aangebied word,” sê De Villiers. “Kinders van Remhoogte wat by Bloukrans Laerskool skoolgaan, sal ook in ʼn veilige omgewing kan speel en studiehulp ontvang. Ons visie en droom vir die kinders is om hul vlerke te sprei, om groter te droom en te besef daar is ʼn wêreld daar buite.”
Vir die volgende 18 maande sal Klouter-Bouters ondersteun word deur Zelda Johnson, ʼn geakkrediteerde maatskaplike praktisyn en GWK se koördineerder van hierdie projekte. Sy speel ʼn integrale rol om die onderwysers by al die ECD-sentrums waarby GWK betrokke is, te mentor en met volledige lesplanne by te staan, wat spesiaal ontwikkel is om ʼn wye reeks kritiese vaardighede vir kinders op grondslag, op ʼn praktiese manier, te leer.
Johnson sê vir 2023 het GWK ʼn unieke nuwe leerprogram geskep vir kinders op plase. “Die leerplan is opwindend, baie kleurvol en hope pret,” sê Johnson. “Dit bied ruimte vir vryespel, groot en fyn motoriese aktiwiteite, sowel as sensoriese, visueel-perseptuele en ouditiewe ontwikkeling wat uiters belangrik is tydens die grondslagfase.”
Ná afloop van die 18 maande periode neem die boerdery amptelik die verantwoordelikheid oor, met die GWK-span wat steeds in ʼn raadgewende en ondersteunende hoedanigheid betrokke bly met besoeke een keer per kwartaal, hantering van departementele verslae, asook ondersteuning aan onderwysers en ouers soos nodig.
Die inisiatief om ECD-sentrums te vestig het reeds in 2020 lewe gekry toe die eerste sentrum deur GWK en Genade Boerdery buite Douglas gevestig is, met die doelwit om vanaf grondslagfase ʼn deurslaggewende verskil in die opvoeding van kinders op plase in die Noord-Kaap en ook Suid- Afrika te maak.
Neil de Klerk, GWK se uitvoerende hoof van bemarking en kommunikasie, sê GWK se ambisie is steeds om 100 ECD-skole op plase te vestig in samewerking met boerderye en met die hulp en befondsing van ander vennote wat wil hande vat om dít ʼn werklikheid te maak. Hy noem dat hierdie die derde skool is wat gevestig word en dat elke skool wat geopen word ʼn tree nader aan dié ambisie is, met ʼn rimpeleffek wat van onskatbare waarde is.
“Ons moet gefokus bly om regtig ʼn verskil te maak,” sê De Klerk. “Hierdie skep ʼn ekosisteem wat werk skep vir mense in die gemeenskap, onder meer die mense wat betrokke was by die oprigting van die fasiliteite en nou die onderwyspersoneel. Verder het dit ʼn belangrike impak op die lewens van plaaskinders, wat die geleentheid het om die deur die régte grondslagonderwys en gebalanseerde voeding gereed te wees vir ʼn opwindende toekoms en alles wat daaruit gaan voortvloei.”
Lees meer oor die opening van Kleuter Bouters hier: https://gwkkommuniek.co.za/articles/n-droom-n-visie-n-skool
– Persverklaring