‘n Digitale wêreld vol gevare – en geleenthede
Wanneer die (Kuber)kat weg is, speel bedrieërs baas – en in 2025 is hul kloue skerper as ooit. Van phishing en smishing tot AI-gegenereerde swendelary: kuberbedrieërs gebruik slimmer maniere om ons te mislei.
Waar daar gevaar is, is daar egter ook geleenthede en hoop. Om kubermisdaad hok te slaan, het die VKB Groep in Oktober ‘n aanlyn sessie – Cyber Day 2025 – vir alle werknemers, asook hul gesinne, vriende en kliënte aangebied, met ‘n eenvoudige, maar kragtige boodskap: Nuuskierigheid red die kat!
Die VKB Groep volg die benadering van ‘n skuif weg van vreesgedrewe opleiding na nuuskierigheid-gedrewe aksie. Die beginsel is eenvoudig: Moenie die kat aan die stert beetkry nie, dink of vra voordat jy klik.
Het jy geweet?
- 6 400 000 Suid-Afrikaners was reeds slagoffers van kuberbedrog
- Beleggingsgeleentheid-bedrog neem steeds toe
- Daar is 2 113 kuberaanvalle per week in Suid-Afrika
- 23 445 – die gemiddelde aantal rekords wat tydens ‘n geval geraak word
- Misdadige kuber-aktiwiteite kos die Suid-Afrikaanse ekonomie R2,2 miljard per jaar
- Finansiële-, gasvryheids- en dienstesektore word die swaarste getref
- Slegs 36% van organisasies is voldoende voorbereid
(Bron: iOCO/VKB Groep)
“Bewustheid is nie meer ‘n luukse nie – dis oorlewing,” sê Marius Dreyer, Uitvoerende Hoof van Inligting en Tegnologie by die VKB Groep.
Cyber Day 2025: ‘n Dag vol leer en insig
Met insette van iOCO, een van Suid-Afrika se voorste IT-vennote, het deelnemers waardevolle wenke ontvang oor hoe om persoonlike sowel as besigheidsdata te beskerm.
Dit was nie net ‘n tegniese sessie nie, maar gerig op mense, vrae en praktiese oplossings. Die volgende onderwerpe is in verstaanbare, praktiese taal bespreek:
- Phishing en vals e-posse
- Sosiale manipulasie (social engineering)
- Risiko’s op sosiale media
- Die rol van kunsmatige intelligensie (AI) in kuberveiligheid
Vir dié wat dit gemis het
Indien jy nie die Cyber Day-sessie kon bywoon nie, hoef jy nie bekommerd te wees nie. Ná die sessie is talle vrae gevra en hierdie volledige stel besprekingspunte is beskikbaar as nuttige hulpmiddel wat hier beskikbaar is: Cyber Day Q&A Hulpbron
Of jy nou jou bankrekening, jou plaasstelsels, of jou gesin se toestelle beskerm, nuuskierigheid bly jou eerste linie van verdediging. “Een ondeurdagte klik kan miljoene kos,” sê Dreyer. “Die slimste maatskappye sal dié wees wat kuberveiligheid ‘n gedeelde verantwoordelikheid maak.
Die veldtog moedig almal aan om krities te dink oor wat hulle aanlyn sien, vrae te vra voordat hulle reageer en waaksaam te bly teen bedrieërs, wat al slimmer word. “‘n Nuuskierige (Kuber)kat land gelukkig altyd op sy voete,” sê Dreyer. So word nuuskierigheid jou sterkste skild in die digitale wêreld.
Die VKB Groep se rol en ondersteuning
Die VKB Groep glo dat kuberbewustheid ‘n gemeenskapsverantwoordelikheid is. Deur opleiding, samewerking met tegnologievennote soos iOCO, en toeganklike aanlyn-sessies, word werknemers, produsente en gemeenskappe toegerus om veiliger aanlyn te funksioneer. “Cyber Day gee ons die geleentheid om bewusmaking verder as net ons eie mure uit te brei – na ons kliënte, hul gesinne en die breër gemeenskap,” sê Myrna Viviers van VKB se Inligting- en Tegnologiespan.
Uiteindelik bewys Cyber Day 2025 dat nuuskierigheid nie die kat se ondergang is nie – dis sy redding. So, volgende keer as jy oorweeg om op ‘n onbekende skakel te klik… dink twee keer, klik een keer.
Soortgelyke inisiatiewe word vir 2026 deur die groep beplan. Indien jy egter oor iets twyfel, of meer wil uitvind oor bedrog- of kuberveiligheidsopleiding binne die VKB Groep, kontak die kenners gerus by
itcomms@vkb.co.za
intussen leer die (Kuber)kat nóg meer, vir ‘n volgende keer.

*Lees ook Wees bedrogbewus en bly beskermd











