Lusern-uitvoerbedryf: Dié vennootskap bou waarde
In tye waar voedselsekerheid en, in sommige dele van die wêreld, veevoersekerheid, as strategiese prioriteite beskou word, speel Suid-Afrika se landbouers ‘n ál groter rol om te verseker dat daar aan hierdie behoefte voldoen word.
Veevoersekerheid is heel moontlik die minder bekende boetie van voedselsekerheid vir die algemene publiek, maar is iets wat veral vir markte in die Midde-Ooste van kritiese belang is.
GWK se lusernbesigheid het homself reeds in 2011 gevestig in die nasionale en internasionale (hoofsaaklik die Midde-Ooste en sekondêr China) veevoermark. Oor die jare het die GWK Lusern-span hulself nie net gevestig in die mark nie, maar ‘n mededingende diensaanbod gebou, wat regdeur die waardeketting strek.
Andreas Snyman, GWK se Uitvoerende Hoof van Neute, Bone en Internasionaal, is sedert Julie 2025 ook verantwoordelik vir GWK se lusernbesigheid en som hul benadering eenvoudig op:
“Ons is nie net daar om te koop en te verkoop nie. Ons is daar om die beste waarde vir die produsent te ontsluit en terselfdertyd die kwaliteit aan kopers te gee wat hulle wil hê – gewaarborgde lewering en gewaarborgde kwaliteit.”
Snyman is reeds sedert 1994, nog voor GWK as ‘n maatskappy gevestig is, deel van die besigheid en bring jare se kennis en ervaring in internasionale verhandeling en markdinamika oor ‘n verskeidenheid kommoditeite, onder meer lusern. Hy sê hul fokus is eerstens om hoë gehalte ondersteuning aan produsente te bied – van insette op die plaas, gradering, stoor en logistiek, tot internasionale bemarking en wisselkoersverskansing van hul lusern.
Hand aan hand hiermee is hul fokus gerig op die behoud en bevordering van die kwaliteit van lusern (deur onder meer landboukundige insette), akkurate gradering van die produk, en uiteraard om toegang tot markkanale te skep, vestig, behou en uit te brei.
Ondersteuning aan produsente
“Ons eerste doelwit aan die produsentekant is om diensgedrewe te wees. Ons het spesialis-verkrygers in elke streek – Upington, Douglas, Prieska, Modderrivier, Vaalharts, Christiana, en Bloemfontein – wat tussen produsente beweeg om kundige ondersteuning te bied, lusern aan te koop, die graderingsproses te dryf en te verseker dat die regte waarde van die produk akkuraat bepaal word,” sê Snyman.
Hy noem dat die Noord-Kaap-streek goed bekend is in die mark vir hoë gehalte lusern, vanweë die streek se lae gemiddelde reënval en hoë hitte- en sonligeenhede oor die seisoenstydperk van ongeveer agt maande.
Verder word tegnologie en presisieboerderypraktyke toegepas om die produksieproses te optimaliseer om te verseker dat die maksimumwaarde vir die produsent ontsluit word. Hierdie diens word in samewerking met GWK se Landboukundige Dienste-afdeling aan produsente gebied.
“Ons wil hê produsente moet met behulp van landboukundige insette meer lusern produseer,” sê Snyman. “Dié dienste sluit onder meer advies oor besproeiing, bemesting en chemiese stowwe in, wat produsente help om die maksimumwaarde uit hul grond te onttrek.”

GWK Lusernverkryger, Wickus Fouche, en ‘n produsent skud blad by die Cradock Lusern-skouterrein se baalkompetisie.
Kwaliteit en gradering
Deur gebruik te maak van Near Infrared (NIR)-tegnologie wat die gradering en gekoppelde waarde van lusern akkuraat bepaal, word verseker dat produsente vir die werklike gehalte vergoed word én dat die kopers die gehalte produk ontvang wat hulle kontrakte vereis. Dié NIR-masjiene is op strategiese punte by fasiliteite in die streek gebaseer. Om ‘n konstante en betroubare gradering te waarborg, word dit gereeld gekalibreer en die personeel wat hiermee werk, ontvang spesialisopleiding in monsterneming en gradering.
“Die graad waarteen jy aankoop, is die graad waarteen jy verkoop. So dis tot almal aan die produksie- én verkopekant se voordeel om daardie gradering akkuraat te hê,” verduidelik hy. Hierdie akkuraatheid vermy potensiële verliese en eise, en verseker dat produsente die werklike waarde van hul produk ontvang.
Toegang tot kanale
Die fokus ten opsigte van bemarking is om altyd te verseker dat die regte produk by die regte verbruiker land. Spesifieke kopers het spesifieke behoeftes, en dit is krities dat daar deurlopend hieraan voldoen moet word. GWK Lusern het reeds sedert 2011 ‘n sterk kanaal en handelsmerk op die internasionale lusern-verhoog geskep.
Die internasionale mark vir lusern, veral in die Midde-Ooste en China, is baie afhanklik van lusern as hoë proteïenvoer met uitstekende kwaliteit verteerbare vesel. Die Midde-Ooste se vinnig-groeiende melk- en vleisbedrywe, sowel as China se groeiende melkproduksiebedryf, stel hoë eise aan die gehalte van die produk. Die hoogste grade (supreme en prima) word veral aan dié melkerye verkoop, ter ondersteuning van optimale melkproduksie, terwyl laer grade weer vir ander gebruike aangewend word afhangend van die land of streek.
Terwyl die uitvoermark van groot belang is, is die binnelandse mark ‘n belangrike fokusarea vir lusernbesighede. Daar is ‘n hoë aanvraag na lusern veral in die Wes-, Suid- en Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga – streke waar melkproduksie en veeboerdery prominent is, maar die klimaat nie tipies optimaal vir lusernproduksie is nie.
GWK Lusern se kanaalskepping is gefokus op albei hierdie markte én om dit so effektief moontlik te bedien.

Vennote in die lusernbedryf
Verteenwoordigers van Abu Dhabi Agriculture & Food Safety Authority (ADAFSA) het aan die einde van Oktober 2025 ‘n draai in die GWK-streek gemaak om meer te leer oor die Noord-Kaap se lusernproduksie. Dit het onder meer besoeke aan plase in die streek en GWK se fasiliteite, en meer inligting oor die graderingsprosesse en -standaarde wat toegepas word, ingesluit.
ADAFSA is onder meer verantwoordelik om veevoersekerheid in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) te bevorder en is ‘n kernrolspeler in die veevoerbedryf in daardie area. GWK en ADAFSA het reeds oor jare ‘n verhouding en vennootskap gebou. Die doelwit van hierdie besoek was om verdere geleenthede vir samewerking te ontgin en uit te brei.
“Dit was ‘n voorreg om vir die afgevaardigdes eerstehands die gehalte produk op plase te wys, asook ons prosesse en protokolle. Dit is positief ontvang en ons is opgewonde oor toekomstige samewerking,” sê Snyman.
Ter ondersteuning van die VKB Groep se langtermynbelegging in die buiteland, met onder meer die fokus op lusernverhandeling, is daar ook onlangs ‘n nuwe maatskappy in die VAE gestig, GWK Animal Feeds LLC, wat voortaan direkte handel met kopers in die Midde-Ooste sal help bewerkstellig.
Fyn balans
GWK se lusernbesigheid het sy posisie as een van Suid-Afrika se voorste uitvoerders gevestig deur ‘n fyn balans van tegnologie, kundigheid, akkurate graderings, en langtermynverhoudings. GWK se handelsmerk wat op elke baal prykonk is alombekend vir akkurate kwaliteit en uitstekende waarde. Deur te fokus op die waarde wat aan die produsent gebring word, die betroubaarheid van die gradering, en die regte markontwikkeling, is dié besigheid nie net ‘n handelaar nie, maar een wat waardeskepping wil dryf op verskeie fronte. Dit word gedoen deur produsente te ondersteun met die beste insette, gradering, kanale en diens, en kopers se behoeftes te verstaan en konstant, met akkuraatheid, daarin te voorsien.








