Noord-Kaapse boere ruk op teen beurtkrag
“Dit gaan nie meer oor die geld wat ons verloor nie. Dit gaan oor ons mense wat sonder kos en werk gaan wees.”
Só het Jan-Hendrik Venter, ’n boer van die Douglas-omgewing, Vrydag 20 Januarie 2023 se samekoms van minstens 300 boere en plaaswerkers op dié dorp beskryf. Die gemeenskap het met onder meer trekkers opgeruk en deur Douglas se strate gery om bewusmaking te skep oor die potensiële verwoestende effek van beurtkrag op vanjaar se oeste onder besproeiing.
Produsente van Prieska en Hopetown in die Noord-Kaap het ook in hul distrikte met trekkers en implemente opgeruk om die boodskap te deel.
Talle van die trekkers en ander landbou-implemente in die konvooie het slagspreuke soos “Krag is kos en kos is krag” en “Geen Eskom, geen kos” vertoon.
Ingryping in die krisis word in die dae wat nou voorlê reeds versoek terwyl oeste onder besproeiing in die Noord-Kaap in ‘n kritieke fase is.
Volgens Nicol Jansen, Suid-Afrikaanse leierboer, is landbou een van die grootste werkverskaffers in die Noord-Kaap, en besproeiingsboerdery is ’n kerndeel daarvan. Die werksverliese in hierdie sektor kan katastrofies wees indien daar nie dringend opgetree word nie.
Besproeiingsprodusente se boodskap tydens die verrigtinge was duidelik: hoewel hulle besef dat hulle soos alle Suid-Afrikaners aan beurtkrag blootgestel word, versoek hulled at hul hande gevat word deur hul beurtkrag te beperk in die tye wat hul oeste beskadig kan word; die produsente het benadruk dat daardie tye in die winter, wanneer hulle nie so afhanklik van besproeiing is nie, weer aan die netwerk teruggegee word.
“Ons is verby die stadium wat dit gaan oor geld. Dit gaan oor ons mense,” het Venter tydens sy toespraak voor honderde boere, plaaswerkers en ander lede van die gemeenskap in Douglas uitgebrei.
“Ons reik ’n oop hand uit na die regering en Eskom om te help. Asseblief moenie daai hand wegklap nie. Ons is in ’n krisissituasie. Kom net na die tafel toe sodat ons kan oorleef vir die volgende jaar. Stuur iemand na die tafel toe asseblief. Ons is nie hier om destruktief te wees nie, ons is hier om positief te wees en te help. Daar is nog iets om te red, al wat ons vra is hulp.”
Jansen het gesê die doel van die samekoms is nie om enigiets te ontwrig nie, maar om bewusmaking te skep van die situasie waarin landbou verkeer. “Ons kan nie kos produseer as ons nie krag het nie. Moenie ons (landbou) op ons getalle oordeel nie, maar op ons impak.
“Ons wil vandag die boodskap uitdra dat krag kos is en dat kos weer krag vir Suid-Afrika gee. Die groot uitdagings is dat ons vir ses ure van die dag nie water op die besproeiingsdele kan kry nie. Die lande daar buite is droog. Ons boer agteruit en het dringend weer water nodig om net die grondvog by te kry,” het Jansen gesê.
Jansen het gesê die samekoms van voertuie is nie ’n vertoon van welvaart nie, maar ’n teken van die insetkoste wat nodig is om te boer. “Ons kan nie toelaat dat ’n tekort aan elektrisiteit die basiese mensereg om ’n inkomste te verdien, wegneem nie. Dit is onaanvaarbaar om op hierdie trant aan te gaan en dat daar verkwisting en vermorsing is.”
Gerhard Bruwer, nog ’n besproeiingsprodusent van Douglas, het die hele landbougemeenskap as helde beskryf, maar gesê dat die platteland dringend gered moet word.
“Die son brand jou dood en jy werk tot laat in die nag om te plant. Elkeen is ’n held,” het Bruwer gesê. “As die boere vou gaan ons mense nie werk hê nie en onstabiliteit in die platteland sal volg. Dis hartverskeurend. Dink aan die impak; kerke, skole, besighede. Almal sal tot niet gaan.”
Noord-Kaapse besproeiingsprodusente doen ’n beroep dat alle verskille opsy geskuif word en die nasie saam staan om die nasionale elektrisiteitskrisis die hoof te bied.
Die behoefte is genoegsame ure aaneenlopende krag sodat beplanning en skedulering van beurtkrag op ’n streeksvlak reg vir verskillende sektore gedoen kan word.
Die versoek aan President Cyril Ramaphosa is dringende ingryping in die elektrisiteitskrisis en dat die bepalings en aanbevelings ten opsigte van elektrisiteit soos in Suid-Afrika se landboumeesterplan (Agriculture and Agro-Processing Masterplan, AAMP) dringend geïmplementeer moet word.
– Persverklaring