Gewilde Groentoer binnekort weer hier
Die gewilde GWK Groentoer vind vanjaar op 14 Maart plaas, met Williet Boerdery as die beginpunt. Die Groentoer is ’n spesiale inligtingsdag waar die GWK Landboudienste-span interessante en relevante landboutegnologie-inligting met plaaslike produsente deel. Dit is die vierde Groentoer wat Landboudienste se Johann Sounes reël.
Sounes vertel die fokus is vanjaar op planters. “Kenners van Monosem, Badger, Kverneland en veral John Deere gaan tegniese aspekte van planters met ons deel en demonstrasies hou.”
Sounes sê produsente kan vanjaar uitsien na kort en kragtige vyfminuutpraatjies waar van die borge hul nuwe produkte bekend gaan stel. PG Strauss, besturende direkteur van die VKB Groep, gaan ook ’n interessante sessie oor die toekomstige rol van koöperasie-besighede aanbied.
Wat demonstrasies betref, sê Sounes die seisoen verloop sover baie gunstig en die punte wat hulle plan om te besoek se gewasse lyk baie mooi. “Ons het hierdie jaar ’n paar lande se bemesting baie gelig met die gedagte om die effek op opbrengste te toets. Die mielies lyk baie belowend; so, ons hou duim vas!” Daar is ’n paar mieliekultivars wat moontlik deel van die dag gaan wees.
Daar is ook ’n proef op ’n aartappelland gedoen, en een van die borge gaan daar oor hul nuwe produk praat.
Sounes vertel die Groentoer word gewoonlik goed deur boere sowel as kundiges bygewoon en hy moedig almal aan om vanjaar weer so te maak. “Dit is ’n goeie geleentheid om lekker informeel gedagtes te ruil en te toets. Daar sal natuurlik ook ’n klomp John Deere-trekkers betrokke wees — daar gaan genoeg ysters vir die manne wees!”